Dit is ’n proses wat in die geheim begin. Agter toe deure met gedempte stemme. Niemand weet van jou planne nie, want jy weet self ook nog nie… Moet jy bly of moet jy gaan?

Wipplankgedagtes. Middernagberaadslagings. Praat, oorweeg, dink, bid. Lyste van voordele en nadele. En dan begin alles weer van voor af.

Die vreemde roep. Nuwe land, nuwe geleenthede, nuwe kanse. Oorbeginne klink mos altyd idillies. Stories oor huise met diefweringlose vensters, voordeure wat nie gesluit word nie en kinders op fietse wat selfs ná sononder rondry. Veilige heenkome, beter toekoms – die gonswoorde waarmee die beelde verkoop word. Die riemtelegramme van oorkant die water klink byna te goed om waar te wees. Daar is mos ’n rede waarom die gras aan die ander kant van die draad groener is… Maar omring met daaglikse gevaar, frustrasie en vrees, klink dit na Utopië. Skielik lyk die bekende soos ’n doodloopstraat. Bly of gaan?

Dan besluit julle om te gaan. Die geheim is uit. Daar is verbasing en seer, baie seer. Nie almal is opgewonde oor die skuif nie, nie almal verstaan nie. Onsekerheid sny diep, harmonie word versteur. Ons het so gehoop hierdie ding kom nooit oor ons pad nie, moet jy hoor. Want almal weet hier gaan dit oor ’n ver totsiens. Halfpad anderkant die wêreld. Diaspora. Gaan ons mekaar ooit weer sien? Gaan ons vreemdelinge raak vir mekaar?

En dan is daar dié wat jou toesnou met dieselfde woorde as waarmee van Jesus se dissipels beskryf is: verraaier en verloëner.

Etiket om die nek, jou besittings in ’n tas, vliegkaartjie in die hand, is dit tyd vir die laaste tog lughawe toe. Praat is min, want die trane lê vlak. Afskeid was nog nooit maklik nie. Om jou geliefdes, steunpilare en vertrouelinge te los… een van die moeilikste dinge waardeur jy kan gaan.

Maar jy tel jou kop op en huil binnetoe. Hierdie was jou keuse. Jou planne, jou kinders se toekoms. Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Vlugvoos groet jy jou nuwe land. Natuurlik is alles nuut en vreemd, eintlik anders. Die opsies is baie, die tyd min, en die onkunde vier hoogty. Jy moet blyplek kry – en dié, kom jy agter, is baie duur. Huur word weekliks verhaal, en dit is omtrent wat ’n maand se huurgeld in Suid- Afrika beloop. Die paar rand in jou sak het oornag tien keer minder geword. Jy weet jy was lanklaas so arm. Jy weet jy begin eintlik weer van voor af.

Gelukkig is die voertuie weer baie goedkoop. Jy glimlag weer. Maar dan laat die keuses jou weer kopkrap: Wie het nou ooit kon dink dat jy gaan moet kies tussen sewe of agt kragvoorsieners? En watter een van die selfoonmaatskappye gaan jou die beste in kontak hou met jou mense oorkant die water? Dis nuwe name soos Spark, Skinny Mobile en 2degrees… En dan natuurlik: Watter tipe koffie gaan my ou staatmaker vervang?

Ja, nuut, vreemd en anders. Die aanpassing in ’n nuwe land is nie maanskyn en rose nie. ’n Mens gee die eerste paar treë op vreemde grond met ’n gevoel van verlies: Baie van ons moes ons geliefdes agterlaat. Geliefdes oor wie ons baie maal bekommerd is. Broers, susters, ouers. Hartsmense. Mense vir wie ons bid en wat ons soveel maal in ons gedagtes koester. Ons wonder waarmee hulle besig is en ons wonder of hulle ons mis soos ons hulle mis.

Saam met die gevoel van verlies, die pionierstog om vreemde grond jou heimat te maak. Dit is maar versigtige treë vorentoe. Ons Voortrekkerbloed, wonder ek…?

Die eerste dag by die nuwe werk: nuwe sisteme, nuwe kollegas, nuwe taal en baie maal ’n ander manier van doen. Kiwi’s wat Engels praat soos ons dit nie ken nie. Jy wat dom voel, want jy weet nie altyd wat hulle kwytraak nie. Kwalifikasies onder die vergrootglas: Is alles darem op standaard? Glimlagte oor ons vreemde aksente. Ahhh, another South African… Kinders wat moet inskakel by ’n vreemde kurrikulum en hard probeer speel in Engels. Residensie-aansoekprosesse wat senutergend en intimiderend voor jou opdoem… Nuut, vreemd en anders.

Maar dan raak dit beter. Genade onbeskryflik groot. Die vreemde word mettertyd die bekende. Onkunde verander in ontdekkingstogte. Asemrowende natuurskoon. Veilige staproetes. Vrede. Holte vir die voet, rus vir die siel. Utopië is dit nie, misdaad los sy merk wêreldwyd, ook hier.

Maar dit is anders. Terug leerskool toe: Ek gooi my eie brandstof in (en betaal sommer met my foon), ek maak my eie huis skoon. Ek betaal by ’n outomatiese kassier vir my goed in die winkel. Ek kry my groente en vrugte by die honesty box  – stalletjies voor mense se huise: Die geld word in ’n roomysbak gelos… O ja, en die meeste van ons kry elke week ons verdiende loon… vier betaaldae elke maand… Lekker.

Ek verwonder my aan my kinders wat hul vryheid ten volle benut en wat na ’n paar maande klaar soos Kiwi’s klink. Ek verstom my aan die oumense wat selfs in die nag met hul hondjies gaan stap. My mond hang oop oor mooi goed.

Sondae kom ons by ons gemeente bymekaar en loof die Here in ons hartstaal. Watter voorreg… en ons besef dit. Ons deel dit wat vir ons kosbaar is met mekaar en word weer soos daardie eerste gemeente in Jerusalem in Handelinge 2. Ons leer om na mekaar te kyk soos wat ons dit nog altyd moes doen. Ons deel in mekaar se vreugde en seer. Ons word ’n gemeentefamilie. Want ons eie bloed is ver. Die hunkering na ons geboorteland sal altyd bly. Maar hierdie het nou huis geword. Dankbaar en gelukkig bly ons hier. Die deure staan oop – welkom sal julle altyd wees.

Kiwigroete uit Hawke’s Bay, Nieu-Seeland

af
af
Deel met behulp van
Copy link