Die inperkingstyd het elke vrou ook by tye gedwing om dinge te doen wat lank uitstaande was of wat sommer net weer ’n slag lekker is om te doen. So ontdek ek op ’n dag in die grendeltyd ’n paar toesprake op my rekenaar wat geskryf is vir my kinders toe hulle nog op skool was. Ek lees hulle so een vir een deur en ontdek hierdie een wat in 2012 geskryf is, maar wat vir my so gepas is vir ons tyd.

Voorsitter:

Ek onthou nog die dag toe my ouma vir my gevra het: Talitha, gisteraand was daar nog twee koekies in die spens oor en nou is daar net een. Weet jy miskien iets daarvan? My antwoord was natuurlik: Nee, Ouma, ek kon in die donker net een koekie sien! Sjoe! Waagmoedig nè?

Dames en here, luister hierna: Volgens Mosco Carner, wat ’n biografie oor die Italiaanse komponis Puccini geskryf het, is Puccini oorlede voordat hy een van sy grootste werke, die opera Turandot, kon voltooi. Sy studente het egter na sy dood die opera voltooi.

Tydens die eerste opvoering van Turandot was een van die studente die dirigent. By die gedeelte waar Puccini opgehou het, het hy sy dirigeerstok neergesit, en gesê: Tot hier het ons meester geskryf, en toe het hy gesterf. ’n Paar minute lank was daar algehele stilte. Die student tel weer die dirigeerstok op en sê: Maar sy dissipels het sy werk klaargemaak. Trane het saam met musiek gevloei, en die applous het dawerend voortgeduur.

Hierdie studente het voorwaar genoeg waagmoed aan die dag gelê waarmee hulle baie goeie raad en daad geweet het.

Dames en here, ek wil vandag aan u bewys dat waagmoed belangrik is en dat jy eintlik ’n spens vol daarvan moet hê omdat daar soveel terreine in die lewe is waar waagmoed nodig is. Dit is byvoorbeeld nodig om in ’n snelveranderende samelewing ons man te kan staan – of is dit nou ons vrou?

’n Spens is die domicilium (vaste woonplek) van die heerlikste lekkernye en waar Ouma haar tuisgebakte koekies bêre, maar in ons lewens-spens moet ons die volgende drie sake op die rakke pak:

  • Waagmoed is nodig om besluite te neem.
  • Waagmoed moet deel van die uitdagings van die lewe van mense wees.
  • Waagmoed bring geluk.

Mense kan nie meer sinvol besluite neem wat die lewe van ánder bevoordeel nie. Besluite word dikwels geneem net tot voordeel van die eie ek.

So berig die dagblad Beeld op 22 September 2003 dat, toe New York se goewerneur, George Pataki, versoek is om 8 Augustus van elke jaar te verklaar as nasionale Erken Jy Is Gelukkig Dag, geantwoord het: Ons het geen amptelike standpunt oor geluk nie. Ons sal wag en kyk wat die Federale Regering en die ander goewerneurs doen. Oklahoma se goewerneur, Frank Keating, se kantoor het geantwoord: Ons sal eers in gesprek moet tree met ons prokureurs.

Dames en here, ek skud maar net my kop, en ek glo u ook. Hoe kan enige mens so besluiteloos wees oor ’n eenvoudige saak?

Wanneer ek en jy nie meer waagmoed aan die dag kan lê en besluite neem wat die lewe van mense verander nie, wat sal van die lewe word? Waagmoed beteken juis ’n vaste besluit wat nie net jouself bevoordeel nie, maar alles en almal rondom jou. Pak dadelik hierdie waagmoed op die eerste rak in jou spens – haal die koekies af!

Om uitdagings te aanvaar in die hedendaagse samelewing vereis risiko en waagmoed, maar wie nie waag nie, sal nie wen nie.

Piet Beukes, predikant van die NG Kerk, gee in Kerkbode van 28 Oktober 2005 die volgende riglyne wat ek wil gebruik om elke mens ’n bietjie aan te spoor om waagmoed aan die dag te lê:

  • Loop wakker en behou jou prioriteite.
  • Maak keuses, al is dit tussen twee minder goeie sake.
  • Maak foute, leer daaruit en gaan verbeter.

Waag dit. Haal nog koekies af. Pak hierdie waagmoed op jou tweede spensrak, en die uitdagings van ons tyd sal jy met vlieënde vaandels slaag!

In ’n Peanuts-strokiesprent vra Lucy vir Charlie Brown: Waarom dink jy is jy op aarde geplaas? Charlie antwoord: Om ander gelukkig te maak. En Lucy sê: Ek dink nie ek maak enigiemand gelukkig nie … Natuurlik maak niemand my ook besonder gelukkig nie. En dan, in die laaste prentjie van die strokie, skreeu Lucy kliphard: Iemand doen nie sy werk nie!

Doen iemand nie sy werk nie as jy ongelukkig is in die lewe, of lê jy te min waagmoed aan die dag om jou eie geluk te verkry?

In sy boek Sewe maal werklik gelukkig, sê Ewald van Rensburg: Ware gelukkige mense beïnvloed die wêreld positief. Hulle maak ’n verskil. ’n Mens sou kon sê hulle lê waagmoed aan die dag om anders te wees.

Kyk maar na iemand soos Moeder Teresa, wenner van die Nobelprys vir Vrede in 1979: Sy het dit gewaag om mense se lewens te verbeter en dit het vir haar geluk gebring, het ek in die tydskrif Lig van April 2012 gelees.

Waag dit ’n slag om jou eie geluk te soek. Af met die koekies op die derde rak, in met waagmoed – jy gaan dit nodig kry.

My nefie, Wikus, is ’n regte charmer, of sal ek sê ’n probeer-my-keer-ou, met nie ’n bang haar op sy kop nie. Toe hy vir die derde keer steke in sy voorkop moes kry, het die dokter vir sy ma gevra: Mevrou, weet u van die polisie se kinderbeskermingseenheid? Sy het hom daarna gestuit in talle waagmoedige aksies.

Dames en here, ons moet nie mekaar se waagmoed stuit nie. Nie wanneer ons besluite neem nie; nie wanneer ons die uitdagings van die tyd aanpak nie; en ook nie wanneer jy op soek is na geluk nie. ’n Spens vol waagmoed ís beter as Ouma se spens met tuisgebakte koekies.

Pak jou spens vol waagmoed. Dit is wat Puccini se studente gedoen het. Dit is wat New York se inwoners van hul goewerneur gevra het. Dit is wat die arme Lucy se breindeurtjie laat oopgaan het.

Vir die een wat te min waagmoed in sy spens het, is daar ook raad: Hou jou hand saggies in die holte van sy rug en spoor hom aan! Waag dit! … En daarmee … seël ek die sakkie.

Miskien is dit wat elke vrou weer nodig het in 2021: Waagmoed! Waagmoed om ten spyte van Covid-19 se impak op ons en ons gesinne se lewens asook die uitdagings wat dit aan ons almal bied, en ook die dienswerk van die NHSV, net weer op te staan en die lewe in al sy fasette aan te pak met waagmoed en kreatiwiteit. Nie net deur nuwe resepte uit te probeer nie, maar ook deur ten volle met ons lewe aan te gaan.

Tesourier: NHSV Hoofbestuur en predikantsvrou in Gemeente Montana-Oos

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap