Lewe
Lewensloop in kort
1507 Word gebore op Pernaja, Finland
1520 Kom op skool in aanraking met humanistiese en Reformatoriese idees
1531 Bestudeer Luther se preke
1536 Studeer in Wittenberg onder Luther en Melanchthon
1539 11 Februarie Magister in Teologie
1555 Biskop van Turku
1557 Sterf op 9 April
Lewensverhaal
Die Finse Reformator Mikael Agricola (vermoedelik Michael Olaui of Mikkel Olofsson in Sweeds) is ± 1509 in die dorpie Pernaja, 70 kilometer oos van Helsinki, gebore. Hierdie deel van die provinsie Uusimaa (Nyland in Sweeds) is tot vandag ʼn Sweedssprekende gedeelte van Finland. Om hierdie rede is daar nie duidelikheid oor sy moedertaal nie. Wat historici wel weet, is dat hy ten volle tweetalig moes gewees het.
Agricola (wat “boer” beteken) kom uit ʼn welgestelde boerefamilie. Hy is na die Latynskool van Wiborg gestuur waar hy in 1520 met die humanistiese en Reformatoriese idees in aanraking gekom het. Wiborg was ʼn handelstad waar daar nie alleen Fins en Sweeds gepraat is nie, maar ook Nederduits en Russies. Ons wil aanvaar dat hierdie taalbegaafde mens ook Nederlandse literatuur gelees het. Wat sy oorspronklike van was, is nie seker nie. Die van Agricola is gedurende sy skooltyd aan hom gegee – ʼn bekende van binne Duits-humanistiese kringe.
Graaf Johann van Hoya en Bruchhausen was die regent van Wiborg. Hy was getroud met die suster van die Sweedse koning, Gustav Vasa, wat teen die Deense opperheerskappy geveg het en die Reformasie (in die persoon van Olaus Petri, die Hervormer van Swede) gesteun het. Belangrik is dat Johann ʼn aanhanger van Martin Luther was. In 1528 word Johann Block aangestel as hofprediker (predikant van die kasteel van die regent). Block het oor ʼn reusebiblioteek beskik, met literatuur van die kerkvaders, humanistiese geleerdes, Nuwe-Testamentiese kommentare van Erasmus en geskrifte van Luther en Melanchthon. Agricola het vrye toegang tot hierdie biblioteek gehad totdat Block in 1532 ʼn beroep na Barth in Meckelenburg aangeneem het.
Foto (bo): Standbeeld van Agricola by Wiborg
In 1528 word Martin Skytte die biskop van Turku (Åbo – Sweeds). Danksy die invloed van die rektor van die Latynskool, word Agricola die sekretaris van die biskop. As sekretaris ontmoet hy ʼn onderwyser, Peder Särkilax, wat ʼn leerling van sowel Erasmus in Leuven as Luther in Wittenberg was. Särkilax motiveer hom om priester te word. In 1531 koop hy die postilles van Luther en bestudeer dit grondig. Hy maak 1 300 randaantekeninge in Latyn, Sweeds en Fins (die heel eerste stukkie teologie in Fins). Hierdie randaantekeninge sluit in teksverwysings en verklarings van Griekse en Hebreeuse woorde en verduidelikings van die tipiese Reformatoriese uitsprake van Luther in Sweeds en Fins.
Sweedse en Finse studente kon eers vanaf 1530 in Wittenberg gaan studeer. In die wintersemester van 1536 registreer Michael Agricola Villand Svetiae as die vierde Finse student in Wittenberg. Op 11 Februarie 1539 word ʼn Magister in Teologie aan hom toegeken, ná intensiewe studie by Luther en Melanchthon. Hy was bevoorreg om aan Luther se tafelgesprekke deel te neem. Sowel Luther as Melanchthon het vir hom getuigskrifte geskryf wat hy aan koning Gustav Vasa moes oorhandig, in die hoop dat dié aan hom ʼn borgskap sou toeken om Reformatoriese literatuur te produseer.
Ná sy terugkeer uit Wittenberg word Agricola rektor van die katedraalskool in Turku. Hy beklee hierdie pos tot in 1548. Hy was ontevrede met die koning se skoolbeleid wat ten doel gehad het om skrywers vir die koningshuis op te lei en nie vir die breë samelewing nie. In 1555 word Agricola die biskop van Turku. Hy ondervind ernstige probleme met die koning se inmenging in kerksake. Sy eerste ampshandeling, die Missa episcopalis, beskou hy as ʼn betoog ten gunste van die vryheid van die kerk (libertas ecclesiae). Sy tyd as biskop was kort en spanningsvol, hoofsaaklik as gevolg van die oorlog tussen Swede en Rusland. Hy word as vredesonderhandelaar na Moskou gestuur. Tydens die terugreis word hy siek en sterf op 9 April 1557.
Sy bydrae tot die Reformasie
Werke
Agricola is die vader van die Finse Reformasie. Hy was die eerste persoon wat in Fins kerklik-teologiese literatuur gelewer het. Dit was nie uit patriotisme gedoen nie, maar omdat daar ʼn behoefte aan Finse literatuur was. Al wat daar tot en met die 16de eeu beskikbaar was, was in Sweeds. Byna die helfte van die lidmate in en rondom die groot stede was Finssprekend, en hulle het ʼn behoefte gehad aan eredienste in hulle eie taal. Agricola se Finse literatuur is tussen 1543 en 1552 deur die koninklike boekdrukkery gedruk en versprei.
Agricola se eerste Finse geskrif, die ABC-boek, was die eerste Finse grammatika. Hy het geweet dat hy die Finne eers moet leer lees voordat hulle die Bybel in hulle eie taal sou kon lees. Tussen die grammatikale gedeeltes het hy die hoofdele van sy kategismus ingevoeg. Agricola het hierdie Kategismus, saamgestel uit Luther se Klein Kategismus (1529), die Latynse Kategismus van Melanchthon (1536), asook die Latynse Kategismus van Andreas Osiander (1539). Daarbenewens het hy ook eie, selfstandige vrae en antwoorde geskryf. Op grond van hierdie publikasie word Agricola beskou as die vader van die Finse literatuur. Hy word in Finland vereer as ʼn volksheld.
Agricola se eerste volledig selfstandige Finse werk was sy Gebedeboek (1544). Hierdie boek bevat 695 gebede. Dit bestaan uit drie dele: a) Bybelse gebede, b) gebede vir die hele kerkjaar, c) gebede vir stiltetyd. As bronne het hy die Bybel, die Missale Aboense (die Misboek van Turku), en gebede van Luther, Melanchthon en Erasmus (hy het sy Precationes aliquot volledig vertaal) gebruik.
Sy belangrikste bydrae verskyn in 1548, die Finse Nuwe Testament. Hierdie vertaling (net soos Luther se Bybels) is versier met talle illustrasies en afdrukke van kunswerke. Hierdie uitgawe beslaan 700 bladsye. Hy het veral gebruik gemaak van Erasmus se Griekse teks asook sy Latynse vertaling van die Vulgaat, en natuurlik Luther se Duitse Nuwe Testament. Hy het, op voetspoor van Luther, sy vertaling ook voorsien van ʼn lang voorwoord (eintlik ʼn teologiese inleiding tot die geskrifte van die Nuwe Testament). Daar is ook aan die kant verklarings geskryf (dus ʼn verklarende Bybel!). Die vertaling is so ver moontlik ʼn letterlike vertaling. ʼn Vrye, interpreterende vertaling was in daardie tyd nie denkbaar nie.
Foto (bo): Buiteblad van Agricola se Finse Nuwe Testament van 1548
Weens ʼn geldtekort kon hy nie die volledige Ou Testament in Fins vertaal nie. Hy het wel die Psalms en enkele profeteboeke vertaal. ʼn Ander probleem was dat hy nie behoorlik Hebreeus geken het nie. Hy het dus grootliks Luther se vertalings in Fins vertaal.
Finse werke in kort
1543 Die ABC-boek
1544 Die Gebedeboek
1548 Die Nuwe Testament
1549 Die Mis
Die Agende (liturgie aan hand van liturgiese kalender)
1551 Die Psalms
Dele uit die profete
1552 Profete Haggai, Sagaria en Maleagi
Sy blywende nalatenskap
Mikael Agricola het in Wittenberg die belangrikheid van godsdiensbeoefening in die moedertaal geleer. Daarbenewens het hy dáár geleer dat kerkwees nou gekoppel is aan geletterdheid en kulturele ontwikkeling. Hierdie Reformatoriese idees het hy aan sy Finse landsgenote oorgedra.
Tydens die Sweedse oorheersing van Finland het Agricola ʼn redelik onbekende figuur gebly. Eers in die nasionalistiese 19de eeu word hy ʼn volksheld. Danksy Agricola en die Reformasie het Fins tot die amptelike taal van Finland ontwikkel. Die Finse taal het ontwikkel tot ʼn uitstaande wetenskapstaal. Die Finse letterkunde word deur die Duitsers aanbeveel as verpligte leesstof vir skoliere. Sy sterfdag word as die geboortedag van die Finse taal herdenk. Die Amerikaanse Lutherse Kerk herdenk sy lewe en werk jaarliks op 10 April. Die Finse skoolstelsel word geloof as die heel beste in die ganse wêreld – en dit alles te danke aan Agricola en die invloed van Luther en Melanchthon. In die Domkerk in Helsinki staan standbeelde van Luther, Melanchthon en Agricola. Verdere standbeelde is vir hom opgerig in Wiborg, Turku en Pernaja. ʼn Fiktiewe afbeelding van die man is in een van die vensters in die Kasteelkerk in Wittenberg aangebring, en ʼn gedenktafel is in 1940 in die Lutherhuis opgerig.
Geskryf deur: Prof Natie van Wyk
Bibliografie
Werke
Agricolan, Mikael, 1931, Teokset I-III [Michael Agricola Geskrifte], Faksimile, Porvoo.
Literatuur
Heininen, S., 2014, Michael Agricola, in Dingel, I. & Leppin, V. (Hrsg.) 2014, Reformatorenlexikon, pp. 9-15, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.
Kallio, V., 1989, Finland: Cultural perspectives, translated by P. Herring, Werner Söderström, Helsinki.
How the Reformer Mikael Agricola taught the Finns to read, http://www.luther2017.de/reformation//and the church (3/12/2016)