Hoe weet jy iemand was voorheen ’n gelowige, maar is nou ’n ateïs? Hulle sê vir jou – o, hulle sê vir jou! En, net ingeval jy nog nie seker is nie, word kleurvolle detail waarvoor jy nie gevra het nie (en waaroor jy eintlik nie minder kan omgee nie) bygevoeg.
Op 24 Augustus verlede jaar verskyn ’n uitstekende artikel deur die bekroonde aktrise en skrywer Antoinette Louw op Netwerk24. Sy skryf oor oud word en oor ons stories: En hoe ouer ons word, hoe meer stories dra ons binne onsself. Komedies, tragedies, rillers. Ons is lopende biblioteke. Die kern van die skrywe is dat party mense oud word voor hul tyd: Kyk om jou rond en jy sal baie mense sien wat nog jonk is, maar oud. En ander oud, maar jeugdigheid vonkel in hul oë. Diepsinnige mymeringe van iemand wat die lewe lééf.
Die kommentaarafdeling se eerste paar bydraes sluit netjies by die tema aan. Maar dan verklaar iemand (onder ’n verbeeldinglose skuilnaam): Ek het mega-vreugde ontdek toe ek godsdiens vaarwel toeroep. ’n Ander deelnemer vra wat dit met ouderdom te make het en kry ’n vae antwoord – maar iemand anders voeg gou by: Geloof is daar om die gepeupel te beheer. Gelowiges slaan dadelik terug met opmerkings soos: Ek bid vir jou; en: Ek hoop jy kom tot inkeer voor dit te laat is. Dit word beantwoord met: Die ewige dood wag op almal. Weer hou gelowiges nie terug nie: Ek wil nie in jou skoene staan as die wederkoms plaasvind nie. Die reaksie verbaas nie: Jy gaan lank wag.
En so rafel die kommentaardraad heeltemal uit en die gesprek word ’n onsinnige geredekawel oor die meriete van geloof en van ongeloof – en ontspoor tot ver buite die konteks van die betrokke artikel se oorspronklike edele bedoelings. ’n Mens sou natuurlik kon hoop dat hierdie soort kaping van ’n kommentaarblad vir godsdienstige hareklowery die uitsondering is, maar helaas…
Ek het eens op ’n tyd graag gelees wat spraaksame voorheen-gelowiges op sosiale media kwytraak. Dit was aanvanklik vars en selfs hier en daar leersaam, maar veels te gereeld ontaard gesprekke in ’n neerhalende, kwasi-intellektuele geteem oor diegene wat nog nie die “lig” gesien het nie. As dieselfde styl van gelowiges kom (en maak geen fout nie, dit kóm), word dit as ongepoetste dwepery beskou.
As jy die kerk wil aanval, kan jy darem met iets beter vorendag kom as dieselfde dermsuitrygery tot vervelens toe. Jy kan teologie tog net soveel maal “fabelkunde” noem en godsdiens gelykstel aan “geloof in die bestaan van die paashaas” voor jou “skerp” sêgoed geyk raak en alle trefkrag verloor. Jy kan ook net soveel keer verwys na “idiotiese” gelowiges wat kwansuis naïef, of boos, of dom, of onvry, of wat ook al is, voordat die onverkwiklikheid van jou persoonlike pynlike ervaring met die kerk en geloof begin deurslaan. Maar die veroordelende, dikwels fundamentalistiese en selfs ad hominem-reaksies van “kerkmense” maak nie die maal meer verteerbaar nie – inteendeel…
Ek is heeltemal té vertroud met ’n Lutherse aanvegting en berusting om vuur met vuur te beveg en selfingenome onvoorwaardelik kant te kies. En ek dink nie wedersydse respek en konstruktiewe gesprek is te veel gevra nie – en dit geld vir albei kante van die bekgevegte.
Miskien ontbloot dit net my eie vooroordeel, maar my ervaring is dat anti-fundamentalistiese gelowiges oor die algemeen veel meer verdraagsaam is as fundamentalistiese godsdienstiges sowel as fundamentalistiese anti-gelowiges (oftewel sekulêre fundamentaliste). Toegegee, dat ek nog geen ongelowige ’n “imbesiel” genoem het of tot ’n “ewige vuur” verdoem het nie, maak my nie noodwendig verdraagsaam (of neutraal) nie.
Enige vorm van fanaticisme (ek sluit die kapers van nie-godsdienstige gesprekke hierby in) neig natuurlik om hul aanhangers te isoleer en uiteindelik word geloofwaardigheid ingeboet – maar nie voordat heelwat skade aangerig is nie (met styl wat voorkeur kry bo substansie en meriete – swak argument, skree hard!). Geen sinvolle gesprek is gevolglik moontlik nie.
My reaksie op (en hantering van die draers van) idees, opinies en standpunte wat verskil van my eie diepgewortelde oortuigings is die lakmoestoets vir die vlak van my verdraagsaamheid. Die pynlike waarheid is dat ons nie van nature geneig is om ander se standpunte onbevange te oorweeg nie; inteendeel, meestal vind ons dit bitter moeilik om sienings wat van myne verskil hoegenaamd te probeer verstaan of te respekteer. Die cliché-agtige ek verskil van jou, maar ek sal jou reg om dit te sê met my lewe verdedig (gewoonlik toegeskryf aan Voltaire, maar eintlik deur sy biograaf uitgedink), is maar bloot ’n abstrakte ideaal.
Dit is natuurlik nie net gelowiges en ongelowiges wat onder mekaar inklim nie, maar sommer ook lidmate van dieselfde kerk wat, agterdogtig oor persoonlike motiewe, mekaar verskeur en verslind. En dit is gewoonlik nie kernkwessies nie, maar die sake op die periferie, die sogenaamde “mindere sake”, wat geensins Skrifgesag of belydenistrou in gedrang bring nie, wat lei tot verdagmakery en uiteindelik konflik. Weens ons vooroordele, oogklappe en gewaande sekerhede sukkel ons om genuanseerd oor geloofsake te dink. Ek kan nie aanvaar dat mý sienings net so voorlopig soos die ander een s’n nie – en dus net so onderhewig aan korreksie.
Vanuit die Midde-Ooste herinner ds Najla Kassab ons in hierdie uitgawe aan die verwoestende gevolge wanneer meningsverskille buite beheer raak en uitloop op haat en oorlog. Lees gerus ook dr Sanrie de Beer se pleidooi in die voorbladartikel.
So, as ek ’n wens mag hê vir ons almal vir 2025, dan is dit: Verdraagsaamheid. Ek onderneem om selfs te probeer om verdraagsamer teenoor onverdraagsames te wees. Dit gaan egter nie maklik wees nie…