Jona 3-4

Die verhaal van Jona is ’n onderstebo-verhaal vol onverwagse gebeurtenisse en verrassings. Jona se verhaal lewer op ’n ironiese wyse kritiek op ’n bepaalde verstaan van God en geloof. Dit wil kritiek lewer op gelowiges se selfsug en selfgeregtigheid wat agter oënskynlike vroomheid verdoesel word. Jona word voorgestel as ’n profeet, maar hy was allermins ’n konvensionele profeet. Hierdie profeet vlug weg van die boodskap wat hy moet verkondig en probeer so wegvlug van die Here self. Maar ten spyte hiervan het die Here aangehou om Hom met Jona te bemoei. Wanneer Jona in die storm op see die maklike uitweg kies om oorboord gegooi te word, beskik die Here ’n vis om hom op droë grond uit te spoeg sodat hy sy boodskap aan Nineve kan bring. En net soos die matrose op see tot bekering gekom en God aanbid het, toon die mense van Nineve dieselfde hartsverandering.

Hoe ironies dat die profeet van die verhaal, die gestuurde van die Here, die bitter onvergenoegde en huiwerige een is, terwyl die sondaars, dié van wie ’n mens dit die minste verwag, tot bekering kom en die Here in opregtheid aanbid. God se goedheid en grootheid word verlig teen die agtergrond van Jona se gemeenheid en kwaadwilligheid. Die Here hou aan met hierdie bitter en onvergewensgesinde profeet. God bewys genade aan die genadelose en medelye aan dié een wie se hart op wraak uit is.

Die Jona-verhaal wil ’n spieël voor elkeen van ons plaas. Ons word gekonfronteer met die grootheid van God se genade, wat ons dalk ook nie altyd pas nie. Daar waar God se barmhartigheid, genade en liefde ons ongemaklik maak. Daar waar onvergenoegdheid in ons harte leef omdat ons nie God se goedheid begryp nie, veral wanneer dinge nie volgens ons wil verloop nie. In Jona kry ons ’n blik op die slegste dele van ons eie karakter. Hierdie eerlike kyk na onsself behoort ons te inspireer tot nederigheid en dankbaarheid omdat God sy vyande lief het en bereid is om die Jona in elkeen van ons genadig te wees.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom  /  Hervormde Teologiese Kollege