Johannes 16: 7-15
Nadat Jesus sy weggaan vir die dissipels aankondig, verduidelik Hy die rede daarvoor. Dit moet gebeur sodat die Heilige Gees uitgestort word. Die gelowige word deur die Heilige Gees in die verlossingswerk van Jesus Christus ingetrek, of anders gestel: Die heilswerk van Jesus Christus word in die hart van die gelowige ingedra.
Maar die werk van die Heilige Gees is nie net gerig op die gelowige nie, dit is ook gerig op die wêreld. Martin Luther (1483-1546) het op die man af gepraat. Per geleentheid het hy dit gestel dat gelowiges nie met kleinlike dingetjies sonde moet beskryf nie. Sonde is ongeloof, dit is wantroue. Dit is om te weier om te aanvaar dat die Vader Hom aan die mens openbaar deur Jesus Christus.
Die wêreld is van oortuiging dat hulle korte mette van Jesus gemaak het. Dat Hy na die kantlyn geskuif is en nie meer ’n rol te speel het in die lewe nie. Dit is andersom. Jesus se sterwe en opstanding kla die wêreld aan; dit is die wêreld wat die liefdesdaad van God, die verlossing in Jesus Christus, verwerp.
Om God se genade in Christus te verwerp, vind onder meer gestalte in die mens se poging om voortdurend sy eie moraliteit te skep en daardeur onsterflikheid na te jaag. Die mens wil dus self inhoud gee aan wat sonde is, watter moraliteit die lewe die moeite werd maak. Die kruis en opstanding wys egter dat dit onmoontlik is en nou word gelowiges deur die Gees geroep om getuienis te lewer. Die kerk is getuies wat deur die woord en lewe die wêreld toeroep dat God genadig is, dat net God lewe skep en skenk.
Gesang 439: 1 en 2
O Heil’ge Gees, o God in ons, ons wil u krag besing:
Die krag wat Jesus op laat staan en lewe in ons bring.
Maak ons oorwinnaars in die stryd wat ons ook nou moet stry.
O Gees van God, getuig in ons, dat ons u kinders bly. (Vers 1)
Dr Christo Pretorius, Pretoria / Wonderboom-Suid / Hervormde Teologiese Kollege