Verandering gebeur met elkeen van ons. Die wêreld evolueer en gevolglik is verandering integraal deel van ons menswees. Van ons eerste lewensoomblik af was die ervaring van verandering ’n werklikheid!

Die eerste beginsel wat ek graag met u wil deel, is die lewensiklusbenadering. In die ekologie van lewende sisteme is daar sisteme binne ander sisteme, waar elke afsonderlike sisteem bepaalde invloed uitoefen op die konteks, maar terselfdertyd ook beïnvloed word deur die konteks. Waar ’n sisteem egter geslote en ontoeganklik is ten opsigte van die konteks waarin hy hom bevind, verloor hy sy relevansie en lewensvatbaarheid en kwyn hy weg.

Lewende sisteme vra dus vir voortdurende en sistemiese aanpassings. Die koronavirus-pandemie het elke gemeente genoop om onmiddellike aanpassings te doen: die wyse waarop die bediening gebeur; die wyse waarop mense met mekaar kommunikeer; finansiële aanpassings; die wyse waarop vergaderings plaasvind; ensovoorts. Dit is vir nou ’n sogenaamde nuwe normaal. Dinge sal weer in die toekoms anders wees, terwyl ons diep bewus bly van die mens se besondere aanpasbaarheid.

Enige lewensiklus word primêr gekenmerk deur ontwikkeling, groei, volwassenheid en afplatting, terwyl terminering onafwendbaar is. In sy boek Man’s search for meaning maak Viktor Frankl die volgende belangrike opmerking insake nuwe moontlikhede en groei: Between stimulus and response, there is a space. In that space lies our freedom and our power to choose our response. In our response lies our growth and our happiness.

Oomblikke van verandering ontsluit energie en moontlikhede wat alles in beweging bring en nuwe momentum tot gevolg het.

Versnellende verandering

Ons bevind ons in ’n tyd van versnellende verandering. Die eerste twee dekades van die 21ste eeu is deur meer ingrypende en versnellende veranderinge gekenmerk. Die verandering neem ook eksponensieel toe. Tegnologie was na alle waarskynlikheid die grootste drywer agter die verandering wat ons in die huidige tydvak ervaar.

Is dit enigsins moontlik om oor hierdie gebeure beter beheer te hê? Was dit enigsins moontlik om die huidige Covid-19-gebeure meer proaktief te bestuur? Nie een van ons was op enige wyse paraat om ten opsigte van die huidige omstandighede beter geposisioneer te wees nie. Die mens het nie in sy psigologiese verwysingsraamwerk nou ’n model wat ons gedrag en optrede verder stuur nie. Die direkte gevolg hiervan is buitengewone hoë angsvlakke, vrees en onsekerheid.

Die mens het geen ander keuse nie as om in pas te bly met die verandering. Verandering moet as ’n geleentheid tot groei en ontwikkeling omarm word. Dinamiese stabiliteit is een van die tegnieke wat ons help om momentum te behou. Voorbeelde hiervan is fietsry en roei. In Parys (Vrystaat) het ek en my seun dikwels op die Vaalrivier geroei. Roeiers weet dat ’n kano op vinnige water in effek deur die watermassa gestuur word. Beheer en kontrole oor iemand se kano vra dat jy voor die spoed van die stroom bly. Fietsryers verstaan goed dat as iemand op ’n bepaalde punt stadiger trap as wat nodig is om die fiets regop te hou, jy balans verloor en omval.

Weerstand teen verandering

Vrees is ’n realiteit. Elkeen van ons ken vrees! Die mens het ’n inherente vrees vir verandering omdat onderliggend aan hierdie ervaring die moontlikheid bestaan dat ek iets kan verloor of moet prysgee. Ons vrees die toekoms. Ons vrees die dood en die onbekende. Ons vrees verlies: verlies aan jeugdigheid, selfbehoud en beheer… In die moment van verandering word die individu se ritme en roetine versteur. By definition, change is a departure from the past (Rosabeth Moss Kanter).

