Op 2 Januarie 2015 daag dr André Ungerer by die Fakulteit van Teologie en Religie by die Universiteit van Pretoria (UP) op om sy nuwe opdrag as hoof van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) aan te pak. Daar is nog geen studente op kampus om te begelei nie, maar hy is gereed! Dié beeld van dr Ungerer wat slaggereed voor geslote deure staan, is op ’n foto vasgevang. Tien jaar later is dieselfde toneel besig om te ontvou. Op dieselfde wyse staan dr Ungerer voor die geslote deure van aftrede – paraat en toegerus vir wat voorlê, selfs nog voor dit aangebreek het.

Dr Ungerer reflekteer met groot waardering en dankbaarheid oor die verskillende maniere waarop hy sy roeping in die Kerk kon uitleef. Sy keuse van beroep is deur skoolmaats aangemoedig na afleiding van die huisgodsdiens wat hy tydens sy koshuisdae gelei het. Destyds terwyl dr Ungerer by die technikon studeer het, het hy tydens middagete besluit om by UP te gaan aansoek doen om sy studie in teologie te begin. In 1982 spring hy as eerstejaarstudent weg en in 1988 word hy by Gemeente Wesmoot georden. Hierna dien hy as predikant in Gemeentes Welgelegen-Pietersburg (1992-2003) en Klerksdorp-Doringkruin (2004-2014) waartydens hy sy PhD-graad in 2010 verwerf het en later as hoof van die HTK aangestel is.

Dit is ’n omvattende bediening vol besondere prestasies wat ’n hoofstuk van sy lewe afsluit om ruimte te skep vir die volgende een wat voorlê. In hierdie hoofstukke is daar ’n goue draad waarneembaar – verhoudings. Dié sentrale tema van verhoudings vloei ook uit dr Ungerer se navorsingsgebied van gemeentebou asook sy betrokkenheid by verskeie strukture binne die Kerk waar hy gedien het as redakteur van Die Hervormer en voorsitter van die Algemene Kerkvergadering (AKV) asook die kuratorium. Dr Ungerer vertel dat hy die geroesemoes van studente op kampus gaan mis, maar in besonder die geleentheid wat sy pos as hoof van die HTK hom gebied het vir interaksie en verhoudings met studente en predikante oor streke heen. Dit het hom ook die geleentheid gebied om verhoudings met kollegas vanuit ander kerke te bou.

Maar watter planne word beraam vir dié nuwe hoofstuk? Tans is dr Ungerer ingeskryf vir twee kursusse, naamlik mediasie by The Academy of Mediation en geestelike begeleiding met die oog op kontemplatiewe spiritualiteit by The Centre of Spirituality. Dit is duidelik dat die konsep van aftrede nie as remskoen vir dr Ungerer geag word nie. Hierdie opleiding dra by tot verskeie projekte wat word beoog/beplan is soos meditasiestasies en wandelpaadjies by ’n groenerf wat hy ’n paar jaar terug in samewerking met ander verkry het. Hulle wil daar vir kollegas en belangstellendes ’n ruimte skep waar hulle stil kan word en kan probeer uitpluis watter impak die blootstelling aan stilte op hulle het. Verder wil dr Ungerer graag by verskillende gemeentes op uitnodiging eredienste waarneem en die Kerk ondersteun deur sy mediasiedienste wat hy kan verskaf. Dr Ungerer se huidige opleiding, blootstelling oor die jare in verskeie gemeentes en as hoof van die HTK dra by tot die goeie bydrae wat hy as mediator sal lewer. Die Kerk wil hom graag voorspoed toewens vir hierdie nuwe avontuur.