Van die vier kanonieke Evangelies is Lukas die Evangelie wat die meeste aandag aan die vrou gee, in so ’n mate dat sommige Lukas as “die Evangelie van die vroue” beskryf. Lukas gee ’n besonderse plek aan vroue in sy Evangelie.
13 vroue wat nie in die ander Evangelies voorkom nie, word deur Lukas genoem. Dink maar net aan Maria (die moeder van Jesus), Elisabet en Anna in Lukas se geboorteverhaal van Jesus, en sy vertellings waarin Marta en Maria, Maria Magdalena, Johanna en Susanna ’n pertinente rol speel. Dan is daar ook die vroue sonder name: die weduwee van Nain, die vrou wat Jesus se voete salf, die gebreklike vrou van Lukas 13, die vroue van Jerusalem wat oor Jesus huil, en die vroue in die gelykenisse van die verlore penning en die onregverdige regter. Vroue was duidelik hoog op Lukas se agenda.
So was dit ook by die pas afgelope 72ste Algemene Kerkvergadering: Uiteindelik was die vroue van die Kerk hoog op die agenda van die vergadering. ’n Paar mooi besluite is oor vroue in die Kerk geneem. Die vorige formuliere van die Kerk wat gebruik is om huwelike te bevestig en waarin die onderdanigheid van die vrou aan die man soos ’n seer oog uitgestaan het, is vervang met ’n nuwe formulier waarin alle verwysings na die onderdanigheid van die vrou aan die man verwyder is. Die nuwe formulier lê klem op die feit dat die man en vrou gelyk is, albei geskape na die beeld van God, dat daar geen hiërargie tussen man en vrou in die huwelik is nie, en dat albei geslagte in die oë van God kosbaar is. My hart het warm gevoel met hierdie besluit. Hoog tyd. Dit is nou ’n besluit wat lankal geneem moes gewees het, het ek in dialoog met myself gesê.
Nog meer besluite oor die vrou het gevolg. Die vergadering het besluit dat die Kerk ’n veilige ruimte vir alle mense behoort te wees, wat beteken dat vroue en mans ewe menswaardig behandel moet word in alle fasette van menswees en kerk-wees. Twee lede van die Moderamen het die leiding geneem deur beskrywingspunte oor hierdie saak te ondersteun, ’n optrede waarvoor ek my waardering uitspreek. Dít is nou, het ek vir myself gesê, hoe die kerkleiding die Kerk behoort te stuur. En weer was my hart warm.
En toe word dit teetyd, en daar waar ek in die ry staan om die drankie vanuit Ceylon – in sy rooi Suid-Afrikaanse vorm – te bekom, hoor ek ’n gesprek reg voor my waarin ’n ouderling aan ’n manspredikant vertel hoe hard hy probeer het om die dominee met wie hy praat na die gemeente waar hy ’n ouderling en lidmaat is, beroep te kry. Maar dominee, sê hy toe, jy sal my nie glo nie, hulle gaan staan toe en beroep so waaragtig ’n vroumens.
En die warmte verdwyn uit my hart. Dit word koud. ’n Vergadering van vroue? Besluite sonder ’n hartsverandering? Net woorde op papier? Politieke korrektheid, veral in terme van wat die afgelope maand in Suid-Afrika gesê, gedoen en geskryf is oor die seksuele teistering van vroue?
Die toekoms sal leer. Tot en met die volgende AKV tree min of meer 30 predikante af. Gaan hierdie gemeentes vroue beroep, of gaan die grootste gedeelte van diensdoende vrouepredikante maar nog steeds in deeltydse werkruimtes in die Kerk werk of op die lysie van beroepafwagtende predikante pryk? Gaan ons weer hoor dat in hierdie of daardie gemeente ’n vrou nie beroep sal word nie? En gaan ons maar weer hoor dat daar waar vroue wel ’n kortlys gehaal het, hul huwelikstaat of voornemende of toekomstige huwelikstaat deel van die gesprek was? En waar hulle reeds getroud is, hulle gereed moes wees om vrae te beantwoord wat verband hou met hul eggenoot se beroep en finansiële posisie, of sy en haar eggenoot reeds aan ’n mediese fonds behoort, en dat daar seker darem nie vir behuising voorsiening gemaak hoef te word nie? In kort, Dominee, wie jy is en wat jy is, word gedefinieer in terme van jou man.
Ons het nie goed begin nie. Ten spyte van ons besluite, is net twee vroue in die Kommissie verkies. Maar tog was my hart vir oomblikke warm. En toe koud. En nou hou ek maar my hart vas oor wat gaan en wat nie gaan gebeur nie. Intussen sal ek maar weer die Lukas-evangelie gaan lees. Want dan word my hart warm soos die harte van die twee Emmausgangers (waarvan een heel waarskynlik ’n vrou was) toe Jesus aan hulle die Skrifte uitgelê het (Luk 24: 32). So warm soos dit was toe die 72ste AKV sulke mooi besluite oor die vrou geneem het.
Mag die evangelie seëvier! Mag die Kerk ’n Lukasgemeente wees…
(Prof Ernest van Eck is adjunkdekaan van UP se Fakulteit Teologie en Religie, en
hoof van die Departement Nuwe-Testamentiese Wetenskap)