Die wêreld van verandering herinner ons daaraan dat ons iets gaan verloor of prysgee terwyl die nuwe besig is om te ontvou. Hierdie interimfases en oorgange laat ons benoud en angstig. Die gesig van verandering in die kerk is duidelik merkbaar:

  • Strukturele agteruitgang (dalende lidmaattal en instandhouding).
  • Finansiële en administratiewe druk wat toeneem.
  • Gebrek aan leierskap en die vermoë om die nodige aanpassings te doen en in voeling te bly met die kontekste waarin elke gemeente haar bevind.

Leierskap in tye van verandering

Wat is besig om te gebeur? Hoe word die Kerk, die plaaslike geloofsgemeenskappe en lidmate daardeur geraak? Leiers het nodig om die werklikheid te definieer en te herdefinieer: om wat besig is om met elkeen van ons te gebeur, te vertaal en daaraan betekenis te gee. Leierskap impliseer altyd rigtinggewing: om ’n nuwe toekomsvisie en droom vanuit hierdie sogenaamde chaos te skep.

Hierdie visie is nie dit wat gelowiges uitdink nie, maar ontstaan eerstens vanuit ’n persoonlike en gesamentlike verhouding met die lewende God, en tweedens vanuit ’n diepe soeke na sy wil vir die gemeente. So ontwikkel die gemeente ’n beter verstaan van die taak van die kerk vir die tye waarin God ons geroep het. Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees… (2 Kor 3: 5-6).

Ingrypende tye vra ingrypende leierskap. Aanpasbare gemeentes het die behoefte aan leiers wat ’n verskil in stormagtige tye wil maak. Leiers het juis in stormagtige tye die verantwoordelikheid om die droom van die organisasie op te pas. Dit is dikwels gedurende stormagtige tye nodig om buite die bestaande werklikhede en grense om, te kan dink en doen. Mense volg leiers na vreemde en onbekende plekke waar hulle sonder hierdie leierskap nie sou of wou wees nie. Goeie menseverhoudinge en vertroue is in hierdie opsig ’n vereiste.

Verskillende reaksies op verandering

Die mens het liggaamlik en psigies die vermoë om vinnig op verandering te reageer. ’n Ketting van reaksies binne die menslike liggaam help ons om enige dreigende omstandigheid te hanteer: die tipiese veg-of-vlug-reaksie word geaktiveer. Indien ons verstaan wat met ons liggame gebeur, is die kans groter dat ons ons onmiddellike omgewing kan beheer.

Die volgende klokkurwe dui mense se reaksies op verandering aan:

  • Innoveerders (A) maak ongeveer 2,5% uit van die veranderingsproses. Innoveerders bestaan hoofsaaklik uit individue wat die pioniers en skeppers/ontwerpers van nuwe idees is.
  • Vroeë aanpassers (B) maak ongeveer 13,5% uit van die veranderingsproses. Dit is die groep wat grotendeels in opstand kom teen ’n veranderende status quo.
  • Die vroeë meerderheid (C) en die laat meerderheid (D) maak 68% uit van die veranderingsproses.
  • Die weerstand teen verandering is in alle gevalle die hoogste by die sogenaamde agterblyers (E).

Wees veral sensitief vir die heterogene aard en samestelling van die geloofsgemeenskap. Luister met aandag na die innoveerders en wees geduldig met die agterblyers. Eerlike en deursigtige kommunikasie help ons om die verskillende reaksies op verandering te akkommodeer. 

Eksistensiële oomblik!

Iemand het by geleentheid gesê: Die probleem is nie daar buite nie, maar hier binne! Momente van verandering toets ons vermoë om aanpassings te doen. Die vraag is: Is ons veerkragtig genoeg om die aanpassings deur te voer?

Die verandering kan nie beheer word nie. Die wyse hoe ons daarop reageer, bly egter ons keuse en verantwoordelikheid! Midde-in die verandering het ons nodig om nuwe perspektief te kry. Ons sal in ’n beweeglike omgewing met meer onvaste as vaste punte geanker moet bly in die verhoudings en roeping wat op ’n hoër vlak lê: ’n vaste posisie in Hom wat die toekoms in sy hande hou.

(Dr Frikkie Labuschagne is direkteur van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap