6 Oktober 2022 – Rol van die SGB

Tydens die 73ste AKV het die belangrike werk van die SGB (Sentrum vir Gemeentelike Bediening) duidelik na vore gekom.

Baie lidmate is nog onbekend met die SGB. Die Sentrum vir Gemeentelike Bediening is ’n orgaan van bystand wat die Kommissie van die AKV ondersteun in die uitvoering van hul werkopdrag. Die doel van die SGB is om gespesialiseerde dienste aan lidmate, predikante en gemeentes te lewer, met die hoofdoel om die Kerk as liggaam van Jesus Christus op te bou.

Gemeentes word uitgenooi om saam dink en te werk aan die unieke en spesifieke uitdagings waarmee hulle (in hul bepaalde gemeenskappe) worstel, en dan gebruik te maak van die dienste wat die SGB bied. So kan ons die manier waarop ons kerkwees benader, vernuwe en verbeter, tot kerkwees wat lewenskragtig en roepingsgetrou is. Die SGB bied opleiding en toerusting aan gemeentes op verskeie terreine, met die doel om gemeentes te help om in geheel te ontwikkel.

Die NHKA besef dat gemeentes kleiner word, en dat verandering in gemeentes steeds primêr reaksionêr geskied, maar die SGB wil gemeentes bemagtig en ondersteun om intensioneel en meer proaktief met hul bediening en roeping besig te wees. Die SGB wil die onderskeie gemeentes se hande sterk maak, sodat die NHKA se bediening relevant sal wees (en sal bly) deur bediening aan lidmate en die gemeenskap te bevorder.

Ons het ’n verantwoordelikheid om hoop te bring in ’n wêreld wat hopeloos voel, om die evangelie op ’n relevante manier te verkondig, en om Christus sigbaar te maak in ons gemeenskappe.

(Geskryf deur: Ds Yolande de Lange)

5 Oktober 2022 – Verhouding tussen die NHKA en die GHG

Tydens die 73ste AKV het die verhouding tussen die NHKA en die GHG (Geloofsbond van Hervormde Gemeentes) weer onder bespreking gekom. Die vlak van debat was van hoogstaande gehalte en daar is met ’n oop gemoed na al die sprekers se standpunte geluister.

Dit is reeds bekend dat die GHG ’n beskuldiging van dwaalleer en die Staat van Belydenis teen die NHKA uitgereik het. Dit affekteer die verhouding tussen die NHKA en die GHG. Die voortgesette handhawing van die Staat van Belydenis beteken dat die Hervormde Kerk en die Geloofsbond fundamenteel van mekaar verskil in terme van kerkbegrip, leer en lewe. Versoening tussen die Hervormde Kerk en die GHG lyk egter onwaarskynlik, tensy die GHG die Staat van Belydenis en die beskuldiging van dwaalleer teen die Hervormde Kerk herroep.

Ten spyte hiervan, besef die vergadering dat versoening ’n opdrag is, aan enige kerk wat erns maak met die evangelie van Jesus Christus, want die eenheid in Christus is nie net God se gawe aan ons nie, dit is tegelykertyd ’n opdrag aan ons. Ons wil nie ligtelik met verdeeldheid omgaan nie.

Daarom bly ons bid vir ons Kerk en ons streef daarna om voortdurend, op gelowige vlak, met mekaar te kommunikeer. Ons moet (op grondvlak) mekaar se harte hoor en herhaaldelik met mekaar in gesprek bly – selfs al neem dit lank en al moet daar herhaaldelik oor dieselfde saak gepraat word. Op dié wyse lei Christus sy kerk om die regte besluite te neem.

(Geskryf deur: Ds Yolande de Lange)

4 Oktober 2022 – ’n Nee vir Kindernagmaal

Die gesprek oor kinders se deelname aan die Nagmaal is reeds sedert die vroeë 1990’s op die agendas van verskeie AKV’s. Tydens die 72ste AKV het die Kommissie van die AKV die opdrag gegee dat verdere studie daaroor gedoen moet word.

Daar is ’n uitnodiging gerig aan diegene wat aan die spesifieke debat tydens die 72ste AKV deelgeneem het, om studiestukke te formuleer en beskikbaar te stel ter voorbereiding van die gesprek tydens die 73ste AKV.

Daar is uiteraard uiteenlopende standpunte in die onderskeie studiestukke weergegee, en dit het ook na vore gekom in die gesprekvoering tydens die vergadering. Die gesprekke vir en teen die beskrywinspunt was goed deurdink, en daar is na die verskeidenheid opinies geluister.

Die Bybel gee nie ’n definitiewe antwoord op die vraag of kinders aan die Nagmaal kan deelneem nie, want deur die loop van die Ou Testament was daar tye toe kinders deel gehad het aan die Pasga-maaltyd, en daar was ook tye toe kinders onder 13 nie meer aan die Pasga deel gehad het nie. Laasgenoemde was ook die situasie tydens Jesus se lewe en tydens die instelling van die Nagmaal.

Tydens Jesus se bediening word dit duidelik dat Hy kontak maak met mense wat in daardie stadium deur die samelewing uitgesluit is – vroue, sondaars, tollenaars, nie-Jode en kinders. Sommige van die studiestukke stel dit duidelik dat belydenis van geloof nie die moment is wat lidmaatskap van die kerk bepaal nie, maar die Doop, en daarom moet kinders beskou word as volledig deel van die gemeente. Dit is ’n geestelike belewenis wat tot elkeen wat daaraan deelneem, se spiritualiteit kan bydra.

Daar was lede van die vergadering wat van mening was dat kinders nog nie die volle omvang van die Nagmaal besef nie, en daarom nie tot die tafel toegelaat moet word nie. Daarteenoor is uit die Markus-evangelie aangehaal waar Jesus mense aanmoedig om nie die kinders te verhinder nie, maar hulle toe te laat om na Hom toe te kom.

Ander sprekers het genoem dat sowel die gemeente as die ouers moet besef dat die Nagmaal en die Doop tekens is van God se genade. Dit beteken die heiligheid van die Nagmaal lê nie in die heiligheid van die mens wat by die tafel kom aansit nie, dit lê in God wat heilig is en ons liefhet, daarom moet ons versigtig wees om mense van die tafel te weerhou.

Na ’n oomblik van stilte het die 73ste AKV deur stemming besluit om die voorstel dat Nagmaal aan kinders bedien moet word, nie te aanvaar nie. En omdat ons besluite meet aan God se Woord en nooit aan die opinies en (on)gemak van mense nie, sal hierdie onderwerp voortdurend onder bespreking bly.

Die implikasie van hierdie besluit word nie ligtelik opgeneem nie. Ons word opnuut deur hierdie beskrywingspunt (saam met soveel ander punte tydens die vergadering) herinner aan die belangrike rol wat ouers speel in die geestelike ontwikkeling van hul kinders. Die leraar en kerkraad van elke gemeente moet ouers voortdurend begelei, sodat kinders nie net in die erediens en tydens kategese geestelik opgevoed word nie. Dit is nodig om ouers te help met die uitvoering van hul doopbelofte sodat kinders van kleins af reeds die betekenis van die Nagmaal sal verstaan.

Die NHKA sal egter voortgaan om op ’n eenvormige wyse op te tree en mekaar se diverse opinies te respekteer, om so ook die liturgiese binding tussen gemeentes te versterk.

(Geskryf deur: Ds Yolande de Lange)

3 Oktober 2022 – 'n AKV wat blare en vrugte onderskei

In die warm Pretoria-son sien ’n mens kollegas wat mekaar groet en oor ’n koppie koffie of twee gesels, soos lank verlore vriende. Almal stil-stil bewus van die voorreg om weer na die inperking mekaar van aangesig tot aangesig te kan sien.

Ons kan nie anders nie as om die gebed van Augustinus in ons harte te bid: Vul my, o Heilige Gees, dat my gedagtes Heilig sal wees”.

Elkeen wat die 73ste AKV bywoon, word deur dr AG (André) Ungerer se openingsrede, uit Markus 11, bewus van die feit dat die NHKA ’n eietydse vyeboom in die wêreld is. ’n Boom wat nie noodwendig meer in die fleur van sy lewe is nie, maar met gevestigde wortels, wat dekades lank reeds skadu en voedsel bied, hier aan die suidpunt van Afrika. Soos die eerste vrug aan ’n vyeboom soveel belofte inhou, hou hierdie vergadering vir ons ook groot belofte in.

Dit is tydens hierdie erediens en toekennings dat ’n mens opnuut besef dat die NHKA ’n lang geskiedenis het. ’n Geskiedenis wat nie net in agendas opgeteken is nie, wat nie net deur kerkgeboue landwyd uitgewys word nie, maar ’n geskiedenis wat sigbaar word in die lewe en in die getuienis van soveel mense en gemeentes. Dit is ’n geskiedenis wat elkeen van ons sedert kindsbeen gevorm het.

Daarom het ons juis ’n verantwoordelikheid om tydens hierdie vergadering nuut oor kerkwees te dink en om te bepaal: Wat is blare en wat is vrug? Want soos ons teksgedeelte aandui, het ’n vyeboom, sonder vrug, min tot geen waarde. So ook word ’n kerk wat net blare dra, as nutteloos beskou.

Die NHKA het nog altyd daarna gestreef om God in die wêreld sigbaar te maak, daarom gaan hierdie vergadering eerlikheid van ons vra, ons dwing om introspeksie te doen, om sodoende te bepaal hoeveel vrug daar nog in die Kerk is. Saam gaan ons wonder en twyfel, ons gaan stelling inneem oor die toekoms van ons geliefde Kerk, en ons gaan saam droom oor al die moontlikhede wat die toekoms vir die NHKA inhou.

Ons sing saam, ons glo saam en ons bid saam… So, kom ons waag saam met God, want dan eers kan ons saam aan ons Kerk (wat God se kerk is) werk.

Terwyl ons ’n koppie koffie saam met ’n kollega geniet, mag elke gesprek en elke besluit fokus op die vraag: Wat is blare en wat is vrug? Mag die 73ste vergadering ’n pragtige vyeboom vol vrug tot gevolg hê.

“Raak my hart aan, o Heilige Gees, sodat ek dit wat Heilig is, sal liefhê.”

Die HCM Fourie-erepenning is toegeken aan prof WA (Wim) Dreyer en dr BJ (Barry) van Wyk.

(Geskryf deur: Ds Yolande de Lange)