Johannes 14: 15-31

Ons het so pas saam met die kerk van Jesus Christus oor die wêreld heen die hemelvaart van ons Heiland herdenk. Die groot gevaar is dat die dissipels kon dink dat Jesus se hemelvaart ’n wegvaart was. Dat die hemelvaart beteken dat Jesus daar ver bo, êrens tussen die sterre, aan die regterhand van die Vader is. Iets daarvan blyk tydens die hemelvaart van Jesus wanneer die dissipels verdwaas na die hemel bly staar so asof Hy weg is (Hand 1: 11). Om te verstaan dat Jesus se hemelvaart nie ’n wegvaart is nie, het Jesus reeds voor sy kruisiging in Johannes 14 tot 17 met sy dissipels gepraat.

Dit is ’n lang en intense gesprek. Die omstandighede tydens dié gesprek is benoud. Dit is die aand voor Jesus se gevangeneming en kruisiging. Die dissipels is bang en ontsteld en bedroef. Jesus gaan weg (Joh 14: 1-3). Wat gaan van hulle word? Hulle wil nie sonder Jesus wees nie. Tydens hierdie lang gesprek druk Jesus hulle vir oulaas die belangrikste dinge op die hart: waarom Hy weggaan en dat Hy weer sal kom; dat Hy en die Vader een is; dat waarheen Hy gaan, gaan Hy om vir hulle plek voor te berei; dat as Hy weg is, hulle nie alleen, soos weeskinders, sal wees nie.

Dan die belangrike: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur (Joh 16: 7).

Ons bely dat die Heilige Gees van die Vader en die Seun uitgaan, dat Hy saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word. Die Heilige Gees is God se onsigbare teenwoordigheid in hierdie wêreld. Die Heilige Gees is die waarborg wat Jesus aan sy kerk gegee het: …onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matt 28: 20).

Dr Daan van Wyk (jr), Van der Hoff