’n Dominee wat nie leer nie, is nie bekeer nie. Sommer vroeg in my teologiese studies het ek met hierdie uitdrukking te make gekry. Vandat ek ’n gemeentepredikant is, des te meer. Om die Bybel te bestudeer en aan te hou leer, kom nie tot ’n einde wanneer ’n predikant gelegitimeer word nie. Nee, leer is veronderstel om ’n lewenslange gewoonte te word.
Dit is eers nadat ek afstudeer het wat ek egter die waarde van lewenslange leer in die algemeen begin besef het. By baie mense is daar amper ’n weersin wanneer dit by leer kom. Miskien is dit omdat ons onsself, voordat ons heeltemal verstaan wat rondom ons aangaan, reeds op skool in ’n leergerigte paradigma bevind. Dit is die minderheid kinders wat tydens eksamen sal erken dat hulle daarvan hou om te leer…
Wat sake verder kompliseer, is die feit dat kunsmatige intelligensie deesdae ’n al hoe groter invloed op die leerproses uitoefen, nie net in skole en op universiteite nie, maar oral waar onderrig, studies en die aanleer van vaardighede ter sprake is. Die totale samestelling en funksionering van leer- en onderrigmodelle word deur kunsmatige intelligensie getransformeer. En, soos alles anders in die lewe, is dit nie net sleg of net goed nie. Talle navorsing word tans op die uitwerking van kunsmatige intelligensie op onderrig gedoen. In hierdie vroeë stadiums bevind studies dat kunsmatige intelligensie voordelig is in dié opsigte dat dit leer tot individuele behoeftes kan verpersoonlik, akademiese uitkomste kan verbeter en ’n interaktiewe leerproses kan bevorder. Aan die ander kant bestaan die gevaar dat mense afhanklik kan raak van kunsmatige intelligensie en te veel daarop staatmaak. Verder kan kunsmatige intelligensie die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede inhibeer en natuurlik is daar steeds die uitdaging van akademiese integriteit. Wanneer onderriginstellings egter op gestruktureerde wyse met kunsmatige intelligensie in die leerproses omgaan, dit in beleidsdokumente insluit en ’n etiese kode daarrondom ontwikkel, kan dit met groot vrug aanvullend tot die leerproses gebruik word.
Maar leer gaan egter oor méér as net die inwin en sortering van teoretiese kennis. Die waarde van leer is tot ’n groot mate geleë in die ontwikkeling van kritiese denke, waardeur onderskei kan word tussen kennis sodat daardie kennis uiteindelik toegepas kan word in die vorm van praktiese vaardighede. Die ontwikkeling van vaardighede op verskillende vlakke staan sentraal tot ’n mens se lewenslange groei, hetsy in jou loopbaan, persoonlike lewe of geloofslewe.
Elke mens behoort daarom leer van een of ander aard na te streef. In my eie lewe is daar nog baie vaardighede wat ek graag wil aanleer. En ek glo wanneer ’n mens ’n groei-ingesteldheid het, is jy nooit te oud om te leer nie. Hierdie jaar het ek byvoorbeeld begin om klavierlesse te neem. Om as volwassene ’n hele nuwe vaardigheid aan te leer, is inderdaad ’n uitdaging, maar terselfdertyd ontsluit dit nuwe wêrelde vir ’n mens en word dit ’n geleentheid om in begrip, ervaring en selfkennis te groei.
Die teologiese tradisie waarin ons Kerk staan, is boonop ’n tradisie wat op leer en studeer gebou is. In die tyd waarin die Kerkhervorming plaasgevind het, was daar ’n beweging na die herontdekking van klassieke kennis van literatuur, kuns en kultuur. Ook in die teologie en bestudering van die Bybel is daar beweeg na kritiese denke, soos die teoloog Anselmus se beoefening van fides quarens intellectum – geloof soekende na begrip. Die hernude bestudering van die Bybel het aanleiding gegee tot ’n hervorming van denke oor teologie en kerkwees.
Daarom moet die krag van leer en die wysheid wat daaruit vloei, nie onderskat word nie. In die gemeentekonteks word ek toenemend bewus van lidmate se behoefte na toerusting – om toe te neem in kennis van geloof en die vermoë om vaardighede aan te leer wat hulle in staat sal stel om hul geloof prakties uit te leef. Een van die groot take van die kerk lê op die gebied van toerusting. Elke week wanneer gelowiges in die erediens saamkom, is dit ook ’n toerustingsgeleentheid. Dit is ’n geleentheid om meer te leer oor een van die bronne van ons geloof – die Bybel. Elke huisbesoek, Bybelstudie en kategesegeleentheid is ’n geleentheid om toegerus te word in vaardighede om ons geloof uit te leef. In ’n wêreld waarin dit toenemend moeilik word om te onderskei tussen die kwaliteit en integriteit van bronne en kennis, is dit belangrik dat die kerk en plaaslike gemeentes optree as leergemeenskappe, waar ons lidmate leer om krities om te gaan met die magdom inligting waarmee ons elke dag gebombardeer word. Terselfdertyd moet die leer wat plaasvind in ’n gemeenteruimte gerig wees op die werklikhede van die lewe en die wêreld waarin ons lidmate leef. Die leergemeenskap van die plaaslike gemeente moet ook ’n leefgemeenskap wees – dit wat ons by die kerk leer, moet ons verder gaan leef.
Mag ons, soos wat ons weer ’n nuwe jaar se programme en aktwiteite beplan, tyd en ruimte laat vir leergeleenthede, toerusting en die aanleer van vaardighede wat ons menswees, kerkwees en gelowigwees verryk!