Na aanleiding van die Feesdiens wat op 3 November 2024 plaasgevind het, het die Departement Sistematiese en Historiese Teologie van die Universiteit van Pretoria ’n tweedaggeleentheid aangebied by Gemeente Pretoria-Oos getiteld: Kerkwees 200: Verlede, hede en toekoms. In samewerking met die NHKA en die NG Kerk het kundiges uit diverse velde insigte gebied oor die afgelope 200 jaar tydens die konferensie op 5 en 6 November 2024. Hierdie konferensie het deel gevorm van ’n ekumeniese herdenking van die eerste Algemene Kerkvergadering wat vanaf 2 November 1824 in Kaapstad sitting geneem het.
Openingswoorde deur dr Nioma Venter het die kern vir dié samekoms omvou: die hede word ’n interpretasiepunt vir ’n heilige oomblik tussen die verlede en toekoms. Die gedeelde wortels tussen die twee Kerke skep die ruimte vir gesamentlike besinning oor die toekoms van kerkwees vanuit verskillende invalshoeke. Aanbieders het proff H van Coller, L Koffeman, J van der Merwe, WA Dreyer, D Veldsman, drr D Kuyler, G Claasen, P Kruger, G Duursema, W van Wyk, D de Bruin, A Janse van Rensburg, C Pretorius, di PC Pretorius, J Lubbe, mnre L Schoeman, en J Heymans ingesluit.
Tydens dié geleentheid is daar ook ’n Werkgemeenskap vir Historiese Teologie (WHT) gestig. Volgens prof Wim Dreyer is die doel van die WHT navorsing en publikasie van teologie-, kerk-, sending-, dogmengeskiedenis asook kerkreg en ekklesiologie. Die bestuur bestaan uit prof WA (Wim) Dreyer (voorsitter), prof Johan van der Merwe (NG Kerk) (vise-voorsitter), dr A (Antionette) Janse van Rensburg (sekretaris) en dr C (Christo) Pretorius (penningmeester).
