Ek het die voorreg gehad om my pa onlangs te kon begrawe. Alhoewel hy ook sy foute gehad het, is daar pragtige dinge en gesegdes van hom wat my lewenslank sal bybly. Op grond van die waarde daarvan, het ek die vrymoedigheid om dit met ander te deel.
As merino- en angorabokboere was een van die gereelde take wat verrig moes word, om deur die kampe te ry. Dikwels as ek met Fleur, my perd, by die huis aankom, moes ek verslag doen. Dan het my pa graag gevra: Diesman, wat het jy gesien? Aan die begin het ek geantwoord: Nie veel nie. Net maar die gewone. Daarop sou my pa graag sê: Het jy nie gesien of daar ’n skaap of ’n bok met hulle wol aan ’n doringbos vassit nie? Dalk ’n kruppel dier? Is die lammertjies dik gedrink? Het jy gesien of die veld lank of kort is, en ons die vee moet skuif? Is die waterkrippe skoon en vol, en is daar water in die veld? Was daar nie dalk ’n gat in een van die lyndrade nie? En dan verder: As jy niks anders gesien het nie, was daar nie iets moois wat jy gesien het nie – ’n koedoebul, duiker of steenbokkie of ’n mooi voël nie? Uiteindelik sou hy opmerk: Onthou, ’n boer kom nooit verniet in die veld nie. Jy sien altyd iets!
Van al die dinge wat ek by hom geleer het, lê hierdie gesegde en lewensles my dalk die naaste aan die hart. My pa was nie baie lief vir lees nie, maar gedurende die afgelope weke het ek hierdie hipotese van my begin bevraagteken. Dalk het hy tog gelees. As boer was sy teks nie dié van boeke nie, maar die konteks van die veld self. In retrospeksie maak dit baie meer sin om nooit verniet in die veld te kom nie en altyd iets te sien en leer as om net met die teorie van boerdery te doen te hê. Dit was hoe jy jou omgewing beter leer ken het.
Die waarde van my pa se opmerking is dat jy dit op haas enige terrein kan toepas. Dit is netso relevant in die onderwys, sakewêreld en politiek. In die bediening kan ek eerlikwaar sê dat ek nog nooit verniet by mense gekom het nie. Of dit ’n siekebesoek, huisbesoek of pastorale gesprek was, dit was nooit verniet nie. Ek het altyd iets gesien, iets geleer. En selfs sou ek niks gesien het nie, het ek myself kenbaar gemaak – ek het iets van myself vir die veld gegee. Net soos die skape en bokke my later in die veld leer liefkry het, glo ek dat dieselfde met my gemeentes gebeur het. My “tussen-die-skape-deurbeweeg in die veld” het nie losgestaan van die werk met die “vee” in die kraal nie. Aan die ander kant het ek myself al dikwels verwyt dat ek nie by iemand uitgekom het nie, of nie betyds by iemand uitgekom het nie. Boere wat nie in die veld kom nie, se skape raak wild, hulle hardloop ver weg van hom, en hy sukkel om hulle bymekaar te maak.
Ek kan nie anders nie as om Jesus se sending na die wêreld ook met hierdie gesegde van my pa in verband te bring. Alhoewel God alles van my weet, het Hy Jesus na die veld toe gestuur. En in Jesus Christus het God Homself kenbaar vir ons gemaak. Alhoewel ons God nooit naastenby ten volle kan ken nie, is dit genoeg.
In Jesus leer ons die Goeie Herder ken. Hy wat sy skape so liefhet dat Hy sy lewe vir hulle aflê. Ook is Hy die ingang van die kraal. Waar die Goeie Herder in die deur van die kraal lê, stem Hy die skape rustig, sodat hulle kan herkou. Hy ken hulle by die naam en in die dag is Hy saam met hulle in die veld. Vandag nog sou ons kon sê die Heilige Gees se betrokkenheid by ons is God se saam-met-ons-in-die-veld wees.
Maak nie saak wat jou beroep is nie. Ken jou veld, kom daar in, maak jouself kenbaar en geliefd. Dáár kom jy nooit verniet nie, en jy sien altyd iets, jy leer altyd weer. Jy mag dalk self verbaas wees oor hoe God Hom aan jou openbaar.
Anders as God, kan ons net ten dele ken, daarom is dit nodig dat ons in die veld kom. Jy sien altyd iets. Jy leer altyd weer.
*** Lees Esegiël 34; Psalm 23; Jesaja 40: 11; en Johannes 10
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Waardevolle inligting, mooi voorbeeld.
Pragtige lewensles van jou pa. Dankie vir die deel daarvan.