Deuteronomium 22: 6-7; Matteus 10: 29
Een van die wonderlikste eienskappe van God is dat Hy wat die Grote en Almagtige God is, Homself ter wille van ons ook so klein kan maak. Dit gebeur wanneer Hy intens en volledig by die klein detailtjies van ons lewens betrokke raak. Ons gelese gedeelte illustreer dit mooi. Die God van hemel en aarde, wat planete en sterrestelsels in sy hand hou, is so besorg oor die lewe van ’n wyfievoël wat op haar eiers sit, dat daar in die wet van Moses ’n verwysing is: moet nooit ’n wyfievoël doodmaak nie.
Dit gaan waarskynlik hier oor ’n goeie ekologiese beginsel dat selfs al vang jy klein voëltjies en jy laat die wyfievoël leef, daar later weer eiers in ’n nessie en nuwe voëltjies sal wees. Maar tog gaan dit ook oor meer. Dit gaan ook oor ’n God wat begaan is oor lewe en wat selfs die mees onbenulligste van sy skepping raaksien en beskerm.
Die opdrag oor die wyfievoël word deur ’n belofte gevolg, …dan sal dit goed gaan met jou en sal jy ’n lang lewe hê. Die uitdaging van hierdie teks is duidelik: Kan jy ook klein word en die nederigste van God se skepping na waarde ag en oppas? As jy so kan klein word, as jy die waarde van nederigheid kan aanleer, dan eers is jy gereed om die seën van die Here te ontvang.
Sal ons in onsself al kleiner word om soos God te wees, die God wat gesê het: Nie ’n mossie sal op die grond val sonder julle Vader nie..: Selfs nie ’n klein mossie se dood vind plaas sonder dat God daarvan bewus is nie.
Gebed
Grote God, dankie dat U ter wille van ons soms klein kan word en betrokke is by die klein besonderhede van ons lewens. Help my ook Here om in myself al kleiner te word en selfs die kleinste in u skepping te versorg en dan in u wonderlike seën deelagtig te word.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort