Na die suksesvolle uitvoering en opname van Kruis van Liefde, die eerste Afrikaanse Paasoratorium, in Maart 2021, het die publiek se oorweldigende positiewe reaksie die komponis, Franco Prinsloo, geïnspireer om nog ’n Oratorium te komponeer. In sy nuwe Kersoratorium, Lig van Waarheid, beeld hy die verhaal van die geboorte van Jesus – die Kersverhaal – uit. Die nuwe Oratorium is spesiaal vir die Vox Chamber Choir gekomponeer.
Die libretto vir dié splinternuwe Oratorium is deur Prinsloo en die bekende bariton Chris Vale saamgestel. Hulle het liriese berymings uit die Halleluja-sangbundel en die Koraalboek van 1956, en enkele tekste uit die Sionsgesange van 1945 herbenut. Die teks vir die resitatiewe is uit die 1953- en 1983-vertaling van die Evangelie van Lukas geneem.
Nadat ek opnuut weer die wonderlike liedtekste van die Halleluja-sangbundel en die ou Koraalboek van 1956 bestudeer het, het ek besef watter ongelooflike poëtiese waarde hierdie tekste bied. Ek het doelbewus liedtekste wat onbekend aan my is, begin versamel, spesifiek met die doel om die Kersoratorium te komponeer, vertel Prinsloo. Die tekste besit ’n besondere ritmiese vernuf omdat dit juis geskep is om gesing te word. Dit is ongelooflik opwindend om nuwe lewe in hierdie soms vergete tekste te blaas met nuwe toonsettings.
Prinsloo en Vale het doelbewus nooit na die oorspronklike melodieë gekyk nie, en slegs met die berymings gewerk om te verseker dat die finale libretto uit poëtiese, kragtige lirieke bestaan. Die gevolg is ’n meesleurende, nuwe Afrikaanse Kersoratorium wat nuwe lewe in ou tekste blaas deur vars, kontemporêre toonsettings.
Die verhaal word deur ’n ongewone kombinasie van instrumente vertel: koor, soliste, ’n strykorkes, twee trompette, celesta, perkussie en ’n solo-fagot. In die laaste beweging word ’n orrel ingesluit wat op triomfantelike wyse die voltrekking van die Oratorium aankondig, en sluit dan ook tematies aan by die Paasoratorium, Kruis van Liefde.
Kruis van Liefde was spesifiek gekomponeer om ’n koor vir sowel arias as resitatiewe aan te wend. In Lig van Waarheid gebruik die komponis egter drie soliste om die rolle van Maria, Josef en die engel Gabriël uit te beeld.
Prinsloo se uiteindelike doel is om ’n trilogie van Oratoria te komponeer: Kruis van Liefde, Lig van Waarheid en Kroon van Wonders. Laasgenoemde, Kroon van Wonders, se libretto is reeds gedeeltelik deur die skrywer en digter Hans du Plessis voltooi. Die beplanning vir die Oratorium-première in 2025 het reeds afgeskop. Die opname van Kruis van Liefde is vroeër in 2022 vir twee SAMA’s benoem.
Die wêreldpremière van Lig van Waarheid het plaasgevind op Sondag 27 November 2022 om 16:00 in die Groote Kerk, Kaapstad. Prinsloo se eie kamerkoor, Vox Chamber Choir van Pretoria, het kragte saamgesnoer met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Die komponis self het die orkes dirigeer. Drie soliste in Vox Chamber Choir het die rolle van Maria (Marilize Hattingh), die Engel (Chris Vale) en Josef (Wouter van Wyk jr) vertolk.
Vir Gautengse gehore is ’n spesiale voorkonsert van Lig van Waarheid uitgevoer op Sondag 20 November 2022 om 15:00 by die NG Kerk Universiteitsoord in Pretoria. Die werk is by hierdie geleentheid aangebied as ’n weergawe waar die strykorkes verwerk is vir die orrel. Die orrelis was die bekende Isabelle van Rensburg. Magdalena de Vries het die timpane bespeel, Richard Kingon en Alex Urban die twee trompette, en Esther Watkinson die fagot.
’n Professionele opname is tydens die Kaapse konsert opgeneem en luisteraars kan daarna uitsien om hierdie werk op Kersdag op PretoriaFM te hoor. Dit word om 17:00 uigesaai. Die musiek sal ook uitgereik word op digitale stroomdienste soos Spotify, Apple Music en vele meer. ’n Pragtige video-opname is ook gemaak tydens die Kaapstadse Konsert en sal binnekort op YouTube beskikbaar wees.
(Ds Wouter van Wyk jr is leraar in die NG Gemeente Tygerpoort)
