Wanneer die verhaal van ’n gemeente vertel word, is daar ’n belangrike perspektief wat op die voorgrond staan selfs al kan jy nie die onsigbare krag daarvan waarneem nie.

Wat jy wel kan raaksien, is die mense en die aktiwiteite wat hulle uitvoer onder leiding van hierdie Krag: die krag van die Heilige Gees. Dit is die lidmate wat die gemeente en kerkwees in stand hou omdat hulle nuwe prioriteite en ’n nuwe lojaliteit aangekweek het. Lojaal teenoor God, ondersteunend, met omgee vir mekaar – ’n gemeente wat liefdevol van mekaar praat.

Soos baie ander klein gemeentes, het Newcastle voor ’n keuse te staan gekom: Moet ons nie maar handdoek ingooi nie? Ons kan nie meer ’n eie predikant bekostig nie. Hulle het in die woestyn van moedeloosheid geloop en gewonder waar die volgende “water” vandaan sou kom.

Maar hulle het besluit: Ons gee nie bes nie! Hieruit het ’n spontane beweging gegroei van lidmate wat inisiatief geneem het. Fondsinsameling word deur lidmate – en nie kerkraadslede nie – bestuur en maandeliks in stand gehou. Barmhartigheidsdiens is weer die inisiatief van die lidmate en nie die kerkraad nie.

Die jaarlikse basaar: lidmate én kerkraadslede.

Bybelstudie word deur lidmate aangebied. Die administrasie van die gemeente is “skoon” en op datum. Die finansiële komitee – nie ’n dominee nie – gee skitterend leiding. Daar is geen enkele gemeentelike aktiwiteit, selfs nie die NHSV nie, wat nie deur lidmate bestuur word nie.

Het ons hier met engeltjies te doen? Nee, met mense soos ek en jy wat ’n besluit geneem het dat hulle nie gaan opgee en kyk hoe die gemeente sink nie. Konflik? Natuurlik is daar konflik, maar konflik gaan nie “bed toe” nie.

Hou almal van mekaar en kuier almal by mekaar? Nee, daar is mos verskille, almal kan nie van mekaar hou nie, terwyl ander weer nader aan mekaar beweeg. Word daar geskinder? Vir seker! Jy gaan dit nie uit menswees haal nie! Bly hulle kwaad? Sommige ja, vir lank, ander weer korter.

Eredienste word gelei deur die skriba en ’n ander ouderling, terwyl ’n emerituspredikant van die NG Kerk een erediens per maand lei. ’n Predikant van die Hervormde Kerk besoek die gemeente tien dae per maand, lei twee eredienste en gee aandag aan ander pastorale werk. Wanneer dit vir die predikant nie moontlik is om oordenkings “uit te saai” nie, doen die skriba dit.

Wat is nie anders nie? Die feit dat die gemeente uit mense bestaan. Dat hulle soos alle ander mense funksioneer.

Wat is dan anders? Die krag van God se Gees. God self is in beheer. Die gemeente het ’n nuwe identiteit aangeneem en lééf, hoe goed of sleg ook al, daardie identiteit in die gemeente, teenoor mekaar en in die gemeenskap van Newcastle. Hulle leef die identiteit van Christus!

Is hierdie verhaal mensverheerliking? Nee! Dit is soos dit is. Dit is die verhaal van God wat ’n gemeente in stand hou ten spyte van swaarkry. Want dit is biddende swaarkry. Kom kuier!

Here, alleen kan ons nie die pad loop nie; maak vir ons die pad gelyk en sterk ons hande. Dit is u kerk. Ons dien U. Amen.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link