Lukas 24: 13-35
Ons lees die bekende verhaal van die twee manne wat op pad is na die dorpie van Emmaus pas ná Jesus se kruisiging en opstanding. Hulle stap van Jerusalem af en het die Vrydag se kruisiging beleef. Hulle stap terug na Emmaus toe sonder enige hoop – ’n pad van moedeloosheid. Die Evangelieskrywer beeld uit dat hierdie twee Emmausgangers teleurgesteld in God is, maar dan so ’n mooi uitbeelding van God wat hulle inhaal om langs die pad van moedeloosheid vir hulle weer nuwe moed te gee.
Naby aan die dorpie van Emmaus maak Jesus of Hy verder wil stap. Die simboliek: Hierdie twee manne stap weg van Jerusalem, met die rug gedraai op Jesus en moedeloos, maar Jesus haal hulle in, sluit by hulle aan op hul pad, Jesus gesels met hulle sodat hulle moet weet dat God hulle nie in die steek gelaat het nie. Nou die keuse: Nooi hulle vir Jesus oor, of skei hul paadjies?
Hulle nooi Jesus oor om saam met hulle te gaan eet. En dan lees ons die aangrypende vers: Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken. Nadat Jesus uit hul gesig verdwyn het, sê hulle vir mekaar: Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat het en vir ons die Skrif uitgelê het nie?
Dalk is jy soos een van hierdie twee Emmausgangers met iets wat swaar op jou hart druk. Dalk beleef jy ’n moedelose gevoel wat nie in woorde uitgedruk kan word nie. Soos met die Emmausgangers, kom die Woord van die Here ook aan jou vandag: Laat toe dat hierdie woorde van God jou hart warm maak, want dit is goeie nuus! Net soos vir die Emmausgangers en só ook vir ons, is dit eers wanneer die Heilige Gees die Skrif belig dat ons oë waarlik oopgaan en sien. Nie vanuit onsself nie, maar deur God kry ons insig vir die pad wat voorlê. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam