’n Nuwe redakteur is onlangs vir die NHKA se Bybelse Dagboek benoem. Ons het die uittredende redakteur, ds David Barnard, en die nuwe redakteur, dr Annelie Botha, gevra om hul gedagtes daaroor met ons te deel.
Ds David Barnard: Die Bybelse Dagboek van 2022 het midde-in die ergste Covidtyd tot stand gekom. Etlike van die skrywers het hartseer in eie kringe beleef of moes lidmate ondersteun wat swaar gebuk gegaan het onder verliese. Desnieteenstaande is die mooiste trooswoorde en treffendste boodskappe van hoop in hierdie moeilike tyd uit hul penwerk gebore. Dit was ’n groot voorreg om by die Dagboek vir 2022 betrokke te kon wees en veral om met begaafde redaksielede soos drr Annelie Botha en Gerhard Nel én ds Mariaan Beukes te kon saamwerk. Die grafiese-en-taal-span, Francis Nel en Tessa Oppermann, bly staatmakers waarsonder die Kerk kwalik kan klaarkom. Dit is altyd ’n vreugde om met hulle saam te werk. My opregte dank vir die voorreg aan my gegun, en baie sterkte aan die nuutbenoemde redakteur, dr Annelie Botha, met die groot uitdaging.
Dr Annelie Botha: In 2021 het ek deel geword van die redaksiespan van die Bybelse Dagboek, maar vir geen oomblik gedink dat die voorreg my te beurt sou val om ’n jaar later die eerste vrou te word wat aangestel word as redakteur van die Bybelse Dagboek nie. Van my vroegste herinnering van die Bybelse Dagboek is dat dit een van die boeke was wat gebruik is wanneer ek en my sussie kerk-kerk speel en ek daaruit vir haar sou preek. ’n Woord van dank aan di Lisa-Mari Prinsloo en Marina Kok-Pretorius wat sonder huiwering ingewillig het om deel te wees van my redaksiespan. Ten spyte van die laat wegspring wat ons gehad het, is ons op koers met die beplanning van die Bybelse Dagboek vir 2023. Dankie aan elkeen wat reeds ingewillig het om vir dié uitgawe te skryf.
