Dit was ’n normale Sondag. Ons het as gesin saamgekuier. Meteens word die gesprek verander: Pa, Ma – ons het besluit om vir ’n paar jaar Engeland toe te gaan. Ons reaksie: Vir hoe lank en wanneer? En die antwoord: Vir eers beplan ons vir so vyf jaar, en ons gaan al middel Oktober.

Die emmer koue water tref ons soos ’n weerligstraal. Ek begin dadelik, soos dit my aard is, om vrae te vra: Wat van julle huis en honde? Waar gaan julle bly? Het julle ander werke?  Wat gaan van julle meubels word? Pa sprak g’n sprook nie en reageer ook nie vreeslik baie nie. Nie eens ’n kopknik of ’n geluid nie.

Die realiteit het ons getref. Die oomblik wat vir talle ouers al aangebreek het – kinders wat oorsee gaan woon en werk.

Elke matrikulant wat vanjaar klaarmaak met skool en elke student wat afstudeer, word gekonfronteer met die uitdagings van die toekoms. Daar is ’n tekort aan werk in ons land, en geleenthede oorsee is vir baie net beter. Daarbenewens is die situasie in hoëronderwysinstansies ook nie aldag gunstig nie. Die standaard van onderwys word bevraagteken. Alles is soms so onseker, en dit boesem vrees vir die toekoms in. 

Die skrywer Max Lucado se boek Fearless: Imagine your life without fear wat reeds in 2009 gepubliseer is, is steeds ’n topverkoper. Dit is waarskynlik ’n aanduiding daarvan dat vrees inderdaad een van die belangrikste emosies is waarmee die mens te kampe het. Daar is baie dinge wat ons vrees, en die toekoms is een daarvan.

Die deure van die toekoms swaai oop vir talle jongmense wat aan die begin van 2020 ’n nuwe fase van hul lewe sal betree. Dit gaan egter gepaard met ’n tikkie vrees en onsekerheid.

Wanneer jy die toekoms binnegaan, moet jy egter onthou dat geen twee mense dieselfde in die Here se oë is nie. En jy word ook nie by Hom gemeet teen ander mense nie. Die Here ken jou (Jer 1: 4). Hy het jou op jou naam geroep. Jy is syne (Jes 43: 1). In sy oë is elkeen ’n unieke mens, gemaak met unieke gawes, en elkeen geskape om ons eie lewens voluit te lewe. Moet daarom nie toelaat dat vrese oor die toekoms jou beroof van vreugde en vrede nie. 

Om in die onderwys te wees met al die uitdagings vir ouers, student en leerder, is ook nie maklik nie. Tog moet alle onderwysers besef én onthou dat hulle, gedurende hul loopbaan, geleenthede het om ander te help ontwikkel en ʼn impak te maak sodat leerders hul volle potensiaal kan bereik en die toekoms met vreugde en ope arms kan verwelkom. Dankie vir elke hardwerkende, gemotiveerde onderwyser wat baie meer as sy of haar plig doen en hoë standaarde van onderrig handhaaf met ’n liefdevolle en toegewyde hart, sodat ons kinders ’n toekoms mag hê, maak nie saak waar nie.

En ouers, wanneer die emmer koue water jou tref en die realiteit van jou kind se keuses jou bang en onseker maak, onthou die woorde van 2 Timoteus 1: 7: Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

af
af
Deel met behulp van
Copy link