In 1937 het die destydse Departement van Volkswelsyn besluit om rentevrye lenings beskikbaar te stel vir die oprigting van tehuise vir bejaardes. Die vroue van ons Kerk het spoedig hiervoor begin werk, en in 1948 gee die NHSV se Kongres toestemming vir die stigting van ’n utiliteitsmaatskappy wat bekend sou staan as die Ondersteuningsraad (Monumenttehuise). In 1984 is die naam verander na Monumentetehuise van die NHSV.

Sedertdien het die NHSV se baanbrekerswerk met die oprigting en instandhouding van bejaardesorg (ouetehuise) onverpoos voortgegaan. Mettertyd was die ontwikkeling van bejaardesorg sodanig dat elke inrigting sy eie bestuur het, met ’n direksie wat oorkoepelend leiding neem.

Aanvanklik was die grootste getal inwoners van die Kerk se tehuise vir bejaardes lidmate van die Hervormde Kerk. Nougeset, in lyn met die Kerk se tradisie, het die plaaslike Hervormde gemeente omgesien na die lidmate wat by die Kerk se tehuise ingetrek het. Die Hervormers wat ingetrek het, het ook by die plaaslike Hervormde gemeente ingeskakel. Die plaaslike gemeente het hierdie lidmate dadelik aanvaar, en in baie gevalle is vervoer voorsien om die tehuis se bejaardes na die kerk te vervoer. In ander gevalle is daar elke Sondag of in die week in die tehuis ’n “Hervormde” erediens gehou. Verder het die predikant en kerkraad van die plaaslike gemeente al die tehuis se Hervormde lidmate gereeld besoek en pastoraal begelei.

Geleidelik het die situasie verander. Die Hervormde lidmate in die Kerk se tehuise het minder geword en die getal van ander kerke se lidmate het toegeneem. In 2013 was die Hervormers in die Kerk se tehuise nog 45% van die totale inwonertal. In daardie stadium was die NG lidmate 27%, die Gereformeerdes 7% en ander kerke se lidmate 21%. In 2019 het die getal Hervormers nog verder gedaal. Daar was toe slegs 20% Hervormers, 37% NG, 6% Gereformeerd en 37% van ander kerke. Met ander woorde, die grootste getal van die tehuise is nie lidmate van die Hervormde Kerk nie. Daar is ook baie van die NG Kerk en ander kerke se lidmate wat nie by hul plaaslike kerke inskakel nie. Gevolglik kan beweer word dat ’n groot getal van die tehuise se inwoners eintlik kerklos en kerkloos is.

Nie net die getal lidmate van die Hervormde Kerk het oor die jare verander nie, maar ook die denke, ingesteldheid, persepsies en die “wêreld” van bejaardes oor die algemeen. Enersyds is bejaardes in 2020 nog dieselfde as in 1948. Navorsing toon en eie ervaring het uitgewys dat die volgende algemene tendense steeds by bejaardes voorkom:

  • Pyn en lyding wat onlosmaaklik deel is van die verouderingsproses namate siekte, depressie en demensie voorkom.
  • Bekommernis en vrees op verskillende vlakke: inkomste wat besig is om te krimp, kwellinge oor wat gaan word van hulself, hul kinders en kleinkinders, hul volk, hul land…
  • Verlange, verlies en droefheid oor, van en na ’n huweliksmaat wat miskien nie meer daar is nie, kinders, kleinkinders, familie en vriende wat reeds gesterf het of wat in die buiteland of onbereikbaar elders woon. Sommige het die verskriklike belewenis dat ’n kind of familielid hulle afgelaai het en dat hulle nooit weer hul naasbestaandes gesien of van hulle gehoor het nie. Veral Sondae is daar die verlange na die gemeente waarby hulle jare lank betrokke was.
  • Eensaamheid vanweë die feit dat jy feitlik niemand in die tehuis ken nie en dat jy nie maklik vriende maak nie, of dat jy net eensaam voel al is daar baie mense rondom jou.
  • Gevoel van nutteloosheid: Voorheen was julle die voorlopers en voorvatters in die huisgesin, die familie, by die werk, in die gemeenskap, in die gemeente. Nou is jy net ’n nommer.
  • Teleurstelling: Baie het hoë verwagtings gekoester van hul werk, hul huwelik, hul kinders en kleinkinders se toekoms, hul Kerk en die gemeente se groei, maar dit het nie gerealiseer nie.
  • Ongelukkigheid: Daar is van die bejaardes wat oor verskeie aspekte in die tehuis ongelukkig en selfs opstandig is, maar hulle kan niks daaraan doen nie.
  • Vrees vir die dood: Namate ’n mens se jare toeneem, dink jy meer oor die dood: jou eie dood en die dood van jou geliefdes en bekendes. In ’n tehuis vir bejaardes leef mense feitlik saam met die dood. Gereeld sterf daar iemand wat jy ken of hoor jy van ’n inwoner se dood.

Gedurende noodtye soos Covid-19 intensiveer die trauma van bejaardes veral in aftreeoorde en ouetehuise. Op 15 Junie 2020 skryf Maretha Botes, ’n maatskaplike werker, op Maroela Media oor die emosionele belewenis van bejaardes in tehuise. Een van haar kollegas sê: Die eensaamheid moet onbeskryflik wees! Watter gevoelens ervaar my ma? Verlange, verwerping, vrees, angs, woede, hartseer, frustrasie? In baie gevalle lei hierdie gevoelens tot depressie. Die lewe het vir baie van hulle een groot donker gat geword.

Daar is by bejaardes oor die algemeen ’n behoefte aan iemand wat na hulle sal luister, wat met hulle sal praat oor hul vreugde, maar veral oor hul hartseer, pyn en trauma. Iemand wat hulle kan vertrou, wat die nodige kundigheid en empatie het om werklik vir hulle om te gee en hulle te begelei ooreenkomstig hul behoeftes.

Andersyds is bejaardes vandag heelwat anders as voorheen: Op baie terreine dink, praat, leef en is hulle anders. Hulle het nog soos altyd fisiese, geestelike en emosionele behoeftes, maar die meeste bejaardes dink en voel vandag heeltemal anders oor kerkwees as 40 jaar gelede. Vroeër jare het lidmate, ook dié in tehuise, sonder meer ingeskakel by en deel geword van die kerk en gemeente binne wie se grense hulle geval het. Vandag het die situasie drasties verander. Hulle soek vir hulle ’n gemeente wat “pas” by hul “behoeftes en verwagtings”. Sommige bejaardes wat van nabygeleë gemeentes kom, gaan voort om by daardie gemeentes in te skakel. Persone wat van verafgeleë plekke kom, skakel in by die gemeente waaronder die ouetehuis ressorteer of die gemeente wat hulle gesoek en gevind het. Daar is egter Hervormde lidmate, NG lidmate, en baie van ander kerklike denominasies wat nêrens ’n kerklike tuiste vind nie en geen pastorale versorging ontvang nie.

Die groot vraag is: Wat gebeur met die persone wat aan ander kerklike denominasies of geen kerk behoort nie en dié wat na hul opname in die tehuis kerklos geraak het? Baie van hulle se ingesteldheid is sodanig dat hulle nie maar net inskakel by die Hervormde Kerk of die NG Kerk nie.

Nie alleen het die getalle in die Kerk se tehuise en die ingesteldheid van die  inwoners verander nie, maar ook die Kerk se visie. Ons is nie net deel van ’n veranderende wêreld nie, maar ook van ’n veranderende Kerk. Die verkondiging van die evangelie staan steeds sentraal. Die Kerk het egter algaande besef dat hy nie langer kan vaskleef aan ’n selfgesentreerde instandhoudingsmodel waar net omgesien word na eie lidmate binne eie grense wat amptelik deel is van die Hervormde Kerk nie. Prof Wim Dreyer doen in ’n proefskrif ’n beroep op die Kerk vir ’n kritiese ondersoek rakende insigte van die praktiese ekklesiologie en veral die missiologie. Vanuit hierdie teologie, in die lig van die Reformasie, en in die lig van die Woord, sê hy dit is tyd dat daar ’n transformasie, ’n bekering, terug na die Woord sal plaasvind. ’n Bekering weg van die Kerk se ingesteldheid om net na die eie belang om te sien, die na-binne-gerigtheid, die oorlewingsworsteling, die kerkisme, na die Koninkryk van God (Dreyer WA, 2010, ongepubliseerde DD-proefskrif, UP. Praktiese ekklesiologie en bedieningspraktyk, met verwysing na die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika).

Oudl Tom Moodie sluit in ’n artikel by prof Dreyer aan en verwys ook na prof DJ Bosch. Hy stel dit dat die Hervormde Kerk soos ander hoofstroomkerke verander het van ’n lewende gemeenskap en dinamiese beweging tot ’n instituut wat in vaste strukture gestol het en wat dreig om Christus te verduister – ’n verskuiwing in denke waar die evangelie sy karakter as gebeure verloor en al meer verstaan word in terme van ’n noukeurig geformuleerde sisteem van gelooofsreëls (Tom Moodie, Missionale bediening in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika; Tydskrif vir Hervormde Teologie, Junie 2016). Volgens Moodie bring dit mee dat die Kerk met baie dinge besig was sonder om werklik na die Here te luister. Dit alles vra dat die Kerk sal afsien van die dominante institusionele benadering, kerkisme en onaanpasbare kerklike praktyk, en dat daar ’n harts- en denkeverandering, ’n transformasie sal plaasvind, en nie net hier en daar tegniese verskuiwings nie.

Die insigte en oproepe van prof Wim Dreyer en baie ander predikante en lidmate het nie in die lug bly hang nie. Dit het die bedieningspatroon van baie gemeentes van die Hervormde Kerk geword en ook die amptelike standpunt van die Kerk. Tydens die 72ste Algemene Kerkvergadering in 2019 is die volgende beskrywingspunt aanvaar: …op grond van sy missionale wese vestig die Kerk bedieninge om die evangelie van Jesus Christus aan almal te verkondig Daar is ook besluit dat hierdie beskrywingspunt se inhoud in die Kerkorde opgeneem sal word (Notule 72ste Algemene Kerkvergadering, Beskrywingspunt 21).

Die Kerk se bediening behoort nie net missionaal te wees nie, maar ook holisties. Die Kerk het die roeping om om te sien na die totale mens: liggaamlik, geestelik en emosioneel; sy roeping is pastoraal-diakonaal-presbiteriaal en maatskaplik/emosioneel. In baie gemeentes werk predikante, diakonieë en maatskaplike werkers lankal reeds hand aan hand. In die lig hiervan kan die NHSV se voogtakke en ons gemeentes die tehuise vir bejaardes op vele terreine ondersteun.

Dit alles beteken nie dat die Hervormde Kerk nou almal in die bejaardesorgtehuis moet bestorm en evangeliseer nie. Nee, die Kerk behoort die leiding te neem om toe te sien dat die roeping van die Kerk ook daar tot uitvoer gebring sal word. In die lig van die Skrif is die roeping van die Kerk om almal te lei na Jesus (Matt 28: 19). Om in praktyk die voetspore te volg van die eerste Christelike gemeente waarvan ons lees in Handelinge 2: 43-47.

Om uiteindelik uit te kom by ’n aangepaste kerklike praktykmodel wat voldoen aan die missionale roeping van die Kerk, is nie maklik nie. Dit sal enersyds moet beantwoord aan die vereistes van die Woord en die voorskrifte van die Hervormde Kerk, en van so ’n aard wees dat almal in die tehuis, afgesien van sy of haar kerklike denominasie, daarin “tuis” voel. Verder behoort die las van die totale bediening nie op die skouers van die plaaslike predikante en hul gemeentes alleen te rus nie.

In die lig van die Woord sal die Kerk, om missionaal-holisties in sy bediening te wees en terselfdertyd te bly volg in die voetspore van Jesus en op die pad van die Hervormde Kerk, moet toesien dat almal in die tehuis geestelik versorg is volgens hul behoeftes.

Met die oog op die skepping van ’n praktykmodel sal ’n deeglike ontleding gedoen moet word van die teikengehoor. Die volgende is moontlikhede vir ’n bedieningsmodel:

  1. Met die oog op deurlopende beplanning, organisering, leiding en evaluering van die kerklike bediening in die tehuis word ’n komitee saamgestel bestaande uit predikante en lidmate van omliggende kerke, die bestaande huisbestuur en inwoners van die tehuis self. (In so ’n tehuis is gewoonlik baie persone met die nodige kundigheid en vaardigheid.) Hierdie komitee staan onder leiding van die plaaslike Hervormde gemeente.
  2. Met die opname in die tehuis word vasgestel aan watter kerk nuwe intrekkers behoort en wat hul onmiddelike “kerklike behoeftes” (geestelik, liggaamlik en emosioneel/maatskaplik) is. Na drie tot ses maande, wanneer die nuwe intrekkers tuis is in die tehuis en kennis geneem het van die kerklike opset in die tehuis en omliggende gemeentes, word weer vasgestel hoe en waar hulle kerklik wil inskakel sodat hulle self daaroor kan besluit.
  3. Nuwe intrekkers word so gou moontlik besoek.
  4. Weeklikse eredienste word gehou op Sondae of in die week, vakansies en langnaweke ingesluit. Die liturgie en bedieningstyl is sodanig dat almal, afgesien van hul oorspronklike kerklike denominasie, daarin “tuis” voel. Die eredienste word gelei deur predikante van die plaaslike en ander Hervormde, NGK en Gereformeerde gemeentes, asook van ander kerklike denominasies wat “inpas” by die algemene kultuur van die gereformeerde tradisie – veral predikante wat positief sal bydra tot die geloofsverryking van die inwoners.
  5. In die eetsaal word in die oggende voor ontbyt ’n kort boodskap (hoogstens drie minute) deur ’n toegeruste inwoner gehou.
  6. Alle persone in die hospitaal word besoek afgesien van die persoon se kerklike denominasie.
  7. In krisistye, soos met Covid-19, word Sondae en daagliks ’n boodskap van bemoediging op die beste moontlike wyse vir elke inwoner voorsien. Veral die dienste van inwonende predikante, maatskaplike werkers en ander professionele persone kan benut word.
  8. Persone met trauma, afgesien van kerklike denominasie, word begelei deur kundiges.
  9. Die NHSV voogtakke en gemeentes word gemotiveer om deurlopend maar veral in krisistye by die Kerk se tehuise vir bejaardes betrokke te raak.
  10. Uit die geledere van die vooggemeentes, die omliggende gemeentes wat betrookke is, die kinders van die bejaardes en van die inwoners word pastorale en diakonale omgeegroepe geskep.
  11. Daar word gewerk aan ’n sisteem bekend as Neem ’n ouma/oupa aan.
  12. Elke tehuis vir bejaardes stel in die lig van ’n breë konsep sy eie bedieningsplan op.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link