Die wêreld staan al vir amper ’n jaar en ’n half basies stil – ons is vasgekeer in die vrees vir ’n siekte wat nou nie meer net op oppervlaktes bly lê nie, maar selfs in die lug in gange en vertrekke bly rondhang. Ons het gegaan van Niemand wat ek ken, is siek nie na Ek kan nie glo my kollega van tien jaar terug is dood van Covid nie na jou absolute naaste familie wat siek word.

Ek werk by ’n skool as terapeut, en aangesien ek reeds in Junie 2020 teruggekeer het werk toe, het ek die gesondheidsmaatreëls streng nagevolg – dra jou masker, saniteer aanmekaar, was jou hande met seep en water, en my tweejarige seuntjie was maklik ’n jaar laas in ’n winkel of publieke plek. Hy word net blootgestel aan my huis, sy pa se huis, sy tannie se huis, sy grootouers se huis en sy dagsorg.

As gesondheidswerker het ek reeds in April 2021 my inenting ontvang. Sy oumas en oupa het onmiddellik geregistreer vir inenting toe hul fase aangebreek het, sy pa is as onderwyser ingeënt, en sy tannie het reeds haar eerste inspuiting gekry – ons almal het werklik alles in ons vermoë gedoen om hierdie pandemie te oorleef, en ook om mekaar teen blootstelling te beskerm.

Maar op 30 Junie 2021, na ’n tien-dae-isolasietydperk oor Michael en sy pappa in kontak was met iemand wat positief vir Covid getoets het, gaan ek vir ’n Covid-toets omdat ek simptome begin ontwikkel het. Op 2 Julie 2021 ontvang ek die skrikwekkende uitslag – ja, ek is Covid-positief! ’n Mens se kop draai dadelik met al die moontlike uitkomste: Wat as ek in die hospitaal beland? Hoe maak ons dan met ons seuntjie? Wat as die hospitaal nie plek het nie? Wat as ek dit nie oorleef nie…?

Op hierdie punt het my familie natuurlik een vir een kos, kruideniersware en ander essensiële items begin aandra. Ek het vir ’n week lank nie een keer kos gemaak nie, daar was genoeg. Ek het elke 12 ure geworstel deur ’n hele ry pille, maar ek kon voel hoe die medikasie werk. Omdat ek my seuntjie by my gehad het, en steeds doeke moes ruil, einas gesond soen, lyfie moes was, neusie moes afvee, het dit my aan die gang gehou. En hy is in ’n stadium waar hy elke kort-kort sê: Lief jou, Mamma!! So my gemoed was eintlik heel goed. Soos daar in Josua 1: 9 geskryf staan: Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Genadiglik het ek na ’n week werklik beter gevoel. Vir veiligheid was ons vir 14 dae vandat ek siek geword het steeds in isolasie. Maar ek was gelukkig. Ek glo vas my inenting en my nakoming van die dokters se voorskrifte het my beskerm.

So baie mense om my is en was nie so gelukkig nie. ’n Kollega van my het einde verlede jaar Covid opgedoen, en alhoewel hy herstel het, het hy nou permanente skade in van sy organe. Dit gaan hom nog lank neem om net naby aan sy fisieke sterkte voor Covid te kom.

En ’n geliefde gesin in ons gemeente, die Du Preezs, is ekstra hard getref deur Covid. Oom Danie en tannie Marietjie is reeds oorlede, en Mariska, hul dogter, veg steeds in die hospitaal. My hart breek vir hulle, want ek kan my nie voorstel nie hoe dit moet wees om jou ma en pa in een maand te verloor, terwyl jou sussie steeds veg vir haar lewe.

As ’n geloofsgemeenskap moet ons verwoed bid vir hierdie gesin en al die predikante, gemeentelede, families, kennisse – almal wat in hierdie pandemie swaarkry en veg vir hul lewens en rou oor hul geliefdes wat dit nie oorleef het nie. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses (Ps 34: 19).

Mag die Here ons styf vashou, en vir ons vertroosting gee wanneer dinge ondraaglik raak, en mag ons altyd onthou: Niks kan jou van God se liefde skei nie, selfs nie eens die dood nie (Rom 8: 38).

 

*** Mariska du Preez is intussen oorlede (Woensdag 4 Augustus); haar ma, Marietjie, is op 24 Julie oorlede, en haar pa, Danie, op 12 Julie.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link