Mamma… fluister my vierjarige een Sondagaand vir my in die kerk.

Shshshsh… fluister ek vir haar terug.

Mamma… fluister sy weer.

Wat is dit? vra ek vir haar.

Mamma, ek haat kerk, fluister sy vir my.

Ek kyk die arme klein dogtertjie met skok aan en besef dat sy nou vir die derde keer vandag in die kerk sit. My jongste het so pas aangekondig dat sy kerk haat!

Pastoriekinders word anders groot as ander kinders. Die roetine in ’n pastorie verskil van dié van ander huishoudings. Pastorieë se roetines verskil heel moontlik ook van mekaar. Sondae het ons drie eredienste bygewoon in drie verskillende dorpe. Daar was nie die bekende Sondagmiddagete met Ouma-bring-poeding soos toe ons grootgeword het nie. Daar was padtoebroodjies vir die reis huis toe ná die tweede erediens. Hulle ken nie Pappa-sit-en-koerantlees-terwyl-Mamma-kosmaak-aande nie. Daardie tyd doen Pappa reeds huisbesoek en wanneer hy terugkom, slaap hulle. Daar was nie laataandkuiers met huisvriende of familie oor naweke nie. Die naaste familie bly 2 000 km vér, Vrydaeaande is gesinsaande saam met Pappa, en Saterdaeaande is Pappa besig met die laaste voorbereidings vir Sondag.

Ek het met ’n skok besef dat ek moet kompromitteer en anders moet dink om hierdie vierjarige dogtertjie se ingesteldheid teenoor kerk te verander. Ek is besig om my kinders kerkmoeg te maak. Dit is onrealisties om te verwag dat kinders ’n liefde vir die kerk ontwikkel deur hulle net saam te sleep kerk toe en dít na drie eredienste op ’n Sondag!

Ons sal vir eers net een erediens op ’n Sondag bywoon en ek sal iets moet kry om haar mee besig te hou in die kerk. Die plan wat ek toe in werking stel, het ’n groot impak op my kinders en ook ander kinders in die gemeente gehad.

Die volgende Sondag neem hulle elkeen ’n potlood en klein skryfboekie saam kerk toe. Ek sê vir my vierjarige dat sy enigiets wat binne-in die kerk is, kan teken in die tyd dat Pappa preek. Vir my sesjarige sê ek dat sy prentjies kan teken van wat sy hoor Pappa preek. Vir my agtjarige sê ek sy kan teken en skryf wat sy hoor Pappa preek. Na kerk kon hulle nie wag nie dat Pappa uit die konsistorie kom sodat hulle vir hom hul weergawe en verduideliking kon gee van die preek. Die volgende Sondag was daar ander kinders wat dieselfde gedoen het en ook ná kerk by die konsistorie gaan wag vir oom Dominee.

Soos wat die kinders groter word, het hulle nie meer prentjies geteken nie, maar ’n opsomming van die preek neergepen soos hulle dit hoor. Dit was elke Sondag ’n belewenis om die kinders se weergawe te lees en agter te kom hoe hul Bybelkennis uitbrei en hul verstaan van die Woordverkondiging groei.

Baie ouers met klein kindertjies het die gedagte om die kinders kerk toe te bring wanneer hulle eers groter is. Klein kindertjies kan nie so lank stil sit en stil bly nie. Ons kan hulle nie verkwalik nie. Wie het nog nie die ervaring gehad van mense wat gesteurd die KYK vir jou gee wanneer jou kinders hulle nie meer in die kerk kan gedra nie? Hierdie tendens was ook hokgeslaan toe ons doelbewus voor in die kerk gaan sit het sodat niemand meer hoef om te kyk om te sien wat die kinders doen nie. So het hulle die kinders se gevroetel in die kerk gewoond geraak en die kinders kon self beter aandag gee voor in die kerk. Ek het vir hulle geleer dat ’n mens nie omkyk nie, maar jou aandag probeer vestig op dit wat voor in die kerk gebeur.

Die kinders het hul Bybel, Gesangeboek en skryfboekie kerk toe geneem. Wanneer die Skriflesing gedoen word, lees hulle in hul Bybels saam, al het hulle net ’n Kinderbybelboek, of al het ons eers almal se Bybels op die regte plekkie oop wanneer die laaste versie al gelees word. Wanneer gesing word, het elkeen ’n Gesangeboek oop by die regte nommers en la-la-la maar saam as jy nog nie kan lees nie. Wanneer gepreek word, teken of skryf hulle in hul skryfboekies. Dié wat dors word in die kerk, neem ’n botteltjie water saam, en dié wat nie graag skoene dra nie, gaan kaalvoet kerk toe. Wanneer daar basaar gehou word, bak hulle kolwyntjies vir die koektafel, en by die basaar beman hulle hul eie vissievang-, tombola- of pannekoekstasie.

Vandag is my nessie leeg. Al drie kinders is volwasse lidmate van die Kerk. Elkeen is aktief betrokke in hul eie gemeentes, en die vierjarige wat een Sondagaand vir my gefluister het Mamma, ek haat kerk, het dit selfs op haar dinge-wat-ek-nog-wil-doen-lysie om Teologie te swot.

Klein kindertjies kan maklik vir ouers ’n groot verleentheid skep. Dit is hierdie verleenthede in die kerk wat die potensiaal het om ’n geleentheid te word om jou kind met meer gemak van kleins af binne-in die kerk gewoond te maak, groot te maak en lief te maak vir die Kerk en die verkondiging van die Woord.

NHSV Streekvoorsitter: Dorsland

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link