Jeremia 1: 4-8 

Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê (Jer 1: 7).

Wat is ’n profeet? ’n Profeet is iemand wat deur God geroep is om sy wil en woord aan ander persone bekend te maak. In Jeremia 1 lees ons van die spesifieke roeping van een persoon, maar in Matteus 28: 19-20 en Handelinge 1: 8 word die opdrag om te getuig en dissipels te maak, aan alle volgelinge van die Here gegee. As profete moet ons skaamteloos die enigste redding wat daar is, deur die evangelie van verlossing in Jesus Christus, aan alle mense verkondig. Ons moenie skaam wees of huiwer om dit te doen nie, ook nie bang wees vir die wêreld nie.

Elkeen van ons is geroep om God se wil en sy karakter bekend te maak aan ander. Die Heilige Gees rus ons toe om oral te getuig – by ons werk, tussen ons vriende, by ons familie, op die sportveld, oral waar ons gaan. Altyd en oral! Hierdie opdrag is definitief nie net vir kerke, sendelinge of predikante bedoel nie. Nee, dis vir ons elkeen. Die onus rus op elkeen van ons om daagliks as ’n profeet te gaan leef, Geesdriftig toegerus deur die Gees. Dit is belangrik dat ons God openbaar soos wat Hy Hom in sy Woord aan ons bekend maak. Daarom is dit noodsaaklik om die Woord van God te lees en te bestudeer.

Moenie skaam wees nie, moenie sê ek is nog te jonk of te oud of ek kan nie goed praat nie. Die Here stuur ons, Hy rus ons toe deur die Heilige Gees en gee aan ons die woorde wat ons aan ander moet oordra.

Wees vandag ’n profeet van die Here!

Gebed

Here, lei my om met gewillige voete die wonderlike evangelie van Jesus Christus te verkondig. Amen.

Ds Henk Labuschagne, Silverton