Ek is persoonlik geen “vriend” (woordspeling?) van die soetsappige Liewe Jesus nie. Ek was dit nooit. Net soveel grief die oor-familiêre, piëteitlose gebruik van die woord Jahwe my. Die gebruikers daarvan het heel duidelik geen idee van die heiligheid van die Verbondsgod nie. Hulle besef nie watter geweldige ontsag en eintlike stilswye dit by gelowiges tot gevolg behoort te hê nie.

Deesdae voer die menslike boosheid, selfsug, gierigheid, onderdrukking en magsvergrype hoogty tydens die byeenkomste van “magtige manne” en “waardige vroue”, waartydens selfvoldane sondaarmense vir God bevele uitskreeu. Sonder enige ontsag vir sy heilige Persoon word bestellings geplaas soos by die plaaslike McDonald’s Drive Tru. En as God dan talm, soos ds Hennie la Grange skryf, moet ons God aan sy beloftes herinner… asof die Almagtige, Alwetende iets kan vergeet. Dit skreeu ten hemele.

Daarom was ds La Grange se meningstuk in my kraal en ek het elke woord daarvan terdeë geniet omdat die gebrek aan heilige ontsag en die verlaging van die Drie-Enige God tot ons Pêl en uiteindelik ons Kneg my dwars in die krop steek. Ds La Grange se stuk het hierdie heiligskennis, wat besig is om in ons samelewing te gedy, kaalvuis aan die kaak gestel, en daarvoor my agting en waardering.

Daar is egter ’n kinkel in die kabel. Met my jarelange studie van literatuur eers in Afrikaans, Engels en Latyn en later ook in die tale van die Bybel, kan ek genres onderskei en hoef ek nie ’n woordeboek nader te pluk om te weet wat met die begrip satire bedoel word nie. Dit is so teen die middel van graad 11 se Latynse poësie afgehandel na die blootstelling aan Vergilius, Catullus en, o goeiste, veral Ovidius met sy satires teen keiser Augustus! 

Op universiteit in Afrikaans II is ek deur my dosent as naïef uitgeskel omdat ek bloedrooi gebloos het tydens die voorlees van ’n Chris Barnard-kortverhaal. Dit was ’n vreeslike verleentheid! Maar intussen is ek ook van die naïwiteit gestroop en die hantering van destyds verbanne tekste van die sestigers versterk ’n mens se innerlike spysvertering.

Hierdie blootstelling is ongelukkig net die voorreg van ’n paar van ons wie se ouers ons intellektuele gimnastiek, wat soms in die klaskamer en soms in die kuierplekke beoefen is, kon verduur en finansier. Die oorgrote meerderheid van die NHKA se lidmate moes na skool gaan werk. Daar was nie tyd vir gediggies lees en oor ’n bottel Tassenberg filosofeer nie. Diegene wat wel die voorreg gehad het om te studeer, het rigtings gekies waarin hulle iets kon word: dokters, ingenieurs, rekenmeesters. Gevolglik was ons maar ’n stuk of agt in die groep wat Afrikaans tot op derdejaarsvlak geneem het.

Nou plaas ons ’n robuuste satire op die openbare webblad van ons Kerk. Ai tog! Skitterende inhoud, maar die totaal verkeerde podium! Die boere, ambagsmanne en huisvroue gryp na die woordeboek: Wat is ’n satire? Die hele teks gaan by hulle verby en het net mooi die teenoorgestelde uitwerking. Dit ontstel en verwond. Die charismate bid om die bekering van die NHKA op Facebook. Die stomme plattelandse dominees, wat nog nie kennis geneem het van die stuk nie, want hulle is besig met pastoraat, huisbesoeke of begrafnisse, word gebel oor hierdie ontstellende mening waarvan hulle op die Kerk se amptelike webwerf lees.

Die grafika wat by die meningstuk gebruik is, ontstel ook. Waarom brand Jesus se hande? Dit lyk asof alles om Jesus in chaos afspiraal en Hy het nie beheer nie! Die stuk en die grafika vra om interpretasie. Maar hoe moet ’n lidmaat wat nie ’n verwysingsraamwerk het nie, interpreteer?

Ek dink onwillekeurig aan Paulus se uitspraak in 1 Korintiërs 8 oor die eet van vleis wat aan afgode geoffer is. Hy sal liewer in alle ewigheid nooit weer vleis eet nie as om ’n broer waarvoor Christus gesterf het, te laat struikel. Is dit nie soms in die kerk belangriker om goed te wees as om reg te wees nie? Ek stem heelhartig met die mening saam en dit is korrek, maar is dit goed om juis nou wanneer ons mense van alle kante af met slegte nuus gebombardeer word, nog hul geloof ook te skud?

Ek is hoegenaand nie ten gunste van ’n Liewe Jesus-teologie of ’n magsbehepte, piëteitlose Jahwe of Elsjadai-teologie nie. Maar vir ’n boer in die Noord-Kaap, wat seisoene laas reën gehad het en met sy eie oë gesien het hoe sy vee, wat hy soos kinders versorg het, van die dors vrek; of ’n onderwyser wat die ganse dag voor ’n respeklose, uitdagende, vroeër verontregte en daarom legitiem aggresiewe klas moes staan; of die verpleegster wat ellendiges moes was, omdraai en bedpanne moes omruil, is dit regtig so sleg as hulle troos vind in ’n liewe Jesus? Soms moet ons, as die groot geleerde teoloë, ook maar ’n bietjie deernis en medemenslikheid hê, veral met hulle wat nie ons luukshede deel nie, maar steeds hul offergawes gereeld gee sodat ons mag aanhou teologiseer. Laat ons hulle nie vervreem nie, maar eerder liefderyk, pastoraal versorg.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link