1 Korintiërs 13

Wat is liefde? Is dit ’n gevoel? Is dit iets wat jy vir ander doen? Is dit iets wat net natuurlik vir mense voorkom? Oor die eeue heen was liefde ’n bekende konsep, en dit is nog steeds. Maar almal verstaan liefde anders. Selfs mense van verskillende kulture verstaan dit anders.

In baie Westerse kulture, veral in plekke soos die VSA of Europa (en selfs hier in Suid-Afrika), word liefde geïdealiseer en word dit met individualiteit en persoonlike vervulling geassosieer. Uitdrukkings van liefde sluit dikwels groot romantiese gebare in. 

In Oosterse kulture, soos byvoorbeeld in Japan en Indië, word liefde gesien deur die lens van plig, familie en gemeenskap. Verhoudings word as interafhanklik gesien, en die welstand van die gesin word bo individuele begeertes geprioritiseer.

In baie Midde-Oosterse kulture is liefde en verhoudings diep verweef met tradisionele waardes en die familie se eer. In baie Afrika-kulture is liefde en verhoudings nou gekoppel aan gemeenskap. Liefde word beskou as ’n veelsydige konsep wat respek, sorg en wedersydse ondersteuning insluit. Maar hierdie is hoe die wêreld die liefde sien.

1 Korintiërs 13 beskryf hoe God se liefde lyk, veral soos toe Jesus onvoorwaardelik vir ons sy lewe gegee het. Elke eienskap wat daar in die teks vir liefde gegee word, is hoe Jesus se onvoorwaardelike liefde lyk: geduldig, vriendelik, nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, ensovoorts. Ware Christelike liefde is die omvattendste menslike eienskap wat daar is. Dit het tot gevolg dat ’n mens onselfsugtige naastediens verrig; dit is die bewys dat jy opreg omgee. God steek ’n vlammetjie aan in die harte van sy kinders omdat Hy hulle lief het. Hulle het dan weer ander lief, en so versprei die warmte van God se liefde na alle mense.

Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies