Navorsing het gewys dat die top tien nuwejaarsvoornemens wat deur mense gemaak word, is:
- Om gewig te verloor
- Om op te hou om te rook
- Om by ’n begroting te bly
- Om meer geld te spaar of te verdien
- Om ’n beter werk te kry
- Om meer georganiseerd te wees
- Om meer te oefen
- Om meer geduldig met ander mense te wees
- Om meer gesond te eet
- Om ’n beter persoon te wees
Dit is die top tien. Nou ja, behalwe vir nommers 2 en 5, om op te hou rook en om ’n beter werk te kry, kon dit net sowel ’n lys van my persoonlike nuwejaarsvoornemens gewees het. Maar dit is ’n lys hoe die breë publiek voel en dit is wat ’n hele klomp verskillende mense tydens ’n meningsopname gesê het. Maar het julle opgelet dat daar nie een is wat oor godsdiens of geloof gaan nie? Van al die prioriteite in hul lewens waaraan mense gesê het hulle in die nuwe jaar meer aandag moet gee, was godsdiens nie eers naby aan die top tien nie!
Die beste nuwejaarsvoorneme oor geloof sal sekerlik iets wees soos: In 2026 sal ek nader aan die Here leef!
Om naby aan die Here te leef, om nader aan die Here te beweeg – dit klink na so ’n mooi, edel doelwit, maar wat presies bedoel ons hiermee? Wanneer presies gaan ons weet dat ons nou naby aan God is? Hoe gaan ons voel, wat gaan ons beleef, wat gaan ons dink as ons naby aan God gekom het?
In Eksodus 3 lees ons van iemand wat baie naby aan God gekom het, so naby dat God vir hom gesê het: Staan nou ’n bietjie terug en trek jou skoene uit, want dis ’n heilige plek waar jy nou staan! Ek praat natuurlik van Moses wat God in die brandende doringbos ontmoet het. Kom ons gaan kyk wat Moses se belewenis was, wat Moses geleer het toe hy naby aan God gekom het.
Die eerste ding wat ons kan raaksien, is dat dit God was wat Moses opgesoek het en dat dit God was wat Moses nader geroep het. As God vir Moses nader roep, sê Hy wie Hy is: Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob (Eks 3: 6, AFR83). Die Here sê ook dat Hy weet wat aan die gang is op aarde: Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem (Eks 3: 7, AFR83). Die Here sê dan dat Hy iets daaraan gaan doen: 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning … 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk (Eks 3: 8-9, AFR83). Maar dan sê die Here vir Moses wat sy plan met hom is: Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry (Eks 3: 10, AFR83).
Nou eers sê Moses iets. Hy het nie geweet met wie hy praat toe die Here geroep het: Moses! Moses! en hy geantwoord het: Hier is ek! nie. Nou dat Moses besef dat dit die Here is wat met Hom praat, nou dat hy besef dat hy só naby aan die Here gekom het dat hy letterlik in die Here se teenwoordigheid is – nou het Moses die geleentheid om direk met God te praat, nou kan Moses vir die Here sekerlik gevra het net wat hy wou.
Maar, daar naby aan God, daar in God se teenwoordigheid, vra Moses nie vrae om sy nuuskierigheid tevrede te stel nie. Moses vra net twee vrae, maar dit is twee van die belangrikste vrae wat enige mens ooit kan vra. Dit is vrae wat ek dink ons ook elke dag vir onsself moet afvra as ons in ons lewens al hoe nader aan God wil beweeg.
Moses vra: Wie is ék? en hy vra: Wie is U, Here?
As Moses by God hoor dat sy plan is om hom, Moses, weer terug na Egipte toe te stuur om die Israeliete te bevry, vra hy: Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry (Eks 3: 11, AFR83)? Daar, naby aan God, hoor Moses dat God ’n plan met sy lewe het. Maar dis asof Moses nie kans sien nie, asof Moses homself nie opgewasse voel vir dié taak nie – wie is ék dat ék dit sal kan regkry, Here?
Maak ons nie maar ook baie keer ook so nie? Ons weet baie goed uit die Woord van die Here hoe Hy wil dat ons sal optree, maar dan is dit of ons tou opgooi nog voor ons eers probeer het: Ek is maar net ’n sondaar, wie is ék dat ék dit sal regkry om God se liefde uit te leef en uit te dra?
