Romeine 12: 1-2
As die meeste mense hul dag en lewe in een woord moet beskryf, sou dit seker veeleisend wees. Dag na dag word van ons verwag om te gee. Die wêreld eis van ons soveel dat die een aspek waaraan ons probeer vashou is onsself. Ons tyd, energie, hulpbronne, geld, talente en kundigheid hou ons aan gee maar ons eie menswees probeer ons aan vasklou vir alles wat ons werd is.
Selfpreservering verwys na die gedrag wat oorlewing probeer verseker. Dit is ook juis in hierdie woestynareas van ons lewens dat ons reeds alles gegee het wat ons moontlik kan en dalk net probeer om nie onsself in die proses te verloor nie.
Hierdie teks nooi ons egter uit tot iets totaal anders. Dit daag ons nie uit om ons tyd, hulpbronne, energie, geld, kundigheid of enigiets anders te gee nie. Hierdie teks daag ons uit om die een aspek te gee waaraan ons so verbete kan vasklou – die self. Die waarheid is dat hierdie teks vir ons soms bedreigend kan wees. Dit is makliker om ons tyd te gee, of geld, of talente aan te bied. Dit is makliker om ons kundigheid te deel of energie te gee. Om die self te gee is baie gevra.
Die Romeine 12-teks nooi ons uit om oor te gee en toe te laat. Wanneer ons op hierdie manier oorgee en toelaat skep dit ruimte vir die Gees om my en jou te verander in ons denke en in ons wese. Transformasie vind nie plaas deur selfpreservering nie.
Transformasie vind plaas in die oorgee en toegee aan God. Om die kern van ons wese aan God te gee. Dalk is dit ook nodig om opnuut te besef dat my wese nie eers in my eie hande so veilig sal wees soos in die hande van my Skepper nie. Gee daarom jouself gerus oor aan God.
Ds Thomas Dreyer, Malelane