Loof die Here, o, my siel! Here, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee, U wat Uself met lig omhul, soos in ’n mantel, wat die hemel oopspan soos ’n tentdoek. (Psalm104: 1-2, AFR2020)
Psalm 104 is een van my gunstelingpsalms. Die digter besing die wonder van God. Digterlik beskryf hy met sintuiglike verruklikheid alles wat hy in die skepping sien. Sy oë kyk op na die hemel en hy sien die son, die maan, die sterre, die wolke en die reën. Hy sien die waters wat die aarde bedek, fonteine en berge.
Steeds in meer detail beskryf hy die wilde diere en voëls van die hemel, ook die bome, plante en gras. Daar is detail en oorvloed. Hierin sien hy die onpeilbare goedheid en kreatiwiteit van God. Nie alleen het God alles geskep nie, maar steeds word alles deur God se asem onderhou. God skep daagliks voort.
En aan die einde van die Psalm sluit hy af: Mag my bepeinsing vir Hom aangenaam wees. Sy gedig is ’n offer aan God.
Wanneer my handpalms oor die grassade streel, die reuk van reën die lug vul, ’n reënboog verskyn, die Hoëveldklappertjie lostrek met sy pronkvlug, of die rooibokooi haar lam laat drink, dan is my kamera se klik ’n dankgebed, en met my foto’s wil ek vra: Mag my bepeinsing vir U aanneemlik wees.
(Dr Thinus van Staden is leraar in Gemeente Montana)












