Om my teen myself te beskerm, het ek drie tasse wat ek gebruik as ek gaan preek: een vir gewone eredienste, een vir huweliksbevestigings, en een vir roudienste en begrafnisse. Elkeen het die nodige formuliere en ander gebruiksitems vir die erediens ter sprake.
Op 15 Mei 2020 pak ek my tassie vir ’n roudiens, maar ek sit ’n paar ekstra items in: ’n gesigmasker, ontsmettingsmiddel, ’n register wat die aanwesiges sal moet voltooi, en ook my kamera. Die eerste drie is deel van die voorskrifte vir die hou van ’n roudiens; die kamera het ek gevat om fotografiese bewys te kan hê dat almal die reëls gehoorsaam het.
Die mense kom stil-stil die kerkgebou binne, voltooi die register en gaan sit dan met maskers op een meter uitmekaar in die bankie. ’n Paar wat wou gekom het, kon dit nie regkry om die nodige toestemmings te bekom sodat hulle oor provinsiale grense kon ry vir die roudiens nie.
Vir die eerste keer sedert 8 Maart trek ek my toga aan en gaan staan ek op die kansel. Ons moet ’n paar minute wag vir mense wat nog op pad is. Ek gaan sit maar. Golf na golf emosie spoel oor my. Ek is dankbaar om weer op die kansel te kan wees; hartseer omdat dit vir ’n roudiens is; getraumatiseer deur die gesig wat ek sien as ek na die klompie in die gemeente kyk. Soos diewe in die nag sit hulle daar met hul maskers op. Van die kleinkinders begin huil, hul ouers mik om hulle te troos, maar deins dan terug, want ons moet mos sosiale distansiëring handhaaf.
Ek kyk na ons orreliste. Sy is in haar eie klein wêreldjie, net te dankbaar dat sy weer die geleentheid het om orrel te kan speel. Ek knik vir die koster. Lui die klok, net omdat ons kan, al is dit nou al tien oor elf. So begin Gene o’Kelly se roudiens.
Gene was lank siek met kanker. Hy word in die hospitaal opgeneem tydens die eerste rondte van ligte inperkingsmaatreëls, maar dié maatreëls beteken dat Hannie en die kinders hom nie in die hospitaal mag besoek nie. Uiteindelik sterf Gene alleen, sonder sy familie by hom. Dit gebeur op 27 Maart, die dag waarop die streng Fase 5-inperkingsmaatreëls in werking tree. Ek probeer troos oor die telefoon. Die familie besluit om te wag met die roudiens totdat dit in die kerk gedoen mag word en meer mense dit mag bywoon. Fase 5 het beteken dat die diens net deur tien mense bygewoon mag word, en dit moet geskied langs die graf of in die kapel van die ondernemer.
Die klok se gebeier word stil. Ek moet begin praat, maar ek kan nie. Ek moet ’n minuut of twee lank sluk aan die knop in my keel, en dan kom my stem maar krakerig uit. Ek sukkel om die gesigte voor my te lees. Dis net oë, sommige baie natterig, wat bo die maskers uitsteek.
Ons sing Grote God aan U die eer, heerlik is waar U regeer. ’n Stuk woede stoot in my op. Wat is so heerlik daaraan om op hierdie anderwêreldse manier afskeid te moet neem? Ek ploeter deur my preek. Ons sing Ek weet verseker, Jesus is Heer. Met die seëngroet is als verby. Tee en begrafnisbroodjies word nie toegelaat nie.
Die mense staan verdwaas rond. Hannie kom na my om dankie te sê. Ek kan haar nie ’n drukkie gee nie. Bo haar masker straal haar oë egter soveel kalmte en rustigheid uit dat ek daardeur bemoedig word. Selfs al dra ons maskers, kan ons aan die grote God eer bring. Met hande wat ruik na ontsmettingsmiddel kan ons daaraan vashou: Dit is heerlik waar Hy regeer.
(Ek het Hannie se toestemming om hierdie berig te skryf en die foto te plaas.)
(Ds Etienne Fourie is leraar in Gemeente Kempten)
