Een van die moderne ontwikkelinge, die boekdrukkuns, en die gevolge daarvan het meegebring dat die Bybel nie meer so skaars is as in die ver verlede nie. Daar is in elke huis ten minste meer as een Bybel beskikbaar, maar dit word ’n vraag wanneer gewonder word oor die mate waarin die inhoud van die Skrif in die wêreld en gedagtegang van lidmate in hierdie dae bepalend funksioneer.

Behalwe die inhoud, is dit ook ’n kritieke vraag hoe Bybellesers die Skrif beskou, wat die vooronderstelling sou wees waarmee die Skrif ter hand geneem word.

Krities beskou kan geargumenteer word dat die Bybel eintlik niks meer is nie as ink op papier. Daarom word die stellige argument soms gehoor dat dit nie nodig is om in die Bybel te glo nie, wat buitendien deur mense geskryf is. Dit is seker ook ’n bepaalde vooronderstelling wat gewoonlik gepaard gaan met die geloof in die God wat nie bestaan nie.

Navorsing oor die wording en verloop van die Bybel, byvoorbeeld die sinoptiese probleem, die verhouding tussen die eerste drie Evangelies, binne ’n hoogs vyandige wêreld, kom op verwondering neer dat ten spyte van alles die Bybel tog gevolg het, en al is dit nou ook hoe waar dat die Bybel fisies net ink op papier is, dit tog uiteindelik veel meer is en ver anderkant ink op papier te vinde is. Wie dit waag met die Bybel bevind hom uiteindelik voor die lewende God, en bedienaars van die Woord stel dit met oortuiging dat die Hére so sê. Indien die Bybel as Woord van God uit die kerk gehaal word, is dit wat oorbly niks meer nie as ’n menslike doenigheid wat gedoem is tot ondergang.

Die Genesis-skrywer, byvoorbeeld, het nie die skepping soos ’n verslaggewer aanskou nie, maar getuig daarvan, en sy getuienis is vervat in die byderwetse noemer van so sê die Here, so staan dit in die Bybel. Daarom het die Here nie opgehou praat nie, inteendeel. Die Here se bemoeienis met sy skepping word Skriftuurlik verwoord, maar ook hedendaags ervaar wanneer gelowiges coram Deo, in die teenwoordigheid van God, leef. Navorsing oor die Skrif wat oor eeue steeds aan die gang is, bly hoogs fassinerend en onontbeerlik, maar geskied in die bewussyn dat hoe raar dit ook al mag wees, tog met die Woord van God omgegaan word, en dat dit daarom gebeur met ’n matige versigtigheid wat in geloof bepaal word.

Die nimlike Karl Barth (1886-1968) het in sy monumentale werk die Kirchliche Dogmatik ook aan die saak aandag gegee. Hy het van die standpunt uitgegaan dat dít wat die kerklike verkondiging tot verkondiging en die kerk tot kerk maak, die Woord van God is. Die Woord van God gebeur in drie gestaltes, naamlik in die geopenbaarde Woord van God, die geskrewe Woord van God, en die verkondigde Woord van God. Die drie kan net onderskei maar nie geskei word nie. In die drie-voudigheid is die Woord van God gegee. Die verkondiging van die kerk rus op die openbaring van God, en die Skrif is die getuienis van die openbaring van God. Skriftuurlike verkondiging is getuienis aangaande die openbaring van God. Daarom is verkondiging ’n buitengewone ver-antwoordelikheid wat op die Skrif as die openbaring van God moet berus en nie op die prediker se spitsvondigheid of ervaring nie.

Die Woord van God is die openbaring van God wat oor Jesus Christus gaan. Dit is die Woord van God wat mens geword het sodat die mens as die ontvanger van sy genade al hoe meer soos God kan word. Die menslike karakter van die Bybel word oorwoeker deur die feit dat dit tegelyk God se Woord is. Jesus Christus is voluit en volledig God, maar tog gebore uit die maagd Maria. Die onderskeid tussen woord en Woord is noodsaaklik. Die Goddelike Woord word ontvang en beleef deur die menslike woord. Om die ewige Woord van God deelagtig te word, is blootstelling aan die apostolies-profetiese getuienis van die Bybel noodsaaklik. Volgens Barth moet met die Skrif dialekties omgegaan word, dit wil sê, vanuit die een hoek is die Skrif menslike woord, maar van die ander hoek gesien, God se Woord.

Die kerk staan of val met die Bybel as Woord van God in die hand en funksioneer normatief met betrekking tot alle kerklike handelinge in die hede en in die toekoms. Die Bybel is die menslike getuienis van die openbaring en word, ten spyte van hierdie menslike gestalte, daagliks en opnuut weer Woord van God. Ongeag hierdie menslike gestalte, is God se Woord God self in die heilige Skrif. Soos die Here in verhouding tot die profete en die apostels gestaan het en hulle belewenis en reaksie op die teenwoordigheid van God, is God steeds in verhouding met die kerk. Die Skrif is God se Woord deur die Heilige Gees en ’n getuienis van die Goddelike openbaring. Barth stel dat die vraag na die Woord van God in die verkondiging van die kerk opgaaf van die Dogmatiek is, die vraag na die ooreenstemming van dié verkondiging met die Skrif as Woord van God.

As in die Skrif die menslike getuienis van God se openbaring gehoor word, dan is dit terselfdertyd ook meer as ’n getuienis, meer as ’n menslike getuienis, dit is openbaring, die Woord van God self. As die Skrif die getuienis is, of wanneer gestel word dat die getuienis die Skrif is, is dit ’n kerklike getuienis wat die Skrif as kanoniek erken. Die Skrif is God se Woord aan die kerk en vir die kerk. Daaruit volg die bereidheid om die Skrif as sodanig te sien en normatief in die kerk te ag as gesag wat nie in die eerste plek kerklik is nie, maar Skriftuurlik. Indien die Skrif normatief gesien en beskou word as heilige Skrif, het ons ook te make met die getuienis van Moses en die profete, asook die Evangelies en apostels. Daarmee word die getuienis van die Ou en Nuwe Testament wat in Jesus Christus gebeur het, bedoel. Eenvoudiger gestel gaan dit oor die ware mensheid van die persoon van Jesus Christus as voorwerp van die getuienis. Hy is die vleesgeworde Seun van God wat uit die dood opgestaan het. Die Skrif getuig daarvan en bring geloof tot gevolg en is uiteindelik niks anders nie as die getuienis van God deur die Heilige Gees. Die Skrif is die bron van waaruit die Heilige Gees getuig van Jesus se opstanding en dat Hy die Seun van God is.

Die Bybel as openbaring getuig van apostels en profete en daarmee self as heilige Skrif, as die noodwendige vorm wat oor die inhoud getuig. Daarom moet kerk en teologie nie vorm en inhoud skei nie, maar vra na die openbaring van God in die vorm, die Bybel as sodanig.

Barth se Skrifbeskouing draai om God, genade en geloof. Die Bybel is nie mensegedagtes oor God nie, maar God se getuienis oor die mens. Daar is vir die kerk eintlik net een keuse en dit is die woord van God en die diens van sy Woord.

Laat ons nie te stellig wees oor die Bybel nie. Hoe onmoontlik dit ook al mag lyk en hoe menslik die Bybel daar mag uitsien, dit is God se Woord wat ver anderkant ink op papier staan.

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap