Matteus 6: 5-14

Die volgende bede van die Onse Vader wat ons gaan behandel is die gebede: Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied (Matt 6: 10, AFR2020). Ons het gesê dat as ons dink aan gebed ons moet dink aan ’n selfoon. Hoe ’n selfoon gelaai moet word om te kan werk. So ook moet ons as gelowiges gelaai en herlaai word om te kan werk om ons doel as kinders van God op aarde uit te leef.

Ons dink nie baie keer dat die woorde van die Onse Vader polities gelaai kan wees nie, maar in al die Evangelies (maar veral in Matteus waar ons die Onse Vader-gebed lees) staan die koninkryk van God reglynig teenoor die koninkryk van die aarde.

Die tweede gebed van die Onse Vader is dus ’n versugting dat God se koninkryk, sy heerskappy sal inbreek in hierdie wêreld. Dat nie die wil van die keiser en magshebbers sal geskied nie, máár dat God se wil geskied. Hierdie rewolusie vind egter nie plaas deur middel van geweld nie, maar juis met die afstand doen van mag. Met Christus aan die kruis sien ons hoe totaal anders die koningskap van die Vader lyk. Sien ons hoe ons burgerskap van sy koninkryk behoort te lyk.

Te midde van die oënskynlike chaos in hierdie wêreld, is God steeds besig om sy koninkryk te bou. Ook deur ons. God bou sy koninkryk deur ons ten spyte van ons menslike swakheid, nie op ons menslike krag en selfvertroue nie.

Wanneer ons dan bid: Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, bid ons eintlik: Here, maak my hande sterk dat ek kan werk vir u koninkryk en nie my eie of die koninkryke van hierdie aarde nie. Maak my gees skerp dat ek weerstand kan bied teen die verleidelike gedagte dat ek deur eie krag my doelwitte kan bereik. Amen.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico