Hierdie is ’n rou, eerlike weergawe van my ervaring om in diens van die Here te wees.

Gemeente Meyerton-Suid was nog altyd my gemeente. Dit is waar ek gedoop is, grootgeword het, belydenis van geloof afgelê het, as ’n diaken en later as ’n ouderling gedien het. Dit was ook die gemeente waar ek my praktiese jaar voltooi het. Maar nou dat ek my graad verwerf het, het ek nie meer ’n gemeente nie.

Daar is nie ’n gemeente wat ek myne kan noem nie, want as jy ’n dominee wil word, moet jy jou grootwordgemeente agterlaat en jou eie kry. En so het ek die geloofsgemeenskap wat my gevorm het en wat vir my ’n passie vir die bediening gegee het, agtergelaat.

Maar wat nou? Ek lei twee Sondae per maand dienste by Gemeente Duncanville en verder preek ek waar daar ook al ’n geleentheid ontstaan. Ek probeer ook betrokke raak by die plaaslike gemeente in Parys.

Gedurende my ses jaar van studie het ek onophoudelik gehoor van al die geleenthede in die Kerk. Daar is soveel plek vir jong dominees en ek sal nie sukkel om ’n gemeente te kry nie. En tog, omtrent ses maande nadat ek gelegitimeer is, het so ’n geleentheid nog nie vir my gerealiseer nie. Al my klasmaats het beroepe gekry (en dit is wonderlik), maar hier sit ek en wonder: Het hulle vir my gelieg? Is ek nie goed genoeg nie? Wat doen ek verkeerd?

Ek is versprei tussen ’n klomp gemeentes, maar ek het steeds nie ’n tuiste nie. Dit voel of ek in ’n soort limbo van onsekerheid en seer verkeer.

Ek het ses jaar studeer om ’n dominee te word. En nou, byna ses en ’n half jaar later is ek steeds nie ’n dominee nie. Ek mag nie my hande uitsteek om die seën uit te spreek nie. Ek mag nie babas doop of nagmaal bedien nie. Ek mag nie vir mense sê ek is ’n dominee as hulle vra wat ek doen nie. Ek moet sê ek is ’n proponent – en min mense weet wat dit beteken. Ek mag nie my roeping ten volle uitleef nie. En tog mag ek ook nie moed verloor nie.

Ek is ’n swerwer tussen die Hervormde Kerk, NG Kerk en die koshuiskerk wat ’n klein informele bediening is wat ek en een van die onderwysers vir die kinders begin het.

Op hierdie stadium is my gunsteling deel van bediening om te preek, nuwe mense te ontmoet en verskillende gemeentes en mense te leer ken. Dit is ’n groot seën, veral wanneer ek in melktert betaal word (grappie!).

Dit is egter ook moeilik om betekenisvolle verbintenisse met mense te bou as jy hulle net een of twee keer sien. Dit voel of ek nie té betrokke kan raak nie, want my situasie kan enige tyd verander.

Ek weet dit is nie die waarheid nie, maar dit voel asof ek nie goed genoeg is nie – asof niemand my wil hê nie. Tog is dit ’n voorreg om die meeste Sondae nuwe mense te ontmoet, na hul stories te luister en die land te verken wanneer ek by ver plekke moet gaan preek.

Die vrae bly knaag aan my siel: Hoe kan ek so oortuig wees van my roeping, van dit wat ek met my lewe wil doen en waaraan ek my tyd wil bestee, maar terselfdertyd kry ek nie die geleentheid kry om dit ten volle te doen nie? Doen ek iets verkeerd? Het ek nie genoeg geloof nie? Wys ek nie genoeg liefde nie? Dit voel nie soos ’n straf nie, maar wel soos ’n beproewing. En ek weet nie of ek besig is om die toets te druip nie. Onsekerheid is die enigste sekerheid wat ek tans het.

Maar (die belangrikste woord in hierdie stuk), in die stilte hoor ek die Here se stem en voel ek sy teenwoordigheid: Ek sal jou nie verlaat nie en jou nie in die steek laat nie. Geduld is nie verniet ’n vrug van die Gees nie.

Ek het nie ’n gemeente nie, ek het ’n klomp gemeentes: Duncanville, Wonderboompoort, Parys, Meyerton-Suid, Kerk Tussen Die Mielielande, Derde Kruis, en so gaan die lys aan van mense wat my ondersteun, mense vir wie ek lief geraak het en wat my ook liefhet.

Hoewel ek (nog) nie ’n dominee is nie en nie ’n gemeente het nie, staan ek vas in die vertroue dat die Here my hier gesit het omdat ek hier moet wees.

Gelukkig het ek nie ’n vaste plan nie, want die Here is aan die stuur van hierdie skip – nie ek nie.

Ek is dankbaar vir die ondersteuning van my familie wat na enige uithoek van die aarde sal reis om my by te staan, my vriende wat altyd geduldig luister, en veral my man wat die meeste van sy naweke opoffer om saam met my vroeg op te staan en kerk toe te gaan, wat my sak dra, die PowerPoint-aanbieding hanteer en my klankbord is.

As ek kla, is ek ondankbaar. Ek is meer geseënd as wat ek besef. As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs (Ps 127: 1, AFR83).

Paulus se woorde in Romeine 8: 28 dra my daagliks: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is (AFR2020).

My gunsteling aspek van bediening? Die voorreg om hier te wees. Om vir die Here te kan werk, in watter gestalte dit ook al neerslag mag vind.

Vrede.