Martin Luther het by geleentheid gesê dat indien dit nie vir dr Johann von Staupitz was nie, hy tot in die diepste duisternis van die hel sou versink het. Johann von Staupitz was die verteenwoordiger van die Augustynse Orde aan die Universiteit van Wittenburg toe Martin Luther op uitnodiging van prins Frederick daar gaan doseer het. Staupitz was die persoon wat aan Luther probeer verduidelik het dat hy nie nodig het om elke klein oortredinkie in die bieghokkie te bely nie, maar dat God eintlik Liefde en Genade is. Luther was gepynig deur vertwyfeling en vrae en het in die proses vir arme Staupitz uitgemergel. Dwarsdeur die Kerkhervorming was Staupitz Luther se mentor en het hy hom aangemoedig om nederig en deernisvol te bly, maar ook om voort te gaan om die korrupsie in die kerk te beveg. Hoewel Staupitz self nooit met die Roomse Kerk gebreek het nie, was hy tot sy dood baie lief vir Luther, en in ’n laaste brief aan hom het Staupitz hom vermaan om die onkundigheid van gewone gelowiges wat wel opreg bedoel word, nie te verdoem nie.

As jong teoloog besef ek die waarde van geestelike mentorskap terdeë. Elkeen van ons het daardie wyse voorganger nodig aan wie se voete ons kan sit om onderrig, bemoedig en getroos te word. Ek het die besondere voorreg gehad om in prof PA Geyser so ’n geestelike vader te vind en daarom is sy voorletters na my mening geen toevalligheid nie. Ek het vir die eerste maal in 2001 met prof Piet Geyser kontak gehad toe hy die Nuwe Testamentiese komponent van die Bybelkundekursus in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria onderrig het. Omdat ons klasse klein was, het ek dikwels die voorreg gehad om soos Paulus by Gamaliël se voete te sit en veral die teologie van die vier Evangelies deur te trap. Dit het tot vandag toe ’n verreikende en verrykende invloed op my teologie. Tydens daardie goue ure in die laatmiddagson van die Bybelkundekantoor het prof Piet Geyser my ook vir die NHKA gewen en my geïnspireer om uiteindelik self predikant te word.

Ek het gou besef dat prof Piet nie hierdie rol net in my lewe speel nie, maar dat daar vele ander deur die jare was en steeds is vir wie hy hierdie rol vervul. Dit het te make met sy deernisvolle pastorale aanslag en vermoë om sagkens met mense te kan werk, veral wat hul seer en trauma aanbetref. Gevolglik was prof Piet deur al die jare in die NHKA die voorspraak vir die gemarginaliseerdes: eers vir die vroue en later ook vir die homoseksuele. In hierdie hoedanigheid het hy dikwels baie houe verduur, maar dit het hom nooit van sy beginsels laat afsien nie. Hy was ’n eksponent van die hermeneutiek van suspisie wat uiteindelik kritiek belangrik geword het in die Skrifbeskouing van die NHKA waarin die patriargale konteks van Bybelskrifte ontmasker is ten einde by die evangelie van liefde, genade en verlossing uit te kom.

Prof Piet was egter nie net as pastor geliefd nie, maar het ook diep spore in die akademie getrap. Sedert 1975 tot en met 2010 was hy in deeltydse of voltydse hoedanigheid aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria verbonde. Uit sy pen het vele akademiese publikasies gevloei waarvan heelwat in die HTS Teologiese Studies verskyn het. Sy navorsing het deurgaans getuig van kritiese eksegese en opregte erns met die verstaan en uitleg van Bybeltekste.

Hy het ook as gemeentedominee in die harte van mense gekruip en waardevolle werk verrig in gemeentes Pretoria-Suid, Delareyville, Springs en Noordelike Pretoria. Later het hy as brugpredikant opgetree in Pretoria-Oos, Rooihuiskraal en Windhoek waar sy deernisvolle aanslag van onskatbare waarde was. Die taak wat hy sedert 2013 met groot passie en ywer beklee het was om die oorblywende Hervormde lidmate van Meyerspark/Sunnyside te bedien na die trauma van die kerkskeuring. Weer eens het hy hierdie taak met onderskeiding verrig en was hy uiters geliefd onder die lidmate, soos geblyk het uit die viering van sy 50ste ampsjubileum op 18 Februarie 2018. In September 2013 is hy ook met die HCM Fourie-erepenning vereer vir sy jarelange diens en toewyding aan die NHKA op die terrein van die akademie sowel as in gemeentes. Daarop het hy met sy kenmerkende nederigheid en opregte dankbaarheid reageer.

Die vraag word dikwels gevra wat nou eintlik die kriterium vir ’n goeie Hervormde dominee is. My voorlopige antwoord op die vraag sou wees dat dit ’n kombinasie van drie dinge is: (1) Hoogstaande intellektuele kapasiteit om die kompleksiteit van die teologie en die hermeneutiek te verstaan, wat uitmond in volgehoue studie en navorsing; (2) ’n liefde vir mense en ’n deernisvolle pastorale aanslag; en (3) ’n x-faktor waarin hierdie drie binne die persona van die dominee versmelt. Dit is my opregte mening dat PA Geyser aan hierdie kriteria voldoen het.

*** Prof Piet Geyser is Saterdag 29 Augustus 2020 in die ouderdom van 76 jaar na ’n uitmergelende stryd oorlede. Sy dankdiens vind Vrydag 18 September 2020 plaas vanuit die kerkgebou van Gemeente Pretoria-Oos.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link