Die NHSV se 50ste Nasionale Kongres vind van 26 tot 28 Junie 2026 plaas. Die openingsaand is by Gemeente Montana en die kongresverrigtinge vind by Batter Boys, Montana, Pretoria plaas.

Ds Leon Geel (sr), erepresident van die NHSV, sal die oordenking tydens die openingsaand lei. Die bekende orrelis, Pieter van den Berg, en verskeie ander musikante sal die begeleiding vir ons hanteer. Groeteboodskappe deur die Algemene Kerkvergadering en die Komitee vir Diakonaat sal onderskeidelik deur ds Leon Geel (sr) en dr Martin Jansen van Rensburg gelewer word.

Gaskunstenaars en -sprekers

Ons eerste motiveringspreker is die bekende Yolande Britnell-Steyn. Haar bediening is oor die moeilike pad wat vroue soms stap en om elke vrou daaraan te herinner dat God hulle vir ’n spesifieke doel geskep het.

Een van ons kunstenaars, Jak de Priester, het geen bekendstelling nodig nie. Na 20 suksesvolle jare in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, is hy ’n bekroonde kunstenaar met sy sielvolle stem, betekenisvolle lirieke, ritmiese musiek en vermaaklike verhoogpersoonlikheid. Hy het oor die jare diep in sy ondersteuners se harte kom nesskop.

Ons tweede kunstenaar is Je-ani Swiegelaar met haar eenvrouvertoning, Swipe regs. Sy is wyd bekend vir haar rol as sr Naomi Ferreira in die gewilde kykNET-sepie Binnelanders asook in ander televisieproduksies, insluitend ’n gasrol in Villa Rosa en die karakter Marietjie in Getroud Met Rugby 4.

Ons tweede motiveringspreker, Gerda van der Merwe, is ’n predikantsvrou en die stigter van LÉÉF en Dayenu Art and Framing – twee platforms waar kreatiwiteit, neuro-afrigting en menswees op ’n unieke wyse saamvloei.

Beskrywingspunte

Die beskrywingspunte wat tydens die kongres gaan dien, bepaal die NHSV se aksiestappe vir die volgende drie jaar en die projekte wat ons gaan aanpak. Die kwessies wat aangespreek gaan word, is onder andere ouerleiding, bejaardesorg, jeug en geestesgesondheid.

Mededelings en ons eie kunsaktiwiteit

Mededelings word tydens die kongres deur die volgende instansies gelewer: Welstandsprogram en SGB, Afdeling Interne Oudit, Rata Maatskaplike Dienste, CSO, Eendrachtkring, Ons Tuis, Bybelgenootskap, SP Engelbrecht-museum, DPS-pleegsorghuise, Komitee vir Diakonaat en Weet.

Saterdagaand hou ons ’n kunsaktiwiteit soortgelyk aan scrapbooking wat deur mev Thea van Rooyen aangebied word. Sy het die NHSV-temas van die afgelope drie jare met haar unieke styl en kuns uitgebeeld.

Kongresoproep en geloofsbrief

Ons bied finansiële ondersteuning aan vir NHSV-takke en vrouelidmate wat graag die kongres wil bywoon. Kontak asseblief die NHSV-kantoor (012 325 0117) of stuur ’n epos aan admin@nhsv.org.za met die versoek. Ons help graag.

Die geloofsbrief en besprekingsvorm is beskikbaar by www.nhsv.org.za/omsendskrywes/.

(Mari-lizé Beukes is die voorsitter van die NHSV-Hoofbestuur)