Markus 8: 34

Toe Jesus klaar met sy dissipels oor sy lyding gepraat het, draai Hy na die skare en sê iets wat alle romantiese idees oor geloof by die deur uitvee: As iemand Hom wil volg, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en Hom volg.

Dis nie ’n bemarkbare boodskap nie. In ’n wêreld waarin ons konstant aangemoedig word om onsself uit te druk, onsself te vind en onsself op die voorgrond te plaas, klink Jesus se woorde skokkend: Verloën jouself. Dis nie selfhaat nie, maar die erkenning dat jy nie die sentrum van jou eie bestaan is nie.

In die eerste eeu het mense geweet wat ‘n kruis beteken: dit was nie ’n inspirerende godsdienstige simbool of ‘n mooi halssnoer nie. Dit was ’n martelinstrument. As jy ’n kruis gedra het, het jy jou lewe opgegee. So wanneer Jesus sê jy moet jou kruis dra, sê Hy: Dis nie net iets wat jou geloof bietjie moeiliker maak nie, dis iets wat jou alles gaan kos.

Maar dan kom die troos: juis in die opgee, juis in die afsterwe van die self, word nuwe lewe gevind. Dis wanneer jy jou eie ambisie en jou eie agenda loslaat, dat jy God se wil begin sien. Dis wanneer jy jouself laat sterf dat Christus in jou begin leef.

Die pad van dissipelskap is nie ’n vinnige pelgrimsreis nie. Dis ’n daaglikse aflegging van jou eie wil en ’n daaglikse keuse om Jesus te volg. Nie net met jou kop nie, maar met jou hele lewe.

Dis moeilik. Dis dikwels pynlik. Jy voel dit dikwels aan jou lyf en aan jou wese. Maar dit is ook die enigste pad na ware vryheid, want dis die pad waarop God loop en waar Hy loop, is daar ware lewe.

Gebed

Here, leer my om U te volg, selfs wanneer dit my gemak en sekuriteit kos. Help my om nie vas te klou aan my eie wil nie, maar om my kruis op te neem en U te volg. Amen.

Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos