Januarie 1981 en Desember 2021.
Vertrek en bestemming.
Begin en einde.
Rus?

Op Sondag 13 Februarie 2022 het prof Yolanda Dreyer die akte van emeritaat vir hoogleraars ontvang. Oudl Petro van Niekerk het die akte namens die Kommissie van die AKV oorhandig.

In haar huldigingstoespraak skets sy die breë trekke van die impak wat Yolanda op die Hervormde Kerk se geskiedenis gehad het. Petro eindig haar toespraak met die voorlees van die akte, wat die volgende woorde insluit: Die Kommissie bid u ’n aangename rustyd toe. Ek hoor die woorde en dink aan my onmiddellike omgewing wat bestaan uit Nederlandssprekende gemeentelede en langtermyn akademiese kollegas, en ek besef die woord “rus” is kwalik iets wat binne my bepaalde konteks met aftrede of ouderdom in verband gebring kan word! “Rus” kom in verskillende gedaantes. Sommige wil en ander wil nie. Soms moet jy en ander kere hoef jy nie. Soos Wilhelm Jordaan op ’n keer geskryf het – mens kan wel leer om stadiger besig te wees en op enige ouderdom is jy jóú ouderdom. Eg menslik bring ons beginne en eindes met ouderdom in verband, maar eintlik, soos Jordaan skryf, is ouderdom relatief. Dit gaan oor die reis. Die dinamiese lewensverhaal. En roetemerkers. Op Yolanda se reis het sy dus op 13 Februarie ’n akte van emeritaat ontvang, wat ’n roetemerker is op ’n baan wat sy oopgemaak het, en ’n reis wat nog onvoltooi is.

Kyk jy na die Januarie 1981 en Desember 2021 datums bo, is daar byna ’n poëtiese dimensie en ’n wiskundige balans aan hierdie volsirkel. Miskien is dit juis waarvan haar lewe in die Kerk en die akademie getuig en wat so goed deur Petro uitgelig is. As ’n mens iets oor Yolanda Dreyer en die Hervormde Kerk sou kon opteken, sou dit ’n geskiedenis van eerstes wees: teologiestudie, ordening, dosent. Dit kan ook ’n geskiedenis van ’n ambivalente ervaring van die kerk wees: versperrings om verby te steek, maar ook dienswerk oor grense heen. Dit kan ’n getuienis wees van een mens se goeie wetenskap en deurleefde spiritualiteit, protes en waardering, teorie en praktyk. As vrouepredikant, dosent en professor, is ek egter meer bewus van een aspek van haar reis as enige ander: Sy het dit vir my (en soveel ander vroue) moontlik gemaak om aanspraak te maak op bestaansreg binne kerklike en teologiese ruimtes. Yolanda het die Hervormde Kerk gehelp om ’n bepaalde versperring te kan oorsteek, deur haar deursettingsvermoë om ’n pad te maak waar daar nie een bestaan het nie. In ’n tydperk waar ons maklik die woord “genderbalans” gebruik, kan haar bydraes nie onderskat word nie. In haar loopbaan in die kerk en akademie het sy ontelbaar baie mense pastoraal begelei en bygestaan, en sy het wesenlik daartoe bygedra dat ons vandag in die Kerk weet ons moet na mekaar luister, dat ons na mekaar moet omsien en dat ons in die oomblik teenwoordig moet wees.

Daarom is nog ’n stukkie wysheid van Wilhelm Jordaan gepas: Belangriker as die begin en die bestemming is die reis self; dat jy ryk is aan alles wat jy langs die pad verwerf het; alles wat jy op die reis versamel het en tot ’n brose harmonie saamgevoeg het. Mag haar reis lank wees.

(Prof Tanya van Wyk is medeprofessor in UP se Departement Sistematiese en Historiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap