Psalm 68: 6 (AFR2020)

’n Vader vir vaderloses, ’n regter vir weduwees, … God laat eensames weer in ’n huisgesin woon (Ps 68: 6). In die middel van ’n triomfantelike loflied oor God se heerskappy verskyn ’n besonder tedere beeld: God is ’n Vader vir die weeskinders. Hierdie vers herinner ons daaraan dat God se majesteit nie los staan van sy barmhartigheid nie. Sy heiligheid sluit sy betrokkenheid by die weerloses in.

In die antieke wêreld, net soos vandag, was weeskinders dikwels sonder beskerming, sonder toegang tot geregtigheid, sonder ’n stem. Die verlies van ’n vader het nie net hartseer beteken nie, maar ook ekonomiese onsekerheid, sosiale verwerping en emosionele verlatenheid. Tog sê Psalm 68 God sien hierdie kinders raak. Meer nog – Hy vervul self die rol wat ontbreek.

Dis opvallend dat dit juis uit Sy heilige woning kom. Met ander woorde om Vader vir die vaderlose te wees, is nie ’n randbelang vir God nie – dit is ’n uitdrukking van sy heiligheid. God se hart is nie neutraal teenoor gebrokenheid nie. Hy beweeg juis daarheen waar daar ’n leemte is.

Vir enigeen wat sonder ’n pa grootgeword het – of dalk met ’n pa wat teenwoordig was in liggaam, maar afwesig in hart – is hierdie vers lewensveranderend. Jou verhaal is nie vir God onbekend of onbelangrik nie. Jou seer is in sy boek geskryf. En waar die wêreld dalk nie voorsien het nie, het God jou nie verlaat nie. Hy is bereid om jou identiteit te herskryf met ’n nuwe titel: kind van die Hemelse Vader.

Maar hierdie vers is ook ’n roeping. As ons God wil eer, moet ons sy hart najaag. Gemeentes, families, individue – ons word geroep om die vaderloses te omarm soos God dit doen. Dis nie opsioneel nie. Dit is aanbidding.

God se troon is heilig – en die wat seer het, is welkom daar. Die Vader van die weeskinders is nog altyd dieselfde.

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid