Lewensloop

1483     Martin Luder word as seun van Hans en Margarethe Luder in Eisleben gebore.

1484     Die familie verhuis na Mansfeld, waar Martin tot en met 1497 skoolgaan.

1497     Luther verskuif na die “predikante-skool” St Georg in Eisleben.

1501     Luther begin met filosofiestudies aan die Universiteit van Erfurt.

1505     Ná afhandeling van die Magister Artium, begin hy om Regte te studeer. Na enkele weke sterf hy byna in ʼn storm en belowe om priester te word. Op 17 Julie neem hy sy intrek by die Augustynse-Eremiten Orde.  

1507     Luther word tot priester gewy en hy begin om teologie te studeer op 24-jarige leeftyd.

1509     Doseer vir ʼn jaar filosofie in Wittenberg.

1510     Reis na Rome

1511     Luther neem sy permanente intrek in die klooster in Wittenberg en woon daar tot sy dood.

1512     Luther promoveer tot Doktor in die Teologie.

1513     Hy leer as professor aan die Universiteit van Wittenberg. Hy word ook aangestel as die visehoof van sy klooster en prediker van die stadskerk.

1515     Luther word verkies tot distriksvikar en toesighouer oor 11 kloosters.

1517     Op 31 Oktober skryf hy ʼn uitnodiging tot disputasie aan aartsbiskop Albrecht van Mainz, met as aanhangsel sy 95 stellings teen die aflaatstelsel. Die vermoede bestaan dat óf hy, óf die sekretaris van die Universiteit hierdie      disputasiestellings teen die kerkdeure van Wittenberg vasgespyker het.

1518     Die Roomse Kerk begin met ʼn klag teen hom. In Augsburg word hy deur die pouslike gesant, Cajetan, verhoor.

1519     Luther en sy kollega, Karlstadt, disputeer in Leipzig met Johannes Eck.

1520     Die Pous dreig Luther met die ban. Hy verbrand die dreigbrief (“bul”) in die openbaar.

1521     Op die Ryksdag van Worms eis Luther weerlegging van sy standpunte op grond van die Skrif alleen. Keiser Karel V wil hom in hegtenis neem, maar keurvors Frederik die Wyse versteek hom op die Wartburg as Junker Jörg. Binne 10 maande vertaal hy die Nuwe Testament in Duits.

1522  In die volgende jare word Luther die mees gelese Duitse teoloog.

1524     Luther trek sy priestergewaad uit.

1525     Hy trou met die gewese non Katharina von Bora. Die egpaar het ses kinders.

Hy poog om die boereopstande te stuit.

1529     Vergader met ander Reformatore in Marburg oor die Nagmaalkwessie.

1530     Op die Ryksdag van Augsburg word Melanchthon se Confessio Augustana as Protestantse belydenisskrif aanvaar terwyl Luther in Coburg skuil.

1537     Luther neem in Schmalkalde deel aan die vorming van die Schmalkaldiese Bond. Luther word siek.

1546     Luther sterf op 18 Februarie in Eisleben. Op 22 Februarie word hy deur sy kollegas, Melanchthon en Bugenhagen, in Wittenberg begrawe.

Lewe

Dit is onseker wat Martin Luther se geboortejaar is. Volgens (vermoedelik) sy eie weergawe (WA TR 5,5362), is hy op 10 November 1484 in Mansfeld gebore. Volgens sy eerste biograaf, Phillip Melanchthon, is hy egter in 1483 gebore. Die teologiese tradisie volg die Melanchthon-weergawe (Schilling 2014:24). Hy is op 11 November gedoop en sterf op 18 Februarie 1546 in die ouderdom van 63 jaar. Hy is op 22 Februarie in die Schloβkirche [Kasteelkerk] in Wittenberg begrawe.

Martin Luder was die seun van Hans en Margarete Luder van Eisleben, Duitsland. In 1484 verhuis die familie na Mansfeld, en in 1488 begin hy dáár met sy Latynse skoolonderrig. In 1497 wissel hy na die skool van die Brüdern vom gemeinsamen Leben [Broeders van die Gemeenskaplike Lewe]  in Magdeburg. Een jaar later, in 1498, besoek hy die Pfarrschule [predikanteskool] van St Georgen in Eisenach. In 1501 begin hy met sy studie aan die Universiteit van Erfurt (dieselfde jaar waarin die Universiteit van Wittenberg gestig is). In Januarie 1505 promoveer hy tot Magister Artium en in Mei begin hy met regstudie, maar beleef op 2 Julie die storm te Stotternheim. Hy belowe om ’n monnik te word. Op 17 Julie neem hy sy intrek in die Augustynse klooster te Erfurt. In 1506 lê hy sy beloftes af, en op 3 April 1507 word hy as priester gewy. Hy begin met sy teologiese studie en raak bevriend met Johannes von Staupitz. In 1508 beroep Staupitz Luther na Wittenberg om Moraalfilosofie te doseer. In Maart 1509 behaal hy ’n Baccalaureus in Teologie en keer tydelik na Erfurt terug. Nadat hy vir ’n jaar in Rome was, keer hy in 1511 na Wittenberg terug as onderhoof van die Augustynse Klooster en dosent in teologie. Op 19 November 1512 promoveer hy tot doktor in die Teologie en begin hy met sy voorlesings oor Genesis.

Luther het as gedoktoreerde dosent (doctor theologiae) twee opdragte gehad, naamlik voorlesings en disputasies. Die disputasies het aan hom die geleentheid gegee om sy Reformatoriese insigte in stellings op skrif te stel, wat krities deur vriende, studente en teenstanders bespreek is. Hierdie proses het hom gehelp om sy standpunte te herdink en te presiseer. Die disputasies was ook die voertuig waarmee die Reformatoriese gedagtegoed aan die breë bevolking bekendgestel is. Die disputasies was gedruk op ’n plakkaat wat teen die deure van kerke en universiteitsgeboue vasgespyker is. Alle verbygangers kon dit dus lees. Sy beroemde 95 stellings teen die aflaat (Pro declaratione virtutis indulgentiarum) van 31 Oktober 1517 het wêreldkundig geword danksy die disputasiestelsel.

Ter wille van duidelikheid: ’n Disputasie is ’n kritiese gesprek oor ’n reeks stellings wat oor ’n bepaalde tema opgestel is. Die disputasies van die laat-Middeleeue het min ruimte gelaat vir ’n kritiese gesprek oor die amptelike standpunte van die Rooms-Katolieke Kerk. Luther se deurbraak was dat hy die moed van sy oortuiging gehad het om pouslike dekrete en konsiliebesluite krities te debatteer. Hierdie kritiese debat was deel van die buitengewone disputasies, en nie deel van die gewone kritiese debat met die studente (disputatio circularis) of die verdediging van proefskrifte (disputatio pro gradu) nie. Hierdie buitengewone disputasies het vanselfsprekend baie kerklike en publieke aandag geniet. Dit was veral sy kritiek teen die aflaatstelsel en die Skolastieke teologie wat wye belangstelling geniet het. Wat ons vandag as “kritiese teologie” ken, het sy oorsprong by Luther. Krities beteken: om alle besluite van vorige vergaderings en alle geskrifte van vorige geslagte en alle uitsprake van tydgenote krities te evalueer aan die hand van die kerk se primêre bron, die Bybel. Kritiese denke word selde geduld; daarom moet Luther se voorbeeld gevolg word deur te sê hier staan ek, ek kan nie anders nie aangesien die Bybelse boodskap van my verwag om hier te staan.

Rondom die jubileumdatum, 31 Oktober 1517, is daar ʼn biografiese brokkie wat vermelding verdien. Op hierdie dag het Martin Luder ’n brief aan aartsbiskop Albrecht van Mainz geskryf. Vir die eerste keer onderteken hy ʼn brief as Martin Luther. Hierdie naamsverandering simboliseer sy nuwe selfverstaan – ʼn mens wat danksy die ontdekking van die hart van die evangelie vry is. Sy nuutgevonde evangeliese vryheid bring hom daartoe om sy benaming met Eleutherius uit te brei. Van hier af heet hy Frater Martinus Eleutherius Luther – verteenwoordiger van die vryheid van die evangelie (vgl. Schilling 2010:101 en Zschoch 2010a:82).

Luther het oornag ʼn “mediaster” geword. Hy was die eerste persoon wat die moontlikhede van die boekdrukkuns ten volle benut het. Honderde van sy geskrifte was in die vorm van “vlugskrifte” – ʼn dun boekie van ʼn paar bladsye wat vinnig gedruk en versprei kon word. Sy Bybelvertalings, kategismusse en selfs akademiese verhandelings het binne weke in tienduisende verkoop. Luther was die eerste teoloog wat die publiek teologie laat lees het; hoofsaaklik deur sy benutting van die “media”. Luther sou nooit só suksesvol gewees het sonder die nuwe media nie.

Luther was ook om ʼn ander rede suksesvol in sy stryd om die kerk weer terug te bring na die Woord. Hy het die steun geniet van enkele vorste. Die stryd om die Reformasie was ook ʼn politieke stryd. Die keiser het die Rooms-Katolieke posisie en belange beskerm. Was dit nie vir mense soos keurvors Frederik die Wyse nie, sou Luther as ketter verbrand gewees het. Die vorste wat die Smalkaldiese Bond gevorm het, het die Reformasie militêr beskerm. Luther sou dalk nie eens die Nuwe Testament in Duits vertaal het nie, indien hy nie skuiling kon vind op die Wartburg by Eisenach nie.

Luther se huwelik met Katharina von Bora in 1525 het ook ʼn groot rol in die vestiging van die Reformasie gespeel. Die feit dat hulle ses kinders en talle aangenome kinders gehad het, het ʼn ander belangrike dimensie aan die Reformasie gegee, naamlik opvoeding en onderwys. Luther se geskrif oor die huwelik (1522) en die twee geskrifte oor die onderwys (1524 en 1530) het bygedra om die Europese samelewing diepgrypend te verander. Verpligte skoolonderrig soos ons dit vandag ken, het sy oorsprong by Luther en sy bondgenoot Melanchthon.

Arm en verwese kinders het ʼn belangrike rol gespeel om Luther so ver te kry om aan die barmhartigheidstaak van die kerk en moraliteit in die ekonomie aandag te gee. Hy het dit gedoen deur gereeld oor hierdie vraagstukke te preek, en hieroor artikels te skryf. Verder was hy instrumenteel in die herstrukturering van sosiale instellings ten einde dienslewering te verbeter en korrupsie te bekamp.

Vandat dit geblyk het dat die Rooms-Katolieke Kerk nie maklik gaan hervorm nie, het Luther ʼn groot rol gespeel in die opbou van ʼn nuwe kerk. Drie sake is noemenswaardig: Luther het rigtinggewende bydraes gelewer ten opsigte van die kerklike orde. Hy het die eerste kerkorde geskryf (Johannes Bugenhagen sou hierdie taak by Luther oorneem). Hy het verder liturgieë vir die erediens uitgewerk sodat die “evangeliese gemeentes” op ʼn unieke wyse kon kerk wees. Aangesien die prediking sentraal staan in die “nuwe kerk”, het Luther “postilles” geskryf waarmee hy aan die predikante leiding gegee het oor hoe daar in die Protestantse Kerk gepreek moet word. Luther en Melanchthon het gou besef dat visitasie (ʼn amptelike kerklike besoek aan gemeentes) ʼn dringende noodsaaklikheid is. Hulle vermoede is gou bevestig dat die predikante nie opgewasse en toegerus was vir hulle taak nie. Dié wat uit die Roomse Kerk na die Reformasie oorgekom het, het in die meeste gevalle feitlik geen teologiese opleiding gehad nie. Ander opportuniste was weer lui en traag om teologie te lees. Dit was die visitasieverslae wat Luther gedwing het om die kategismusse te skryf. Hy moes die predikante en die familiehoofde iets in die hand gee waarin die hoofpunte van die evangelie saamgevat en verduidelik word, sodat hulle kon preek en kategese aanbied.

Werk

Luther het tydens sy relatiewe kort lewe geweldig baie geskryf. Deur die genade het die meeste van sy skryfwerk behoue gebly. Tydens die jubileumjaar van 1883 (die 400-jarige herdenking van sy geboorte) is daar met ʼn projek begin om al sy bewaarde geskrifte, georden volgens ouderdom, as versamelde werke te publiseer. Hierdie proses is nog steeds nie afgehandel nie. Hierdie Versamelde Werke word soos volg aangedui:

Luther, M., 1883vv., Weimarer Ausgabe (WA, WA DB en WA TR), D. Martin Luthers Werke: Kritische Gesamtausgabe, 65 Bände, H Böhlaus und Nachfolger, Weimar.

Hierdie Versamelde Werke, ook bekend as die Weimarer Ausgabe (WA), is danksy die elektroniese media beskikbaar op Internet. Die volgende skakels kan gebruik word:

www.CheckLuther.com

www.lutherdansk.dk/wa

www.hab.de

www.zvab.de

Daar bestaan ʼn hele aantal uitgawes wat ʼn seleksie van Luther se belangrikste werke bevat. Die beste uitgawe is die volgende:

Martin Luther, 2006-2009, Lateinisch-Deutsche Studienausgabe, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig (3 volumes).

Martin Luther, 2012-2017, Deutsch-Deutsche Studienausgabe, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig (3 volumes).

Biografie en teologie kan nie by Luther heeltemal geskei word nie. Luther se persoonlike geloofsworsteling, sy geskille met Rome, sy belewenis van die boereopstande, sy afhanklikheid van die politieke maghebbers en briefwisseling met mense wat allerlei probleme ervaar het, het alles bepaal wat en hoe Luther geskryf het. Aangesien Luther so baie geskryf het, is dit onmoontlik om binne die bestek van ʼn paragraaf ʼn oorsig te gee van sy geskrifte. Ek beveel aan dat my reeks kort artikels oor Luther se geskrifte gelees word om ʼn idee te vorm van die temas, sy skryfstyl en die kerngedagtes van sy teologie. Kyk na: Tydskrif vir Hervormde Teologie 2017/1.

Naas die korter en langer geskrifte, het Luther ook ʼn reeks kommentare oor Bybelboeke geskryf wat ook in die WA gevind kan word. Dan is daar natuurlik ook Luther se Klein en Groot Kategismusse (1529) en sy Bybelvertalings. Persone wat hierin belangstel en nie Duits magtig is nie, kan Engelse vertalings aankoop by: The Luther Academy, St. Louis, Missouri (Concordia Publishing House). Engelse vertalings is deesdae ook elektronies (as pdf-dokumente) beskikbaar. Talle van hierdie geskrifte is gratis op die web beskikbaar (kyk onder andere na CheckLuther.com).

Wat het ons aan Luther te danke?

Martin Luther was geen heilige nie. Hy het baie tekortkominge gehad, soos woedeuitbarstings en ʼn gebrek aan geduld, en hy het talle oordeelsfoute begaan. Minstens die volgende kan genoem word: Hy was vyandig teenoor die Jode, hy het by geleentheid die boere opgeroep om gewelddadig teen die owerhede in opstand te kom, weermagdiens was vir hom geen gewetenskwessie nie, hy was oortuig dat die Christelike etiek nie groot trefkrag binne die samelewing kan hê nie. Aan die ander kant is ons baie aan Luther verskuldig. Die volgende kan kortliks genoem word: Hy het die verband tussen vryheid en die Christelike geloof belig, die kritiese omgang met die Bybel begrond, mense oortuig om die Bybel nie as handboek vir die wêreldgeskiedenis of die wetenskap te gebruik nie, God Christosentries verduidelik, die algemene priesterskap van die gelowiges beklemtoon, aangedring op die vertaling van die Koran in Latyn, grense gestel aan die mag van maghebbers, die kinderdoop bevorder, die Duitse taal ontwikkel deur sy Bybelvertalings, ingesien dat die bose méér is as die somtotaal van bose dade, en die belangrikheid van die eskatologie vir die teologie beklemtoon (Jung 2016:9-13).

Martin Luther wou aanvanklik enkele onaanvaarbare praktyke in die Rooms-Katolieke Kerk van die laat-Middeleeue krities beredeneer, maar het toe uiteindelik die wêreld verander. Om in ʼn paar sinne ʼn evaluasie van sy werkingsgeskiedenis te gee, is onbevredigend. Nogtans behoort die volgende paar opmerkings ʼn aanduiding te gee van wat kerke en beskawings aan Luther te danke het:

Luther het die Lutherse Kerk nagelaat (alhoewel dit nooit sy bedoeling was om ʼn nuwe kerk te stig nie); hierdie Kerk tel vandag ongeveer 70 miljoen lidmate. Geslagte Lutherane is opgevoed aan die hand van die Klein Kategismus. Hierdie Kategismus het meegehelp dat miljoene Christene ʼn goeie begrip het van die inhoud van die Bybel. Op grond van hulle kategetiese kennis het talle Duitsers, soos Johann Sebastian Bach (die bekendste van almal), van die mooiste musiek ooit gekomponeer.

Danksy Luther het Reformatoriese kerke ʼn eie argitektuur ontwikkel. Kerkgeboue word binne die Reformatoriese tradisie doelmatig, met die oog op gemeentelike aktiwiteite, gebou. Die verskuiwing van die klem vanaf bisdomme na gemeentes het nuwe betekenis aan die uitdrukking “gemeenskap van gelowiges” gegee. Kerklik-hiërargiese denke het plek gemaak vir broers en susters wat op gelyke voet, saam, onder die heerskappy van Christus kan lewe.

Die noue band tussen gemeentelede het meegebring dat die wêreldse nood en ellende van mense binne die gemeentes bekend geraak het. Een van Luther se groot verdienstes is dat hy die diakonaat kragdadig ontwikkel het. Hy het gesorg dat gemeentes diakonale fondse opbou en volgens streng etiese beginsels bestuur. Hy het aan die kerk die voorbeeld gestel vir hoe daar na siekes en weeskinders omgesien moet word. Die gedagte dat mense wat kan, weeskinders aanneem, is aan Luther te danke. Hy het talle weeskinders in sy eie huishouding opgeneem en só die voorbeeld gestel.

Luther het ʼn reusebydrae gelewer ten opsigte van die emansipasie van die vrou. Sy huwelik met die gewese non, Katharina von Bora, het geweldige goeie gevolge vir vroue gehad. Die status en statuur van Katharina het bygedra tot ʼn ontwikkelingsproses wat ʼn belangrike kerklike plek en funksie vir vroue sou verseker. Luther het, teen die tradisie in, Katharina as sy enigste erfgenaam benoem. Die regsisteem van daardie tyd het sy testament ongelukkig as ongeldig verwerp. Hierdie onreg aan sy vrou en kinders sou egter nuwe impulse meebring wat bygedra het tot die transformasie van die Duitse, en later Europese, samelewingstruktuur.

Foto (bo): Luther en sy vrou Katharina von Bora

Duisende studente van regoor Europa en Skandinawië het in Wittenberg studeer. Die aansien van Luther en Melanchthon het verseker dat die Reformasie van die begin af ʼn ekumeniese aangeleentheid was. Die intellektuele verbondenheid tussen studente, leermeesters en kollegas is ʼn kosbare skat van die Reformatoriese erfenis. Die skending van hierdie erfenis is verraad teenoor die Reformasie.

Luther het ʼn belangrike bydrae gelewer tot die gedagte van verpligte skoolonderrig vir kinders. Die Reformasie het ʼn sterk intellektuele komponent. Luther het daarom besef dat slegs kinders wat behoorlik kan lees en skryf, bevredigend aan die gemeentelike aktiwiteite kan deelneem. ʼn Kind wat nie kan lees nie, kan nie uit die Bybel en die Kategismus lees nie. ʼn Kind wat nie ʼn basiese kennis van geskiedenis het nie, kan nie die kerkgeskiedenis verstaan nie.

Onlangse artikels oor Luther

Van Wyk, I.W.C., 2015, ‘Martin Luther en teologiebeoefening in de toekoms’, HTS Teologiese Studies 71(3), Art. #3070, 8 pages, http://dx.doi.org/10.4102/hts.v71i3.3070. 

Van Wyk, I.W.C., 2017a, ‘Die barmhartige God, regverdiging en goeie werke deur Luther’, in ‘Nadenke oor 500 jaar se Reformatoriese teologie’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, suppl. 11, 73(5), a4558. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i5.4558.

Van Wyk, I.W.C., 2017b, ‘Die lewe en werk van Martin Luther (1483-1546): ʼn Leksikografiese bydrae tot Reformasie 500’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 73(1), a4588. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i1.4588.

Van Wyk, I.W.C., 2017c, ‘Martin Luther en Johannes Calvyn oor die Christelike vryheid’, in ‘Nadenke oor 500 jaar se Reformatoriese teologie’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies, suppl. 11, 73(5), a4557. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i5.45587.

Van Wyk, I.W.C., 2018a, ‘Martin Luther se veelkantige verhouding tot die filosofie’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 74(4), 4978. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v74i4.4978.

Van Wyk, I.W.C., 2018b, ‘Luther and Calvin on predestination: A comparison’, In die Skriflig 52(2), a2342, http://doi.org/10.4102/ids.v52i2.2342.

Aanbevole literatuur
Biografieë

Dietrich, V., [2008] 2013, Martin Luther: Sein Leben und seine Zeit, 3. Auflage, Deutscher Taschenbuch Verlag, München.

Kohnle, A, 2015, Martin Luther: Reformator, Ketzer, Ehemann, Evangelische Verlagsanstalt (SCM), Leipzig

Köpf, U., 2015, Martin Luther: Der Reformator und sein Werk, Reclam Verlag, Stuttgart.

Leppin, V., [2006] 2010a, Martin Luther, 2., durchgesehene, aktualisierte Auflage, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt. (Gestalten des Mittelalters und der Rennaissance, Herausgegeben von Peter Herde).

Schilling, H., 2014, Martin Luther: Rebell in einer Zeit des Umbruchs, C.H. Beck, München.

Handboeke

Beutel, A. (Hg.), [2005] 2010, Luther Handbuch, 2. Auflage, Mohr Siebeck, Tübingen. (UTB 3416).

Kolb, R. Dingel, I. & Batka, L. (ed), 2016, The Oxford Handbook of Martin Luther’s Theology, Oxford University Press, Oxford.

McKim, D., (Ed) 2003, The Cambridge Companion to Martin Luther, Cambridge University Press, Cambridge.

Teologie

Barth, H-M., 2009, Die Theologie Martin Luthers: Eine kritische Würdigung, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.

Bayer, O., [2003] 2007, Martin Luthers Theologie: Eine Vergegenwärtigung, 3. Erneut durchgesehene Auflage, Mohr Siebeck, Tübingen.

Danz, C. (Hrsg.), 2015, Martin Luther, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt. (Neue Wege der Forschung: Theologie).

Lohse, B., 1995, Luthers Theologie in ihrer historischen Entwicklung und in ihrem systematischen  Zusammenhang, Vandenhoeck, Göttingen.

Schwarz, R., [2015] 2016, Martin Luther – Lehrer der christlichen Religion, 2. Auflage, Mohr Siebeck, Tübingen.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap