Op Woensdag 14 Augustus het die sesdejaar teologiestudente op ’n Noordwes-toer vertrek. Dié toer vorm deel van die nagraadse diploma wat studente van die NHKA en die NGK in hul finale jaar aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Die doel van die toer is om studente bloot te stel aan verskeie bedieninge en die wyses waarop gemeentes vandag steeds die beginsel van ecclesia semper reformanda uitleef.

Ten einde dit te doen, het ons vier gemeentes in die Noordwes-area besoek onder leiding van drr André Ungerer en Kobus Myburgh. Dit was net gepas om ons toer af te skop by die oudste gemeente in die destydse Transvaal, die NHKA Potchefstroom Moedergemeente. Woensdagaand het ons oornag by die Venterskroon-kampterrein, wat deur hierdie gemeente bedryf word. Die kampterrein is ’n paar jaar gelede deur die gemeente opgeknap en dien sedertdien die breër Kerk en gemeenskap as fasiliteit vir skoolkampe, jeugkampe, bosberade en gemeentekampe. Na ’n insiggewende aanbieding oor die gebruik van vrywilligers in gemeentes, kon ons later die aand heerlik ontspan rondom die kampvuur, met gesellige kitaarspel en samesang.

 

Die volgende oggend het ons vertrek na die kerkterrein op Potchefstroom om daar verder die verhaal en bedrywighede van die gemeente te leer ken. Ons het ’n interessante video gekyk wat die geskiedenis vertel van die gemeente, wat in 1842 deur die Voortrekkers gestig is. Die gemeente het ’n merkwaardige geloofsverhaal en geskiedenis. Potchefstroom-gemeente hou vas aan hul geloofswortels as identiteitsmerker. Vanuit die sterk bewussyn van waar hulle vandaan kom, is die gemeente steeds aktief in die breër gemeenskap besig met verskeie bedieninge waaronder armoedebediening, bejaardebediening en behuisingsprojekte. Die besondere wyse waarop die gemeente werksaam is, getuig van ’n 177 jaar lange gelowige teenwoordig-wees in die wêreld.

Vanaf Potchefstroom vertrek ons na Coligny, die dorp wat in 2017 landwyd nuusopslae gemaak het. Daar het ons die NG gemeente besoek waar ds Tewie Pieters predikant is. Dit is ’n plattelandse gemeente in die ware sin van die woord, en met die eerste oogopslag na die omgewing rondom die kerkgebou, kan ’n mens jou verbeel dat jy op ’n plaas is. Die verhaal van die NG gemeente op Coligny lyk nes talle ander verhale van plattelandse dorpe. Dit is ’n verhaal van rassespanning, armoede en seer. Tog het die verhaal van hierdie spesifieke gemeente ook ’n ander kant, een wat uniek is aan ’n plattelandse dorp. Dit is ’n verhaal van versoening, herstel en hoop.

Met die gebeure wat die gemeenskap op Coligny twee jaar gelede geruk het, het die gemeente besluit om ’n rolspeler te word in die versoeningsproses. Die besondere leierskap van ds Tewie het ongetwyfeld ’n deurslaggewende rol in die proses gespeel. In plaas daarvan dat die kerk op die kantlyn staan, het die kerk die sentrum geword waarvandaan daar gewerk is vir herstel. Daar is onder andere forums gestig wat werk vir vergifnis en versoening tussen die verskillende partye op die dorp. Daarmee saam het die gemeenskap besluit om eienaarskap te neem vir hul omgewing. Die dorp se strate en geboue is geverf en tuine is gemaak. Verder fokus die gemeente op die spesifieke uitdagings van die plaaslike gemeenskap, veral armoede en die uitwerking daarvan. Hierdie gemeente het besluit om teenwoordig te wees in die plek waar hulle geplaas is, en dit het die wêreld se verskil gemaak in Coligny.

Nadat ons Coligny se verhaal van hoop aangehoor het, het ons reis deur Noordwes ons na Rustenburg geneem – ’n donker plek wat die lig wat hoop bring, broodnodig het. Die NG Moedergemeente op Rustenburg het hierdie nood raakgesien en besluit om iets daaraan te doen. Die gemeente het ’n pragtige kerkgebou en ’n aangrypende geskiedenis. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is die kerkgebou gebruik as ’n hospitaal. Dit het die motivering geword vir die gemeente se dienswerk: Hulle wil ’n hospitaal vir die gemeenskap wees wat genesing bring in ’n stukkende wêreld. Die gemeente bedryf die Vision of Hope Foundation wat verskeie bedieninge in die gemeenskap behartig. Daar is onder andere bedieninge aan skole, mishandelde kinders en die Route 41-inisiatief wat ’n third space bied waar tieners weg van die skool en die huis kan kuier en terselfdertyd ook aan ’n geloofsgemeenskap kan behoort.

Rustenburg is een van die hoofstede in Suid-Afrika wat mensehandel betref. Daarom dat een van die gemeente se bedieninge ’n straatbediening is. Ons het die voorreg gehad om die Donderdagaand saam met die predikante van die gemeente Rustenburg se strate in te vaar. Daar het ons gebid vir die straatvroue en selfs vir ’n pimp en dwelmhandelaar of twee. Ons besoek aan Rustenburg het ons oë oopgemaak vir die lelike kant van die lewe. Dit laat ’n mens besef hoeveel gebrokenheid en nood daar buite is. En dit het ons met die kritiek belangrike vraag gelaat na wat die kerk se rol in hierdie stukkende wêreld is.

Met groot ontnugtering het ons ons reis die volgende dag na Brits voortgesit. Daar het ons die NG gemeente se unieke bediening by een van die plaaslike myne besoek. Dié bediening is tekenend van ’n missionale bedieningspraktyk waar die kerk na die wêreld gaan – daar waar mense leef en werk. Hier worstel die kerk saam met die mense by die myn met kommer oor werkverlies en hul toekoms. Die gemeente kan daarom, deur ’n eenvoudige erediens, teenwoordig wees in hierdie mense se lewens en op so ’n manier hoop bring. Die gemeente op Brits het dit reggekry om ’n bediening te ontwikkel wat relevant is vir die konteks van die gemeente en om op hierdie wyse geloofwaardig kerk te wees.

Dit was ’n volgepakte drie dae op die spore van missionale kerkwees. Oral waar ons gegaan het, is ons met gasvryheid ontvang. Oral waar ons gegaan het, het ons kerkwees beleef. In terugskoue was dit ’n besondere belewenis om op hierdie punt van ons studies blootgestel te word aan uiteenlopende bedieningsmodelle. Dit is opvallend hoedat elke gemeente unieke bedieninge het wat pas by die konteks en omstandighede van die gemeente. Dit is ook opvallend dat die gemeentes nie groot dinge met groot fanfare doen nie. Die gemeentes is besig om met beskeie bedieninge ’n groot verskil te maak in hul omgewings. Dit is uiteindelik wat dit beteken om voortdurend te hervorm en missionaal kerk te wees. Dit gaan daaroor om voortdurend op nuwe wyses met integriteit teenwoordig te wees in die gemeenskap. Dié teenwoordigheid vind gestalte in God se barmhartigheid en liefde. Op hierdie wyse is die kerk besig om die koninkryk van God in die wêreld te beliggaam.

Die Noordwes-toer het net weer bevestig dat daar hoop is te midde van hopelose omstandighede. Elke gemeente het dit reggekry om ’n baken van hoop te wees waar hulle werksaam is. As Kerk in die 21ste eeu in Suid-Afrika is dit ons taak om van die Hoop wat in ons leef, te getuig en om hierdie hoop ’n werklikheid te maak vir almal.

By NHKA Potchefstroom
By Rustenburg
Hulp met kosprojek by NGK Brits
NG Kerk op Coligny
Preekstoel van Gemeente Rustenburg
af
af
Deel met behulp van
Copy link