Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking – aldus artikel 16 van die Grondwet van Suid-Afrika. Die afgelope verkiesingstyd het opnuut die belangrikheid, relevansie en potensiële misbruike van hierdie reg beklemtoon.
Hierdie fundamentele reg, algemeen ook as spraakvryheid bekend, hoewel dit ook uitdrukkings soos simbole, kleredrag en kuns insluit, word wyd beskou as die spilpunt waarom ’n grondwetlike demokrasie draai.
Spraakvryheid is ongelukkig dikwels die eerste slagoffer van despotisme, tirannie en outokrasie, terwyl die misbruik van die reg op die eerste tekens van anargie kan dui. Die werklikheid is dat die beskerming en behoorlike funksionering van hierdie basiese reg onontbeerlik is vir ’n kerngesonde samelewing. Ook die Grondwethof het bevestig dat die veronderstelde gevolg van hierdie reg ’n meer verdraagsame gemeenskap behoort te wees.
Jou persoonlike standpunt oor spraakvryheid gee soms meer van jouself weg as wat jy dalk bewustelik wou, en ontbloot die vlak van jou verdraagsaamheid genadeloos. Die lakmoestoets is ons reaksie op (en ons hantering van die draers van) idees, opinies en standpunte wat lynreg verskil van my eie diepgewortelde oortuigings. Die pynlike waarheid is dat ons nie van nature geneig is om iemand se reg om van my te verskil baie hoog te ag nie; inteendeel, meestal vind ons dit bitter moeilik om ander se standpunte hoegenaamd te respekteer of verstaan. Die cliché-agtige ek verskil van jou, maar ek sal jou reg om dit te sê met my lewe verdedig (gewoonlik toegeskryf aan Voltaire, maar eintlik deur sy biograaf uitgedink), is uiteindelik maar net ’n abstrakte ideaal.
Dit is haas onmoontlik om spraakvryheid en godsdiensvryheid los van mekaar te bedink. Die reg op die vrye uitlewing van godsdiens is ’n reg wat dikwels in konflik kom met die reg op spraakvryheid. Onverkwiklike bekgevegte die afgelope jare hier te lande bevestig al hoe meer wat ons lankal vermoed, naamlik dat anti-fundamentalistiese gelowiges oor die algemeen veel meer verdraagsaam is as fundamentalistiese anti-gelowiges (oftewel sekulêre fundamentaliste) sowel as fundamentalistiese godsdienstiges (wat in sy ekstreme vorm aan ’n spesiale kategorie van boosheid behoort). Enige vorm van fanaticisme of ekstremisme het natuurlik die neiging om hul aanhangers te isoleer, en uiteindelik word geloofwaardigheid noodwendig ingeboet – maar nie voordat heelwat skade aangerig is nie (met styl wat voorkeur kry bo substansie en meriete – swak argument, skree hard!). Ironies word die reg tot spraakvryheid dikwels ingespan om die einste reg aan te val.
Soos al die regte in die Grondwet is artikel 16-regte nie absoluut nie. Alle Westerse demokrasieë plaas ’n beperking op hierdie vryheid. Iemand mag tog nie sonder rede Brand! in ’n volgepakte teater skree nie. Die reg op vryheid van uitdrukking bevat alreeds interne beperkings, soos onder andere die beperking op haatspraak wat leed aanhits, en die reg kan verder in sekere gevalle deur ander fundamentele regte getroef word of beperk word ingevolge die Grondwet se algemene beperkingsklousule.
Vir min of meer die reg om inligting vry en openbaar te deel, het Jesus in onguns verval by die owerhede van sy tyd. Vir baie eeue na Christus was spraakvryheid nie hoog op die agenda nie. Die reformatoriese vaders het die beperking op die reg om gehoor te word vreesloos uitgedaag en so ’n reuseslag geslaan vir persoonlike vryheid; hulle het egter nie noodwendig self teenspraak goed hanteer nie. Die Engelse taalfilosoof John Locke was op die voorpunt van die volle erkenning van menseregte. Karl Barth was een van die eerste sistematiese teoloë wat spraakvryheid werklik hoog aangeslaan het, maar selfs Barth was lugtig vir die risiko’s aangesien dit geleenthede kan bied vir leë, nuttelose en gevaarlike woorde om gehoor te word. Ten spyte van hierdie aanvanklike (oor)versigtigheid, wen die erkenning en beskerming van fundamentele regte toenemend veld binne die kerk. Die Christelike strewe na waarheid en menswaardigheid word by uitstek gedien deur die reg op spraakvryheid.
Die vryheid om oop en eerlik ’n opinie te lug, is ’n onmisbare stap in die soeke na waarheid – ’n waardige ideaal vir elke gelowige Christen. Enige poging om die inhoud van spraak aan bande te lê (onder andere deur middel van drakoniese muilbandwette), vermag gewoonlik niks anders nie as om die waarheid te onderdruk.
Die reg op vryheid van uitdrukking kan wel in sekere gevalle in konflik kom met die reg op menswaardigheid, maar meer dikwels is spraakvryheid juis onontbeerlik vir die handhawing van menswaardigheid. Die regsfilosoof Ronald Dworkin wys daarop dat die vrye vloei van idees wederkerig voordelig is aangesien dit die menswaardigheid van beide die gewer en die ontvanger ag. Hierdie beginsel was waarskynlik die impetus agter die (ietwat omstrede) artikel 16(1)(b) van die Grondwet wat spesifiek voorsiening maak vir “die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra” (eie beklemtoning). Om inligting, nuus, idees, opinies, kuns en navorsingsresultate van volwasse mense te weerhou, en sodoende hulle die reg te ontneem om self te kies en ingeligte besluite te neem, is nie (normaalweg) moreel verdedigbaar nie en beskik oor al die potensiaal om enige persoon se menswaardigheid aan te tas.
Met dit alles gesê, knaag die ongemak egter steeds dat die reg op vryheid van uitdrukking te maklik as ’n regverdiging gebruik word vir laakbare optrede en uitsprake wat uiters destruktief kan wees en onmeetbare skade kan aanrig, en daarom moet dit met groot verantwoordelikheid en omsigtigheid hanteer word. Al het ’n uitspraak (of enige ander vorm van uitdrukking) die beperkingstoets, soos vereis deur die Grondwet, geslaag, is dit nie ’n groen lig om te kwets, te beledig of te verkleineer nie. Betekenisvolle dialoog en diskoers hou immers altyd rekening met ander se sensitiwiteite – die reg om iets te doen, beteken tog nie ek móét dit doen nie. Ewe-eens, wat ek ’n reg het om te sê, is nie noodwendig die régte ding om te sê nie. Straks vergeet ons veels te gereeld die belangrikste deel van die reg op spraakvryheid – die reg om stil te bly.