Asof dit nie genoeg was dat die verskillende ekonomieë in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) reeds aan die einde van 2016 ’n uitgerekte verlangsamingsfase ingegaan het nie, kom daar toe nog sedert Maart 2020 die addisionele skok van die Covid-19-pandemie.
Hierdie verdere negatiewe ontwikkeling het die onderskeie fiskusse onder meer druk geplaas om bystandskemas deur die normale begrotingskanaal te befonds, wat meegebring het dat staatskuld, reeds astronomies hoog vir ekonomieë van hierdie grootte, die hoogte ingeskiet het.
Ten einde die medium- en langtermyn ekonomiese impak van die pandemie beter te begryp, is dit nodig dat die Suider-Afrikaanse ekonomieë in perspektief geplaas word, eerstens onderling en tweedens in verhouding tot die hoof handelsvennote. Dit is ook nodig om al die streeksekonomieë, uitgesluit Suid-Afrika, met die Suid-Afrikaanse ekonomie te vergelyk.

Die SAOG bestaan uit 11 kontinentale lande, by name Suid-Afrika, Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Tanzanië, Zambië, Mosambiek, Botswana, Namibië, Zimbabwe, Malawi, Eswatini en Lesotho. Dan sluit dit ook nog in die Indiese Oseaan se eilandstate Madagaskar, Mauritius, Seychelle en die Comore.
Suid-Afrika is by verre die grootste van die groep en genereer ongeveer die helfte van die kontinentale SAOG-lidlande se bruto binnelandse produk. Hou in gedagte dat waar vergelykings tussen lidlande van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) gemaak word, dit relatief maklik is om ’n betroubare prentjie weer te gee, aangesien feitlik alle transaksies na rand omgeskakel word, maar waar vergelykings van die groter streek gemaak word, word dit op die Amerikaanse dollar gebaseer. Dit veroorsaak allerhande distorsies in die vergelykende data, en dikwels moet met skattings gewerk word omdat reële, vars data nie beskikbaar is nie.
Nietemin, om die groter prentjie te verstaan, word die SAOG in drie groepe ingedeel met Suid-Afrika losstaande as enigste lid in sy eie groep. Gemeet aan oorhoofse ekonomiese aktiwiteit, bestaan die onderste groep uit die Comore, Eswatini, Seychelle, Malawi en Lesotho. Al vyf hierdie lande het betreklike klein bevolkings, gevolglik merk ’n mens dit ook op in totale ekonomiese uitset. Hierdie lande genereer enigiets tussen VSA$1,7 miljard en VSA$7,6 miljard. Nie een kom naastenby by die VSA$10 miljard-merk uit nie, wat ’n belangrike meetpunt in makro-ekonomie is. Kenia, (nie ’n SAOG-lidland nie) byvoorbeeld, haal die VSA$10 miljard-kerf net-net.
Die middelgroep beslaan Botswana, Madagaskar, Mauritius, Mosambiek, Namibië en Zimbabwe. Hierdie groep val in die spektrum van VSA$10 miljard tot VSA$20 miljard.
Die boonste groep bestaan uit Zambië (wat dit net-net maak), die DRK, Tanzanië en Angola. Soos daar opbeweeg word in die gradering, raak die spektrum heelwat breër, en hierdie lande genereer tussen VSA$20 miljard en VSA$100 miljard per jaar. Angola is die grootste speler met ’n ekonomie van so amper VSA$90 miljard.
Alleenstaande is natuurlik Suid-Afrika, wie se bruto binnelandse produk so effe meer is al die ander saam. Afhangende van die wisselkoers, is die beraamde, gemiddelde grootte van die Suid-Afrikaanse ekonomie iewers tussen VSA$350 miljard en VSA$355 miljard, of in meer bekende terme, so om en by R5 triljard tot R5,2 triljard in nominale terme, dit is voor die effek van inflasie in berekening gebring word.
Terloops, ontwikkelingsinstansies soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds gebruik eerder ’n konsep wat as BBP per capita uitgedruk word. In praktyk beteken dit dat die totale ekonomie van ’n land verdeel word deur die aantal persone om ’n meer vergelykbare syfer te kry. Dit is natuurlik nie ’n werklike syfer nie, maar slegs ’n sogenaamde benchmark value, juis om ekonomieë met mekaar te kan vergelyk. Dit berus op die aanname dat almal se aandeel in en deelname aan die ekonomie ewe groot is, wat ons almal uit eie waarneming weet nie die geval in die werklike lewe is nie.
Nietemin, as per capita-syfers gebruik word, lyk die prentjie ietwat anders. Dan is Seychelle heelbo met meer as VSA$17 000 per capita en Tanzanië heelonder met slegs een duisend Amerikaanse dollar per burger. Suid-Afrika met sy bykans 58 miljoen mense doen nie besonder goed nie en val so in die middelgroep met ongeveer VSA$6 000 per persoon per jaar (of almal burgers is, kan ek nie sê nie).
Dit was alles goed en wel, en die streek se ekonomiese prentjie was redelik duidelik, tot met die einde van die 2019 fiskale jaar. Die syfers was nie waffers nie as gevolg van die algemene insinking, maar die meeste ekonomieë het darem gegroei of slegs klein, beperkte, tydelike inkrimpings beleef.
Toe gebeur Covid-19!
Aanvanklik het dit gelyk asof die grootste impak Suider-Afrika sou verbygaan, dat dit ’n Chinese epidemie is soos wat met die ander respiratoriese siektes die geval was. Of verder, dat dit so erg was in Europa omdat die bevolking relatief bejaard is, of dat dit slegs sekere rassegroepe bedreig, ensovoorts, ensovoorts.
Hoe verkeerd was ons almal nie. Dit het baie gou duidelik geword dat die nuwe koronavirus geen mens ontsien nie en dat dit feitlik onmoontlik is om ’n risikoprofiel op te trek wat nie op growwe veralgemenings gebaseer is nie. Met ander woorde, om enigsins effektief te wees, moes alle inperkings in ewe groot mate op ’n ieder en ’n elk van toepassing gemaak word.
Die effek was dramaties
Binne ses maande het die ekonomiese impak wyd uitgekring. In Suid-Afrika was dit waarskynlik die duidelikste, maar nie as gevolg van biologiese of eksistensiële redes nie. Suid-Afrika as die mees ontwikkelde land in die streek, het doodeenvoudig die beste kapasiteit om die effek van Covid-19 te kwantifiseer, en op voetsoolvlak daarmee tred te hou. Maar die bure is ook nie gespaar nie.
Alhoewel die ekonomiese afnames in die ander SAOG-lidlande nie so goed gedokumenteer is nie, is daar tog voldoende kwartaalsyfers beskikbaar wat vir ons wys dat die impak deur die hele SAOG-gebied net so erg was soos in Suid-Afrika. In die meeste van hierdie lande sal betroubare syfers eers teen ongeveer Augustus hierdie jaar beskikbaar raak, indien enigsins, dus geld die Suid-Afrikaanse voorbeeld en statistieke noodgedwonge as verteenwoordigend vir die hele streek.
Gaan ’n entstof ’n verskil maak?
Dit is die vraag op almal se lippe. Diegene wat in bedrywe is waar die impak soveel groter is as die res, byvoorbeeld toerisme, lugvaart en transport, wil graag glo dat ’n effektiewe entstof vinnig en drasties die oordrag van die virus sowel as sy effek sal bekamp. Dit is uiteraard ’n aanname en kan nie bevestig word voordat ’n beduidende persentasie van die bevolkings in al die SAOG-lidlande ingeënt is nie. Dit kan so lank as ses maande duur. Daarna sal ten minste nog ’n semester verloop voordat voorlopige data aan die lig kom, en selfs nog langer voordat daar geverifieerde data is.
Die praktiese implikasie is dat niemand vir hierdie jaar ’n terugkeer na “normaal” moet verwag nie en dat dit onverantwoordelik sou wees van enige instansie om voortydig ’n einde aan die pandemie aan te kondig.
As ons na 2020 se voorlopige syfers kyk, sien ons dat die eerste semester van Maart tot Augustus die grootste insinking gereflekteer het en dat daar reeds ’n bemoedigende herstel was in die tweede semester. Maar dit is slegs omdat die eerste fase van die insinking so erg was, en dan vind ’n mens die sogenaamde lae-basis-effek in die volgende semester. Wat dit beteken, is dat die vlak waarvandaan gemeet word so laag gedaal het dat selfs ’n nederige herstel in die opvolgende data statisties na ’n groot verbetering lyk.
Dit is nie die geval nie. Kyk na die sogenaamde nominale syfers, en dit is gou duidelik dat die oorhoofse insinking vir die hele fiskale jaar iewers tussen 8% en 10% gaan wees. In ekonomiese terme is dit enorm. Die ekonomiese insinking aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog is waarskynlik die enigste wat hiermee in omvang vergelyk kan word. Selfs nie in die moeilikste jare voor 1994 was die ekonomie in so ’n knyptang nie.
Dit is dus ooglopend dat, ten spyte van ’n breër golf van verhoogde ekonomiese aktiwiteit, en hopelik nominale groei, dit ongeveer ’n volle jaar sal duur voordat daar die geringste verwagting is dat ons weer tot die pre-Covid-19-vlakke herstel het.
Wat staan die gelowige te doen?
Dit is tegelyk die maklikste en die moeilikste oorweging. Aan die een kant is dit maklik omdat die gelowige reeds die mondering het om swaar tye te deurstaan, maar dit is ook baie moeilik, want wat sê ’n mens vir ’n persoon wat sy of haar werk verloor het, wie se inkomste en lewe in ’n groot mate aangetas is, en wat dalk ’n geliefde aan die dood moes afstaan?
Waar huishoudings onder groot druk is, is daar strukture en organisasies in die Kerk om hulp en bystand, insluitende berading, te verleen, maar dit is gewoonlik in middelinkomstehuishoudings, wat nie onder normale omstandighede vir hierdie soort hulpverlening kwalifiseer nie, dat die uitwerking van die ekonomiese insinking die diepste tref.
Hierdie stratum van die gelowiges verg myns insiens die meeste ondersteuning, veral as in ag geneem word dat hulle dikwels nie daaroor wil praat nie. Dit is hier waar die pastor in die gemeente ’n aansienlike rol kan speel. Eerstens is die vertrouensverhouding tussen die berader en die lidmaat reeds daar – lang gesprekke om agter die kap van die byl te kom, is nie nodig nie. Tweedens het hierdie lidmate gewoonlik ’n redelik akkurate aanduiding van hoe erg hul verknorsing is. Dit maak dit dan vir die pastor makliker om konkrete hulp te bewerkstellig sodat daar op die versterking en ondersteuning van die individu se geloof gekonsentreer kan word.
Waar die geloof sterk is, is ’n groot deel van die stryd al gewonne. Verder moet die pastor ook, nadat die onmiddellike nood verlig is, op langtermynherstel en bemoediging fokus, sodat gelowiges weer die krag en inspirasie kan kry om self te begin soek na nuwe geleenthede.
(Prop Daniel Steinmann is beroepafwagtend, en is tans redakteur van Namibia Economist)