Romeine 5: 3-5
Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop…
Vasbyt! Dit is ’n woord wat almal van ons al ’n paar keer in die lewe gehoor het. Die hoop van vasbyt het te doen met die troos dat swaarkry net tydelik is en dinge iewers vorentoe weer makliker sal word. Daarom is dit nou nodig om al jou krag in te span om vas te byt en die moeilike tyd in jou lewe deur te sien.
Dit is dan net totdat die volgende uitdaging weer oor jou pad kom en jy weer op jou tande moet byt om daardeur te kom. Die volharding waarvan Romeine met ons praat, is baie anders as dié soort vasbyt. Dit leer ons dat die Heilige Gees voortdurend besig is om uitdagende tye in groeigeleenthede te omskep.
In 2 Korintiërs 12: 10 lees ons: as ek swak is, is ek sterk. Volharding is daarom iets anders as wanneer ons ons kragte saamspan om uitdagende tye te oorkom. Dit is eerder die geloof dat God se krag voortdurend ons swakheid kom transformeer. Hoe is die Here op hierdie wyse vandag in jou eie swaarkry en swakheid teenwoordig?
Gebed
God, skenk my die kalmte van gees om te aanvaar wat ek nie kan verander nie; die moed om te verander wat ek kan; en die wysheid om die verskil te weet. Leer my om een dag op ’n slag te lewe. Oortuig my dat swaarkry dikwels tot diep vrede lei, en dat genade nie ’n loon is nie, maar ’n geskenk. Help my om my wêreld te aanvaar soos dit is, al is dit nie soos ek dit graag wou gehad het nie. Versterk in my die hoop dat U deur dit alles besig is om my te transformeer. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos