Die Moderamen het met hul vergadering van 15 Mei 2020 besluit dat ek, as voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, geleentheid moet skep om ’n boodskap van bemoediging aan die predikante van die Kerk te rig.

Ons het besluit dat Zoom-gesprekke in ringsverband die effektiefste wyse van kommunikasie sal wees. Op Donderdag 21 Mei 2020 het ek met die gesprekke begin en met die uitsondering van Vrydae, ’n gemiddeld van vier gesprekke per dag gehandhaaf. Die virtuele bywoning was redelik goed en 145 predikante uit 36 van die 38 ringe het deelgeneem. Enkele emeriti het ook by die gesprekke aangesluit.

Tydens die beplanning van die sessies het ons besluit om ’n meningspeiling aan die gesprekke te koppel. Hierdie meningspeiling verteenwoordig die situasie in elke konteks gedurende die 55ste en 68ste dag van die grendeltyd. Op die 66ste dag het die land van Vlak 4 na Vlak 3 oorbeweeg. Aan die einde van elke gesprek kon predikante ’n keuse uitoefen om aan die peiling deel te neem. Elke peiling het anoniem met behulp van Zoom Polls geskied en die resultate was onmiddellik beskikbaar.

Die volgende vrae het gedien:

  1. Het jy op Sondae gedurende die grendeltyd eredienste of boodskappe op watter wyse ook al met jou gemeente gedeel?
  2. Het jy die vrees dat lidmate ná die grendeltyd so gewoond aan aanlyn-eredienste gaan wees dat hulle nie meer eredienste fisies gaan bywoon nie?
  3. Dink jy jou gemeente sal Covid-19 finansieel oorleef?
  4. Is jy al genader oor die moontlike vermindering van jou traktement en/of reistoelaag?
  5. Dink jy dat fisieke afstand soos gedurende die grendelsituasie toegepas en vrese vir moontlike infeksie vanweë hernude uitbrekings in die toekoms, ’n uitwerking op lidmate se uitlewing van fisiese koinonia sal hê?

Die uitslag was soos volg:

Vrae Ja Nee Soms Onseker Totaal
Vraag 1 141 3 1   145
Vraag 2 22 83 40   145
Vraag 3 84 9   52 145
Vraag 4 45 100     145
Vraag 5 64 50   31 145

Wat Vraag 1 betref, is dit duidelik dat predikante deurgaans gedurende Vlak 5 en Vlak 4 van die grendeltyd eredienste of boodskappe op verskillende maniere met gemeentelede gedeel het. Baie van die predikante het ook op daaglikse basis dagstukkies versprei. Uit die gesprekke het dit geblyk dat die skep van video’s of oudioboodskappe aanvanklik by die meeste groot spanning meegebring het. Gelukkig was daar vaardige dominees wat altyd bereid was om die minder ervare kollegas by te staan. Die leerkurwe wat predikante ondergaan het, was enorm. Dit het ook geblyk dat voorbereidingstyd vir eredienste en daaglikse aanlynboodskappe verdriedubbel het.

Daar was deurgaans ’n opgewondenheid oor die reik- en trefwydte van hul boodskappe. Vanuit ’n plattelandse dorp is gerapporteer dat hul eredienste deur mense in agt lande gekyk is. Die moontlikheid van ’n virtuele gemeente buite die geografiese grense van die gemeente het ’n werklikheid geword. Ten opsigte van hierdie moontlikhede is daar ook kommer uitgespreek. Sommige het gevoel dat hul blootstelling in die kuberruim maak dat hulle aan soveel ander aanlynpredikers gemeet word en dat dit ekstra spanning wek wat hulle uitgelewer laat voel. Een sober stem het uitgewys dat wanneer kykersprofiele ontleed word, dit gou duidelik word dat die grootste gros kykers net vir ’n minuut lank kyk, ander kyk net ’n gedeelte en die minderheid kyk enduit. Die vrees ontstaan of hierdie tendense nie die bestaande verbruikersmentaliteit nog verder gaan voed nie. Tog is daar konsensus dat aanlyn-eredienste, in samehang met die gewone eredienste, voortaan deel van die sogenaamde nuwe normaal gaan wees.

By Vraag 2 het die minderheid (22) aangedui dat daar wel ’n vrees bestaan dat minder lidmate eredienste post-Covid-19 gaan bywoon. Die predikante wat soms (40) die vrees het, is beduidend, en net die toekoms sal leer of die vrese enige gronde gehad het.

Ten opsigte van Vraag 3 het die meeste kollegas (84) die mening gehuldig dat hul gemeentes Covid-19 sal oorleef, terwyl daar tog ’n beduidende groep (54) was wat onseker gevoel het. Enkele predikante het gerapporteer dat hulle in hierdie tyd selfs meer inkomste as in die verlede ontvang het, veral in die vorm van eenmalige groter bedrae. Ander gemeentes was uit die staanspoor onder druk, veral gemeentes wat huurinkomste verloor het. Die volgende gemeenskaplike weeklag het soos ’n refrein in elke gesprek weerklink: Ons basaar of jaarlikse fondsinsameling sou in hierdie maande plaasgevind het – en nou kan dit nie meer nie. Die verlies aan hierdie jaarlikse inkomstebron laat die angsvlakke geweldig styg.

Met verwysing na Vraag 4 is dit gerusstellend dat ’n minderheid (45) predikante genader is ten opsigte van die moontlike vermindering van hul traktement en/of reistoelaag. Die onsekerhede wat die pandemie meebring, tesame met die gepaardgaande ekonomiese knyptang, mag dalk hierdie situasie in die volgende maande drasties verander. By die meeste predikante was daar kommer dat hul gemeentes in die volgende maande groter finansiële druk gaan ervaar.

By Vraag 5 het ek telkens verduidelik wat met fisiese koinonia bedoel word, naamlik dat dit die soengroetery, drukkies, handdrukke en lekker saamkuier na eredienste behels. Die meeste predikante (64) het ja geantwoord, terwyl 31 van hulle onseker was. Dalk is die meeste van ons so oorweldig deur die dra van maskers en die handhawing van fisieke afstand dat ons, ten minste vir die kort termyn, hierdie vrese koester. My gewaarwording is dat die gee van drukkies, veral by ons jonger mense die afgelope dekade of meer, baie meer algemeen geword het as ooit tevore. Dit bly ’n vraag of hierdie gebruik ’n langtermyndemper op die spontaneïteit van fisiese koinonia in gemeentes kan plaas.

Tydens elke gesprek het ek die inhoud van my artikel in Die Hervormer van Junie 2020 behandel. Daarin is die Stockdale-paradoks en Jeremia 28 en 29 met mekaar in verband gebring. Daar is veral klem gelê op die feit dat ons onwrikbaar moet glo en vertrou dat voorspoed aan die ander kant van Covid-19 vir ons wink, maar dat ons terselfdertyd die wrede werklikheid van die pandemie en stukkende ekonomie moet verreken. My indruk is dat al die predikante deeglik onder die indruk verkeer van moeilike tye wat nog voorlê, maar tog vertrou dat God ons deur hierdie tye sal dra.

Ten tyde van die gesprekke was daar enkele in die Wes-Kaap, onder andere ds Chris le Roux en sy gesin, wat Covid-19 onder lede gehad het. Gemeentelede in ander streke van die land was grootliks gespaar. Ontleders voorspel dat daar ’n eksponensiële styging in die aantal infeksies gaan wees en dat die draaipunt waarskynlik eers gedurende September/Oktober sal kom. Dan is daar ook die vrese vir ’n tweede vlaag infeksies wat te voorskyn kan kom.

Ons land en in die besonder die Kerk gaan uitdagende tye tegemoet wat van ons onwrikbare geloof en toewyding gaan verg. Met die oog op hierdie tye bied Efesiërs 3: 20-21 aan elkeen groot troos, veral as ons met tye moedeloos word en dit vir ons voel ons gebede skiet ver te kort: Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

(Dr André Ungerer is voorsitter van die Kommissie van die AKV en hoof van die HTK)

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap