Jesaja 43: 1-3
Jesus se opstanding uit die dood het vir ons soveel hoop en vreugde gebring. Dit is vir ons so ’n groot bemoediging en troos om te weet dat ons in Jesus Christus die ewige lewe ontvang. Ons hoef nie meer angstig daaroor te vrees nie, ons moet net met ons monde bely dat Jesus die Here is en met ons harte glo dat God Hom uit die dood opgewek het. Maar hoe gemaak wanneer ons gekonfronteer word met die werklikheid waar seer, pyn en lyding steeds deel van die gebroke wêreld is?
Deur Deutero-Jesaja (40–55) leer ons dat die volk se straf uitgedien is, en dat die Here verlossing bring uit hul ballingskap. Maar ten spyte van die groot nuus dat die ballingskap nie hul lot tot in ewigheid gaan wees nie, het hulle steeds gespook met swaarkry en lyding. Dit is in hierdie toestand van swaarkry en worsteling dat die woorde van Jesaja 43 die volk bemoedig. Daar word bevestig dat die water, riviere en vure van die lewe nie skielik verdwyn nie. Ons is nie skielik gevrywaar van gebrokenheid nie, ons word steeds siek, ons verloor steeds ons werk, ons word steeds te na gekom en ons maak self ook steeds droog in ons eie lewe.
Wat die Here wel vir ons gee, is ’n bevestiging dat Hy ons in hierdie chaos bystaan. Ons word nie weggespoel nie, ons word nie verbrand nie. Alhoewel die Here se teenwoordigheid nie die gebrokenheid in hierdie wêreld vervang nie, bemoedig en bemagtig Hy ons wel deur die gebrokenheid. Die opstanding van Christus word dan ons hoop en vreugde dat die Here besig is om hierdie gebrokenheid te herstel. Mag ons beleef hoe ons deel van daardie herstel is, en daarom volhard deur die swaarkry. Dit is dalk juis in ons worsteling dat die evangelie van Jesus Christus se opstanding die duidelikste word.
Ds Schalk Zastron, Ermelo / Ermelo-Suid