Die koninkryk van die hemele is soos ’n skat wat in die veld begrawe lê. ’n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond. (Matteus 13: 44, AFR2020)

Dié kort gelykenis van die weggesteekte skat onderrig gelowiges oor die koninkryk van God en vorm ’n groep met twee ander gelykenisse – die gelykenis van die kosbare pêrel en die gelykenis van die treknet. Saam is hierdie drie gelykenisse in Matteus 13: 44-59 spesifiek gerig op Jesus se dissipels. Die gelykenisse deel daarom temas van dissipelskap, opoffering en toewyding.

Hoewel ’n weergawe van die gelykenis van die weggesteekte skat ook in die apokriewe Evangelie van Tomas aangetref word, blyk dit dat Matteus die gelykenis aangepas het om aan te sluit by sy spesifieke boodskap. Ons weet nie wie die man is wat die skat ontdek nie. Hy kon waarskynlik ’n arm dagloner gewees het wat, terwyl hy die grond van ’n ryk landeienaar bewerk, op die skat afkom. In die Bybelse tyd was dit ’n algemene verskynsel dat mense kosbare besittings en geld onder die grond begrawe het. Dit het veral in tye van oorlog gebeur. Of die landeienaar bewus was van die skat, weet ons nie. Nietemin gooi die man die skat toe, sodat die eienaar van die grond dit nie sou ontdek nie, waarna die man alles wat hy besit, verkoop om daardie stuk grond waarin die skat is, te koop.

Matteus wou met hierdie gelykenis nie soseer sy hoorders se aandag vestig op die uitkoms van die gebeure nie. Hy wou eerder die opoffering van die man beklemtoon. Die man het ter wille van die skat alles opgegee, want dit is hoe kosbaar die skat, of allegories verstaan, die koninkryk van God, is.

Hierdie idee dat die koninkryk van God en die evangelie ’n skat is, is ook later in die kerkgeskiedenis verder ontwikkel. Martin Luther het byvoorbeeld in stelling 62 van sy 95 stellings die evangelie vergelyk met ’n skat. Daar skryf hy: Die ware skat van die kerk is die hoogheilige evangelie van die heerlikheid en genade van God. Daarna kritiseer Luther die aflaatstelsel wat vir die Katolieke Kerk van sy tyd ’n groter skat geword het as die evangelie self. In Luther se tyd het die kerk allerlei ander “skatte” bymekaargemaak om die evangelie aan te vul. Die evangelie, wat bestaan uit God se barmhartigheid en geregtigheid in Jesus Christus, was nie meer die enigste of belangrikste skat van die kerk nie. Daarom was ’n Kerkhervorming nodig.

So was die Kerkhervorming ’n terugkeer na die bron, die oorspronklike en enigste skat van die kerk. Vandag is dit vir ons ook nodig om maar voortdurend ondersoek in te stel na ons gelowigwees en kerkwees. Is ons toegewy aan die evangelie alleen? Of is ons so besig om ander skatte te koester dat die ware skat van die kerk maar weer op die agtergrond getree het? Is ons bereid om ons weë te verander en alles te offer vir die ware skat van die kerk? Die gedig Hervorming deur George Louw herinner ons op treffende wyse waaroor die herdenking van die Kerkhervorming en ecclesia semper reformanda werklik gaan:

Ons soek nie ’n nuwe godsdiens,
vader sy tog, nee!
nie nog ’n dogma om mee koers te hou – nie nog
’n kategismus, nog ’n rosekrans!

Ons soek U, God, opnuut –
soos ’n blom wat oopgaan
in die somer,
sodat ons oë nuut kan kyk,
vir die eerste keer,
sonder teenspraak of dispuut.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap