’n Pastorie se gerief en veral ruimte was nog altyd vir ons ’n kosbare voorreg. Genoeg slaapplek vir die familie as hulle kom kuier. Meer as genoeg speelruimte vir die kinders en hul maats wat gereeld hier oornag. Maar kinders word ouer, en hulle verlaat een-een die huis en met die jare word die ruimte al hoe groter en meer intimiderend.

Reeds voor die Covid-pandemie het die groot pastorie van Gemeente Welgelegen-Pietersburg se leë kamers aan ons gewete begin knaag en het dié gerief ’n saadjie van ’n skuldgevoel geplant. Die ekonomie druk swaar op die Kerk en gemeentes. Lidmate bly offer wat hulle kan en projekte moet al hoe meer kreatief bedink, beplan en uitgevoer word om geld van buite in te bring. Soos wat dit in baie gemeentes die geval is, word die instandhouding van die kerkgebou nie meer net ’n uitdaging nie, maar ’n juk waaraan die gemeente swaar dra en anderkant die muur staan die ruim en gerieflike pastorie en soebat vir ’n nuwe laag verf en herstelwerk wat nie meer verskuil kan word nie.

Toe kom die oproep: Dominee, daar is ’n oom van Phalaborwa wat reeds drie nagte in sy voertuig in die hospitaal se parkering slaap. Hoe kan ons hom help? Hoe kan ons hom nié help nie met vyf slaapkamers vir net twee mense? Nóg ’n oproep kom van lidmate in die Vrystaat wat verblyf soek ná ’n geliefde ’n ernstige beroerte gekry het tydens kontrakwerk in die verre noorde. Die familie wil egter nie indring in ons privaatheid nie en daar word gesoek na bekostigbare verblyf. Intussen slaap die oom van Phalaborwa net drie aande want hy wil ons nie pla as hy in die nag sy vrou wil gaan besoek nie. ’n Derde navraag kom vir bekostigbare behuising vir lidmate wat ver in die provinsie moet reis om by die provinsiale hospitaal uit te kom. Ook hulle sou nie graag by mense in hul huis wou bly nie. Vryheid van beweging en privaatheid is nodig.

Net daar kom die besef en begin die droom van twee kamers met privaatingange vir diegene wat reeds genoeg trauma met geliefdes se gesondheid beleef het. Die droom en gebede duur vyf jaar en die projek word in beginsel goedgekeur, maar die befondsing bly ’n bekommernis.

Die droom kry toe vlerke tydens die gemeentevergadering van Maart 2024 met die behandeling van die begroting. Daar gaan ’n tekort wees ten spyte van ’n billike verhoging in tiendes en offers en allerlei projekte wat beplan word. Die tyd is toe ryp om die hart agter die Uitreik- en Gastekamers met die gemeente te deel. Die gemeente neem die inisiatief as hul eie aan en besluit om self te bou.

Soos met Nehemia se bou aan Jerusalem se mure, is daar nie ’n tekort aan hande, kennis, vaardighede of materiaal nie. Elkeen dra by wat hy of sy kan – van lone vir die vakmanne, donasies, antieke meublement, nuwe yskaste en mikrogolfoonde, fakture vir boumateriaal wat nie betaal hoef te word nie, wegry van bourommel tot eetgerei vir die kamers.

Nie alleen het die gemeente as geloofsfamilie saam gedagtes gedeel en gewerk en gegee nie, die gemeenskap het ook hart en hand oopgemaak. Kontrakteurs het kwotasies afwaarts aangepas. Granietblaaie is geskenk en gratis gesny en geïnstalleer. Glas en spieëls is geskenk en gratis ingesit. Toe die verskaffer hoor van ’n wens om gekleurde glas in die kothuisdeure te sit, is ander glasverskaffers genader vir afvalglas totdat daar genoeg was en dit is ook gratis ingesit. Ons het van oral oor Goddelike seën en genade beleef.

Die Pastorie Uitreik- en Gastekamers is nou oop. Uitreikkamers vir staatspasiënte wat in Polokwane in die provinsiale hospitaal opgeneem moet word en vir pasiënte wat onkologiese behandeling in Polokwane moet ontvang. Ook vir hulle wat ver van hul tuiste die trauma beleef om in ’n onbekende en vreemde stad dringend gehospitaliseer te moet word. Met hulle kom ons, indien moontlik in samewerking met hul tuisgemeente, ’n redelike en bekostigbare tarief ooreen om die trauma te verlig.

Die gastekamers is vir ouers wie se kinders in die koshuise is, reisigers van suid na noord en andersom en vir diegene wat vir ’n beperkte tyd in Polokwane werk moet kom doen. Ons doel is om sover moontlik die pastorie selfversorgend te laat herleef en die druk op die gemeentebegroting te verlig.

Die pastorie het steeds haar vyf slaapkamers, maar die gewete is nou veel ligter en die vreugde om dalk net ’n verskil te kan maak, is soveel groter. Die pastorie leef weer en is veel ruimer.

Kom kuier gerus by ons. Besoek ons Facebook-blad hier vir meer inligting en foto’s. Julle is ook welkom om ons per WhatsApp by 082 561 3799 te kontak.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap