Lukas 7: 1-10

’n Romeinse offisier se slaaf is siek. Hy het Jesus nie geken nie, maar het van Jesus en sy wonderdade gehoor. Hy vra Joodse kennisse wat familiehoofde was, manne met aansien en invloed wie se woord gewig gedra het. Dus, kies hy sy tussengangers met oorleg.

Die Joodse familiehoofde stem onmiddellik in om te help want in hul oë is hier ’n man wie se dade toon dat hy aanspraak kan maak op voorkeurbehandeling. Hy is ’n Romein, maar tog het hy die Jode lief. Hier is ’n man met deernis, ’n man wat goed aan ander doen. Hy het byvoorbeeld gesorg dat daar vir die Jode in Kapernaum ’n sinagoge gebou word.

Terwyl Jesus op pad is, kom ’n tweede afvaardiging van Joodse leiers by hom aan met ’n boodskap van die offisier: Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te kom nie. Maar sê net ’n woord, en my slaaf sal gesond word (Luk 7: 6-7).

Al beskou hierdie offisier hom nie waardig genoeg om deur Jesus gehelp te word nie, hou hy egter nie op om Jesus te vra om hom te help nie. Hy hou vol met sy versoek. Hy bly vra. Hy pleit vreesloos en in vertroue alleen op Jesus se genade: Here, sê maar net ’n Woord, want dit sal genoeg wees…

Wat in die mens se verhouding met God tel, is nie menslike prestasie, goeie deugde of verdienste nie, maar die genade van God. Waar God net ’n woord spreek, ’n woord wat vryspraak en heil beteken, maar ook vergiffenis en vernuwing – lewe! Daarom het ons niks om oor te roem nie, behalwe in Christus. Daarom meet ons onsself aan God se onvoorwaardelike liefde vir ons. Daarom kan ons nie anders nie as om in ons eie lewe ook soos hierdie Romeinse offisier te sê: Here, spreek maar net ’n woord… want dit is woorde wat lewe bring.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam