Lees Markus 16: 9-20 en Psalm 115
Jesus leef in ’n wêreld waar oor hemel en aarde gedink word in terme van bo, onder en tussenin. Bo in die hemel is God se woonplek. Onder die aarde is die doderyk waar Hy nié is nie. Tussenin, op die aarde, woon die mens. Alhoewel die hemel en die aarde ver van mekaar verwyderd is, en God wat in die hemel woon gans anders is as die mens wat sy woonplek op die aarde het, beteken Jesus se opvaar na die hemel dat daar ’n band bestaan tussen die aarde en die hemel.
Die boodskap van Jesus se hemelvaart is nie dat Hy van die mensdom af weggegaan het nie. Dit beteken nie dat God vir die tyd wat Jesus op aarde geleef het met die mens bemoeienis gemaak het en noudat Jesus opgevaar het na die hemel skielik van ons vergeet het nie. Jesus se hemelvaart beteken dat die band tussen hemel en aarde, die band tussen God en mens, wél bestaan en dat daardie verhouding vir God belangrik is. Deur Jesus se hemelvaart hou God hierdie band tussen Hom en die mens in stand deurdat Hy vanuit die hemel oor die aarde regeer. Oor Jesus se hemelvaart bely die kerk immers óók: Hy het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God die Vader…
Iets van hierdie verhouding tussen ons en God wat Hy in stand hou “vanuit die hemel”, lees ons ook in Psalm 115. Hier vergelyk die Psalmdigter die afgode van die heidendom met die God van Israel. Oor die heidene se afgode sê hy dat hulle oë het maar nie kan sien nie, ore het maar nie hoor nie, ’n mond het maar nie praat nie en daar kom geen geluid uit hul keel nie. Hulle beteken niks! Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word – hulle sal niks wees en tot niet gaan.
Die God van Israel is egter anders. As die heidene vra: Waar is julle God want ons kan Hom nie sien nie? Waar is Hy want Hy help julle nie? kan Israel antwoord: Ons God is in die hemel. Vanuit die hemel sorg Hy vir sy kinders. Hy is deel van hul lewens. Daar bestaan ’n besondere verhouding tussen Hom en sy kinders vir wie Hy oneindig liefhet.
Deur met so ’n geloof na die toekoms te kyk, kan ons verseker daarvan wees dat Jesus se hemelvaart nie ’n “weggaan” van ons af beteken nie, maar eerder dat Hy na ons omsien en nie van ons vergeet nie. Hy gaan vir ons plek gereed maak. Dit gee ook vir ons hoop!
Na Jesus se hemelvaart doen God nog iets om hierdie sterk band tussen hemel en aarde, tussen Hom en sy kinders, in stand te hou. Hy stort die Heilige Gees uit. Hy gee weer eens die versekering dat Hy deur sy Gees by sy kinders teenwoordig is. Jesus se hemelvaart beteken vir ons dat die band tussen hemel en aarde, oftewel die verhouding tussen ons en God, vir Hom baie belangrik is. In Jesus se geboorte, dood, opstanding en hemelvaart word dit vir ons duidelik dat God by ons wil wees en dat Hy ons by Hom wil hê. Hy maak ons binne hierdie tydelike aardse bestaan van ons, vas aan Hom.Hemelvaart gee vir ons die versekering dat dié God wat met die geboorte van Jesus Christus gewys het dat Hy Immanuel is, ook ná Jesus se hemelvaart stééds Immanuel is – God met ons. Hy is nie weg nie! Dit gee vir ons hoop waarmee ons die toekoms, óns toekoms, tegemoet kan gaan.