Maar hoor hoe antwoord God vir Moses: Ek sal by jou wees (Eks 3: 11, AFR83), sê die Here vir Moses. Met ander woorde: soek jou krag in my Almag, soek jou identiteit in my majesteit, jy is opgewasse omdat Ek almagtig is. Jy voel dalk onbekwaam, Ek, die Here, sal jou bekwaam maak – Ek sal by jou wees, sê die Here vir Moses, en ook vir ons.
Dan vra Moses sy tweede vraag: Wie is U, Here? Volgens Eksodus 3: 13 (AFR83) vra Moses: Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?
Om iemand se naam te ken, was in Bybelse tyd baie meer as net om te weet wat jy hom noem as jy hom roep. Jou naam het gesê wie jy is, wie jou ouers is, waar jy vandaan kom, dit het baiekeer ook iets van jou persoonlikheid beskryf. Om te weet wat iemand se naam is, was om daardie persoon te ken, daardie persoon te verstaan. Ook dit wil ons maar al te graag met God probeer regkry. Ook ons wil God graag verstaan, ons wil graag vir God laat inpas in ’n bepaalde blokkie wat ons met ons verstand kan omvat, want dan dink ons sal ons gemakliker deur die lewe gaan, as ons net kan verstaan hoekom God met ons laat gebeur wat met ons gebeur…
God se antwoord as Moses vra: Wie is U, Here? Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur (Eks 3: 14, AFR83). Ek is wat Ek is. God is wat Hy is – God kan nie deur tyd, plek of verstaan in menslike terme vasgepen word nie. Hy is wat Hy is – Hy is God!
Nadat die Here Hom bekend maak as Ek is wat Ek is, beveel Hy vir Moses om vir die volk te herinner dat Hy ook die God van hulle voorvaders is. Met nader woorde, soos Hy met hulle voorvaders was, so is Hy nou met hulle, so sal Hy ook in die toekoms by hulle wees.
Dit sou lekker wees om op dié punt nou te kon sê: En toe het Moses gedoen wat die Here van hom gevra het, al het hy nie heeltemal verstaan nie. Omdat hy, toe hy naby aan God gekom het, begryp het wat God vir hom doen en dat God by hom is, daarom het Moses sonder vrees die farao gaan pak en die Israeliete uit slawerny bevry. Kom, my broer en suster, kom ons gaan doen dieselfde!
Dit sou lekker wees om dit te sê, maar dis nie wat Moses gedoen het nie. Omdat Moses mens is soos ons mense is, het hy bly teëstribbel: Sê nou hulle glo my nie; ek kan nie goed praat nie; stuur tog liewers iemand anders – so probeer Moses uitkomkans kry. Die Here wys dat Hy regtig met Moses besig is en besig wil bly. Hy verloor nie sy geduld met die onwillige Moses nie. Hy praat mooi met Moses 11Wie het aan die mens ’n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? 12Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê (Eks 4: 11-12, AFR83). Hy wys Moses om wondertekens te doen sodat die farao en die Israeliete sal glo dat dit regtig God is wat hom gestuur het. Hy kry vir Aäron om Moses se hande sterk te maak.
So maak God vir Moses bekwaam en gewillig om sy werk te doen. So wys die Een wie se naam is Ek is wat Ek is dat Hy regtig ook by Moses is. En so bly die genadige en geduldige God ook elke dag met elkeen van ons besig.
Om naby aan die Here te bly, sal ons kort-kort moet vra: Wie is ék dan, Here? en Wie is U, Here? En as ons dan hoor: Ek is wat Ek is, sal ons onwrikbaar daaraan moet vashou dat dié God ook vir my en vir jou sê: Ek sal by jou wees – Ek maak jou wat jy is, en Ek sal jou bekwaam maak om te wees wat jy moet wees omdat jy my kind is.
Kom ons pak die nuwe jaar dan met vertroue aan, want ons God se Naam is Ek is wat Ek is en Ek is wat Ek is se belofte aan jou en aan my is: Ek sal by jou wees! Kom ons leef in 2026 naby aan die Here!