Lees: Rut 1

Twee vroue is in dieselfde krisis gedompel, maar hulle het twee verskillende perspektiewe gehad.

Die lewensverhaal van Naomi en Rut is aan ons bekend. Die een krisis ná die ander tref Naomi in Moab. Haar geliefde man Elimelek sterf, en daarna haar twee seuns, Maglon en Kiljon. Naomi probeer haar skoondogters oorreed om in Moab agter te bly. Orpa draai wel terug, maar Rut antwoord in verse 16 en 17 dat sy beslis saam met Naomi gaan: want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word (AFR83).

Rut, ’n weduwee wat op pad is om ’n vreemdeling in Betlehem te word, het God in die huis van Elimelek en Naomi leer ken. Sy vertrou dat God weduwees en vreemdelinge onder sy beskerming neem soos sy volgens Eksodus 22: 21-24 geleer het. Sy vertrou dat God, die Almagtige, haar ook sal beskerm en bewaar. So hou sy aan God vas en toon haar lojaliteit aan haar gryse skoonma. Toe Rut in ’n krisis gedompel is, maak sy ’n keuse om hierdie krisis in die volle vertroue te hanteer dat God, die Almagtige, haar en haar skoonmoeder sal beskerm en bewaar.

In Betlehem aangekom, word Naomi met blydskap deur die vroue wat haar onthou het, verwelkom. Hulle onthou nog haar naam, Naomi, wat lieflik of aangenaam beteken. Hulle het aan haar gedink, hulle het na haar verlang, en hulle het haar weer verwelkom. Hoe antwoord Naomi op hierdie verwelkoming? Noem my Mara, bitter, want dit is wat my lewe nou is. Naomi sien die krisis in haar lewe raak en erken God die Almagtige in haar lewe, maar beskou Hom as die bron van haar ellende. Sy hanteer die krisis deur verbitter te word en net die donker te sien.

In hierdie eerste hoofstuk leer ons wat bitterheid aan jou en jou verhouding met God kan doen. Bitterheid veroorsaak dat Naomi miskyk dat sy nié leeg van Moab terugkeer nie. Die vroue beaam dit in Rut 4. Sy het vir Rut in haar lewe, sy word deur die stad se vroue verwelkom en sy keer boonop terug tydens die oes van die gars. Daar word tóg deur God voorsien. Bitterheid het veroorsaak dat sy nie God se teenwoordigheid en sorg kon raaksien nie.

Gebed: Heer, laat ons nie verbitterd word en nalaat om U in ons lewens raak te sien nie.